In die klipstraat maal die toeriste-mensestroom ongeërg in restaurantvensterweerkaatsings verby. Hulle is soos miere op trek. Vandag hierdie stad, more dáárdie stad op hulle kerfstok afgemerk. Die reis gaan vlietend verby soos hulle menigte voete nuwe spore oor vergange ou verledes trap.
Op die restaurant se straatterrras sit drie manne. Drie boers. Hulle drink koffie en tee by die tafeltjies wat spesiaal vir hulle gereserveer is. Eenmaal elke jaar kom hulle hier bymekaar. Aanstonds sal nog twee broers by hulle aansluit. ‘n Sesde vriend is daar nie meer nie. Die oorlog het hom weggevat. Dis sy verjaardag wat hulle hier kom herdenk.
Die gesigte wat die ingekeepte merke van die tyd dra spreek meer as wat hulle praat. In hulle oë is daar net so ’n ver kyk van dwalende gedagtes oor tye wat eens was.
Ja, dit was nie altyd ‘n maklike pad tot hiertoe nie. Tyd het hulle baie wysheid gebring en nog meer wysheid in die begraafplase ter ruste laat lê.
Dis steeds soos die Nederlandse volksdigter Vondel gesê het – Die wêreld is ‘n speeltoneel, elk speel sy rol en kry sy deel.
Die vensterrame is toe. Toe op eeue se gryse verlede. Die skarniere is geroes. Die hake wat die versters moet oophou in die wind lank nie gebruik nie. Die hout van die rame al erg verweer. Die toekoms kan alleen nog deur die vensterglas gesien word.
As jy wat met jou toeristeskoene bolanges op die muur van Dubrovnik se ou stadsmuur loop fyner oplet, sal jy merk dat meeste van die dakteëls nuut is. Jy sal ook merk dat baie geboue nuut gepleister en geverf is. As jy nog skerper kyk sal jy gate in sommige mure sien wat deur geweerskote veroorsaak en net toegepleister is sodat, hoewel die gate nie meer daar is nie, die herinnering daaraan tog nie uitgewis word nie.
Die ou stad het veel te ly gehad onder Kroasië se onafhanklikheidsoorlog van 1991 tot 1995. Die vrees wat die verwoesting nagelaat het in rommel op straat en waar geboue deels inmekaar geval het, is byna geheel uitgewis deur ‘n verbasende renovasieprojek. Die toeriste wat almal vrolik en amper onwetend van die verlede in winkeltjies, op straat en in kafees en restaurante rondkuier bring soveel opwinding met hulle mee dat die inwoners van Dubrovnik se ou stad vir wyles skoon van die hartseer van die oorlog vergeet.
Hierdie mense wat baie gely het dra egter diep in hulle harte die wysheid van “Obliti privatorum publica curate” – Vergeet van privaat aangeleenthede en skenk aandag aan publieke sake wat die stabiliteit van hierdie klein staat handhaaf.
Met hierdie wysheid het Dubrovnik die hele wêreld bevriend en vergewis van hulle sterk geloof in hul nuutgevonde vryheid wat hulle vir geen goud in die wêreld sal verruil nie. Dis in die gees van hierdie vryheid dat hulle al die aantreklikhede in die ou stad van Dubrovnik elke dag steeds graag met ‘n menigte toeriste uit verre lande deel.