My eerste ontmoeting met iemand met demensie was in die dae toe ek nog diaken was en moes gaan kollekteer, ook by tannie Rose en oom Piet. Sy so lief en sag soos haar blomnaam, en hy ’n regte dirty old man wat boonop godslasterlike aanmerkings gemaak het. Daarna het ek en tannie Rose maar oor die tuinhekkie gekuier – taktvol deur haar voorgestel. Nogals gereeld, want sy was ’n intelligente vrou met ’n gesonde sin vir humor. Sy het dikwels van oom Piet gepraat maar na hom verwys as HY. Met nadruk, al vertellend van die vreeslike ongure dinge wat hy op sy ouderdom probeer aanvang. Het ek – en ons dorpie – toe maar verstaan sy gedrag was tipies van emosionele demensie, het ons nie so aanstoot geneem nie. En het oom Piet dalk sy lewe met meer waardigheid afgesluit.
Dis ’n menslike vrees
… dat die ouderdom ons die onwaardigheid van demensie sal aandoen. Karen Borochowitz, direkteur van die NRO DementiaSA, wat hulle toespits om mense met demensie te ondersteun, troos dadelik. “Dit gebeur met ’n relatief klein aantal bejaardes. Ja, ons breine gaan agteruit en ons raak almal tot minder in staat. Demensie ontwikkel net by dié van ons wat nog nie ons emosionele lewenstake voltooi het nie. “Die ou-ou persoon is eintlik dringend besig om te kommunikeer maar omdat sy brein nie meer in die hede sien, hoor en praat nie, gryp dit terug na die verlede. Daardie frases, brokkies en optredes is kodes wat ons moet probeer ontsyfer. Sodra ons dit regkry, is die persoon ‘gehoor’ en word sy behoefte vervul. Dit skep by hom die rustigheid van normale veroudering. Wáárdig, tevrede en vervuld. Byna almal van ons kán so normaal verouder. Vir my is die sleutel ’n betreklike nuwe tegniek wat ‘validasieterapie’ genoem word.” Maar ons leef in ’n omgewing waar selfs talle versorgers onkundig is – en dit bekommer Karen. “Die swart tale het nie eens ’n woord vir ‘demensie’ nie.
Ons het ’n groot stryd om die konsep onder party plattelandse gemeenskappe tuis te bring: hulle sien demensie as heksery, en vandag nog word van hierdie oumense selfs gestenig. “Party professionele versorgers dink steeds bejaardes moet met beloning en straf, net soos kinders, ‘reg’ geleer word. Dit terwyl hulle nie meer die vermoë het om die ‘les’ te leer nie. Bejaardes word steeds vas-gebind, eerder as om te verstaan waarna hulle soek. En vanselfsprekend is die meeste kinders heeltemal onervare as dit by ou ouers kom. Al verstaan jy dat ouderdom die rede is vir jou ma of pa se gebrabbel, verwardheid, onredelike eise, herhalings, emosionele uitbarstings, aggressie, onredelike beskuldigings, verlies aan inhibisie en vreemde en dikwels kwetsende stellings, bly dit moeilik om dit sinvol te hanteer – en soveel te meer omdat jy terselfdertyd jou eie hartseer moet verwerk. “Ek wens met my hele hart almal kan die validasietegniek aanleer. Dis ongelooflik helend vir die kinders wat op ’n manier hul ouer ‘terugkry’ en weer sinvol kommunikeer, al is dit op ander terme as tevore. Die wonderlikste vir my is die heling en vrede wat die mens ervaar as hy weer veilig en geliefd voel.” Naomi Feil, moeder van die validasietegniek wat reeds wyd in die Weste gebruik word, demonstreer in haar boek met talle werklike gevalle hoe oumense wat reeds “weg” was, gehelp word om weer woordeskat te kry en hoe party wat reeds vegetatief was, weer sinvol reageer, al gebruik hulle die verwysingsraamwerk van hul gedagtewêreld.
Hoekom verloor ou mense dit?
Terug by die boek: Die skrywer, Naomi Feil, sê dat wat ons demensie noem, eintlik vorms van disoriëntering is. Demensie is nie maar net ’n fisieke, mediese diagnose nie. Dit het implikasies ook vir die sosiale, sielkundige en emosionele kwessies waarmee die mens worstel. Sy glo mense met die grootste emosionele bagasie is die ergste gedisoriënteerd. Dié emosionele bagasie spruit uit ons vroeëre lewensfases, en is gegrond op een van die bekendste sielkundeteorieë wat lui dat jy in elke lewensfase ’n taak moet afhandel: As babas leer ons dat ons waardevol is deurdat ons ma vir ons lief is en ons vertroetel. As kinders leer ons vertroue in ons vermoëns deur alles te probeer leer wat ons kan. As tieners moet ons ons losmaak van ons ouers en onafhanklik raak; ons doen dit deur te rebelleer. As volwassenes is ons taak om ’n liefdesverhouding met iemand op te bou. In die later jare moet ons leer om die teenslae te kan vat: ons verloor ons gesondheid, of ’n huweliksmaat, of ons gehoor of werk, of al vier. Maar ons gaan kompromieë aan en kry op nuwe maniere sin, en ons sien die lewe is steeds goed.
Ou-ou mense, sê Naomi, moet nog een laaste taak afhandel, en dit is die regverdiging van hul lewe. “Ons wil kan sien wie ons wás en ons wil tevrede voel met wat ons bereik het. Ons wil weet ons lewe was die moeite werd en ons het liefgehad en is ook liefgehê. “Die diep ingebore mensewysheid dwing jou om elke lewensfase se taak af te handel. Onafgehandelde take skuif oor na die volgende fase … en uiteindelik kom party van ons eers as baie ou mense daarby uit. Vir hulle is die afhandeling van hierdie taak/take dwingend noodsaaklik voor hulle vrede kan kry.”
Dié wat daarin slaag, is rustig en geniet wat die lewe hulle nog kan bied, al is dit ingeperk. Dis die oumense met onafgehandelde take wat “moeilik” is.
“Die rede is voor die hand liggend: hul vermoë om hulself uit te druk is verlore weens die agteruitgang van die brein. Hulle probeer so goed hulle kan met die middele tot hul beskikking: die beelde en woorde uit hul jonger lewe waartoe hulle nog toegang in hul brein het. “Ons verstaan dit nie, en daarom kan ons hulle nie help om regverdiging te vind nie. Hul onsuksesvolle pogings ly tot frustrasie, woede, skuldgevoelens, vrees en hartseer, en swaai geleidelik om in wanhoop, dan depressie en uiteindelik in algehele onttrekking – daardie fase waarin hulle nie meer kan kommunikeer nie en bloot vegetatief is.”
Naomi leer ’n mens die beginsels van validasie: dus hoe om die bedekte behoefte te eien en verskillende tegnieke in te span sodat die mens op ’n manier wat nog tot hom spreek sy emosie uitdruk, hy homself sy foute vergewe, sin maak van sy harde werklikheid, homself erkenning gee vir sy suksesse, selfwaarde vind, ’n nuwe sin vir veiligheid verkry en weer geliefd en in ’n liefdevolle kring mense-kontak ervaar.
Sou ek oom Piet met selfs net ’n bietjie begrip beter kon hanteer? Waarskynlik. Ek het geweet hul kinderlose huwelik was nie juis gelukkig nie. Te verstane, want hy het dekades lank ver van die huis af gewerk. ’n Ru lewe wat baie anders was as in die erfstuk-belaaide tuiste wat tannie Rose geskep het. En ek het geweet tannie Rose het ’n affair gehad. Was sy kru maniere dalk ’n poging om te sê “ek is dit werd om ’n eggenoot te wees?” Was die vloekwoorde ’n simptoom van sy opgekropte frustrasie oor sy onvoltooide lewenstaak en sy spyt en rou oor sy mislukte huwelik wat hy nie beter kon verwoord nie? Sou validasie hom kon help om vrede te maak? Sou hy met ’n bietjie aanmoediging kon insien dat hy wel bygedra het om hul lewe te finansier en op daardie manier ’n goeie eggenoot was?
’n Paar tegnieke
Om validasie reg toe te pas, moet jy die verskillende soorte disoriëntasies verstaan – veels te veel om in ’n kort artikel deur te gee. Maar hier is enkeles:
• Maak oogkontak en gebruik ’n duidelike, lae stemtoon.
• Praat altyd met groot respek en liefde. Jy wil immers hom opregte erkenning gee (validate) sodat hy homself kan regverdig, vergewe en aanvaar.
• Moenie stry oor die feite soos hy dit sien nie. Sien dit eerder as ’n boodskap in ’n kode wat vir hom sin maak. Hy sê iemand steel sy motorsleutels maar eintlik vrees hy dat hy sy motor en onafhanklikheid gaan verloor; vra liewer uit wat hy nog bang is om te verloor.
• Probeer die emosionele behoefte verstaan: is daar dalk ’n lewenstaak wat nog voltooi moet word? ’n Emosionele konflik, vernedering of kwelling wat verwerk moet word? Erken liewer sy oplossing vir wat dit is: die beste een waartoe hy in staat is.
• Moenie probeer reghelp nie (“Ma, dis ek, Rietie”). Sy sien jou op die oomblik as iemand anders met wie sy dringend wil kommunikeer. Stel liewer vrae wat daarmee help, soos die tipiese wie, wat, waar, wanneer en hoe vrae. (“Wat wil Ma vir haar sê?” “Waar was julle dan?” “Hoe het dit gebeur?”)
• Herfraseer die woorde op ’n manier wat die behoefte uitdruk. l Herleef sy herinneringe saam met hom. Dis baie werkliker as wat vandag rondom hom gebeur.
As jy raadop is oor ’n ouer se optrede, kyk besoek www.dementiasa.org. Dis vol deernisvolle, praktiese wenke.