Deur Anet Schoeman. Foto: Kampus Production vir Pexels
Jy begin van jou spiermassa verloor sodra jy die middel van jou twintigerjare bereik,” sê Mari Leach, ’n biokinetikus. En die enigste teenvoeter is gereelde oefening. Volgens Mari behoort ’n mens minstens 150 min. per week te oefen, ingedeel in vyf sessies van 30 min. per week.
“Dit moet kardiovaskulêre oefening insluit wat jou hartklop opstoot, asook weerstandsoefening, wat die gebruik van gewigte of rekbande insluit wat die spiermassa verbeter. En ’n stappie deur die winkels tel nie as oefening nie! Dis beter as niks, maar jou hartklop moet styg voor dit oefening is.
“Die ideaal is om van jongs af ’n sportsoort te kies wat jy geniet. Op dié manier voel die oefening soos pret en nie soos ’n straf nie.” Dis ook die ideale manier om sosiaal te verkeer en pret te hê. Oefening stel endorfiene (die hormone wat jou vrolik laat voel) vry en help jou boonop om vriende (of selfs ’n lewensmaat) te ontmoet.
“Oefening verbeter spiermassa, wat alledaagse take vergemaklik, en dis veral belangrik vir die onafhanklikheid van bejaardes. Dit verbeter ook jou konsentrasie en laat jou lekkerder slaap. Maar dis baie belangrik dat enigeen wat lank laas geoefen het, eers ’n dokter gaan spreek om seker te maak dat jy gesond genoeg vir oefening is.”
Die verskonings
• Ek was nog nooit sportief nie “Mense leef met die gedagte dat net sekere mense sportief is en dat dit te laat is om op sewentig die eerste keer te begin oefen,” sê Mari. Sy glo ons is almal in die wieg gelê om te beweeg en aktief te wees, en uit studies het dit geblyk dat oefening op ’n rype ouderdom groot voordele inhou. “Dis veral mense wat nog nooit geoefen het nie wat die grootste voordeel kan verwag. Dis die eerste keer dat hulle aktief raak en dit gaan ’n groot verskil aan hul fisieke en emosionele gesondheid maak.”
• Ek het swak knieë, heupe … “Daar is verskeie soorte oefening waaruit jy kan kies. Gaan spreek ’n biokinetikus (vra by jou naaste gim) om vir jou die regte oefeninge vir jou bepaalde besering of probleem voor te skryf,” sê sy.
• Ek het ’n knie-/heupvervanging gehad Die goeie nuus is dat oefening die spiere om die knie of heup versterk en die las op die vervanging verminder, wat sal verseker dat die vervanging langer hou.
• Ek het osteoartritis Pynlike gewrigte maak oefening moeilik, maar gereelde oefening gaan help om die spiere om die gewrigte te versterk en so die las op die gewrigte en gevolglik ook die pyn te verminder.
Lees ook: Haal die angel uit artritis
• Oefenklasse is te duur of buite bereik: Mari sê dis makliker om in ’n groep onder toesig te oefen, maar as dit nie moontlik is nie, kan jy altyd alleen oefen. Al wat jy nodig het, is ’n paar goeie oefenskoene vir flink stap, asook ’n rekband vir weerstandsoefeninge (te koop by ’n biokinetikus, fisioterapeut of sportwinkel). Maak een afspraak by ’n biokinetikus (jou mediese fonds kan dalk hiervoor betaal) om vir jou ’n program uit te werk, en al wat jy daarna moet doen, is om daagliks ’n bepaalde tyd vir jou oefeninge in te ruim. Joga en dans is ook uitstekende alternatiewe.
Verbeterde fiksheid, hoe gering ook al, het ’n groot uitwerking op jou algemene gesondheid, en kan jou selfs langer laat leef
Hoekom kardio?
As jou kardiovaskulêre fiksheid laag is, is jou risiko om vroeg dood te gaan aansienlik hoër. Studiebevindings dui daarop dat selfs net ’n effense verbetering van hierdie fiksheid, jou risiko met tot 25% kan verminder.
#rrwenk: Verbeter jou balans
Balans is net so belangrik soos fiksheid omdat dit jou reaksies verbeter en keer dat jy maklik val en dalk ’n ledemaat breek. Balans is gelukkig iets wat jy kan aanleer en maklik kan verbeter. Mari raai aan dat jy op ’n veilige plek begin. Staan in die hoek van ’n vertrek sodat jy jou teen die mure kan stut as jy jou balans verloor. Maak seker dat daar nie skerp voorwerpe en meubels naby is wat jou kan beseer nie. Staan nou op een been en probeer om die posisie vir een minuut te hou. Verander dan na die ander been. Maak die tydperk langer namate jou balans verbeter. Jy kan ook later probeer om die enkel van die been wat in die lug is, in die rondte te draai.
Studiebevindings
Altesaam 245 bejaardes tussen 65-91 het as deel van ’n groot navorsingsprojek in Australië, Muscling Up Against Disability, krag- en balansoefeninge onder toesig gedoen. Ná ses maande het die gemiddelde spierkrag in hul bolyf, kern en onderlyf meer as verdubbel. Die bonus was dat almal minder neerslagtig en angstig was en ook aansienlik minder geval het. Die interessante aspek was dat die mense wat die swakste was, die meeste voordeel uit die projek getrek het. Die bevindings van ’n ander studie aan die mediese fakulteit van die Yale-universiteit in Amerika waarvoor 1 600 bejaardes ’n program gevolg het wat stap en kragoefeninge insluit, het getoon dat hulle nie net sterker en gesonder was nie, maar dat hulle vinniger van bestaande beserings en siektes herstel het. Hulle het ook nie weer so maklik siek geword of beserings opgedoen nie.
Lees ook: Ses oefeninge vir vroue bo 40