Karlien van Jaarsveld
Karlien en haar eks-man, Derick Hougaard, oud-Springbok-losskakel en Loftus se Liefling, het saam tweelingseuntjies. Die spannetjie is drie weke te vroeg gebore.
“Dis vir my so stresvol wanneer een van my seuntjies huil dat dit voel of my hart uit my borskas wil klim. Ek voel so hulpeloos dat ek maar die meeste van die tyd saamhuil. Ek bel gewoonlik my skoonsus en boesemvriendin, Annatjie van Jaarsveld, wat ’n buitengewoon kalm mens is en te midde van enige storm planne kan maak. En as niks werk nie, het sy Rescue-druppels byderhand!
“Maar as alles te veel word, bel ek my ma wat enige tyd gewillig is om te kom help en ’n huilende baba uit my arms te neem. Tog wil ek hom dadelik terugvat omdat dit altyd voel asof ek, sy ma, steeds die beste vir my baba kan doen en die liefde kan gee wat hy nodig het. En moenie van Google vergeet nie, dit het my al ’n paar keer gehelp! Verder sou ek ook verlore gewees het sonder my baie oulike nagsuster, Sophia. Sy is ’n engel en ek luister meestal na haar raad.
“My ma het my die eerste twee weke kom help en my skoonma, Riana, het daarna van Piketberg af gekom om hand by te sit. Dit was vir Derick ’n ekstra bonus, want sy ma maak heerlik kos. My ma kom nou nog een keer per week uithelp sodat ek tyd kry om goedjies vir die huis te koop. Oumas is tops en nie naastenby so kwaai as wat ons hulle as ma’s geken het nie!
“Die beste raad het ek by my skoonsus, Annatjie, gekry: ‘’n Ma weet beter as enigiemand anders wat vir haar kinders reg is.’” Jy kan maar weet dat almal se goed bedoelde raad jou baie kan verwar. Glimlag liefies, maak of jy nog nooit daarvan gehoor het nie, sê dankie, en volg liewer jou eie instink.
“Die liefde wat my oorrompel het toe die babas net ná geboorte op my bors gesit is, is onbeskryflik. Ek het toe ook oombliklik verstaan hoe lief my ouers my moes hê en hoe lief God ons het.”
Minki van der Westhuizen
Minki en haar rugbyspeler-man, Ernst Joubert, se Katerien is in Julie 2013 gebore. Hulle bly in St. Albans in die noorde van Londen waar hy vir die Saracens-klub rugby speel.
Hoewel Minki ver van die huis is, het sy ’n wonderlike groep vriendinne in St. Albans, almal met babas van min of meer Katerien se ouderdom wat mekaar met raad en daad bystaan. “Ons het selfs ’n group chat waar jy enigiets kan vra en onmiddellik vyf verskillende antwoorde gaan kry. Dis wonderlik, want hierdie mammas beleef presies dieselfde kwessies waarmee ek in daardie stadium ook sukkel. Hul raad is gewoonlik spot on.
“Ek het ook baie baat gevind by babatydskrifte. Die artikels en inligting is baie relevant. Dis moeilik om soms te besluit wie se raad om te volg – ’n mens voel so dom. Veral as jy ’n nuwe mamma is en boonop ver van die huis af bly. Ek dink baie keer dat jou eie aanvoeling tog maar die beste is. Moedersinstink bly ’n sterk emosie en ek maak beslis op myne staat.
“Vir alledaagse dinge sal ek my vriendinne met babas vra, maar ai, as dinge regtig skeefloop en ek op moedverloor se vlakte is, bel ek huis toe. Dan is my ma die enigste een wat kan help.
“Ek was baie gelukkig dat my ma en skoonma hierheen gekom het om te help. My ma het ’n maand ná die geboorte gekom en daarna het my skoonma ook kom kuier. Dit was heerlik.
“Een van die beste lewenswaarhede oor kindgrootmaak is, ‘geniet elke oomblik, want hulle word te vinnig groot.’ En die beste ding wat ek geleer het en graag vir ander nuwe ma’s wil sê, is dat ’n normale geboorte fantasties is. Dis hoe dit hier in Engeland gedoen word. My lewe lank het almal my gewaarskudat my pelvis te klein vir normale geboorte is, maar ek het dit nogtans reggekry. Dis die beste (en verreweg die seerste) ding wat ek tot nog toe beleef het! Dis ’n gevoel wat jy vir niemand kan beskryf nie. Ek is so geseënd dat ek een van God se wonderwerke kon beleef. Ek sal alle vroue aanraai om normaal te probeer kraam. Dis ongelooflik bemagtigend.
“’n Nuwe baba is ’n groot aanpassing en dis ongelooflik dat jy net eenvoudig die reserwes het om alles te kan hanteer. Dit maak jou baie nederig wanneer jy besef wat jou eie ouers vir jou opgeoffer het en hoe lief hulle jou het. En dit ervaar jy eers ten volle wanneer jy jou eie baba vashou. Ouers is fantastiese goed!”
Dawn Matthews
Die koms van ’n nuwe baba is ’n oorweldigende ervaring en ek was maar effe senuweeagtig toe ek eers op 35 swanger word. My familie is ver en ek moes noodgedwonge op my meer ervare vriendinne se raad staatmaak,” vertel Dawn.“Gelukkig het baie van hulle ook eers in hul middel-dertigs babas gekry en ek kuier dikwels saam met hulle. My ma is ongelukkig lankal oorlede maar my skoonma en een van my ma se susters het ná die geboorte kom help.
“‘Dr. Google’ het my ginekoloog mal gemaak! Maar met al daardie inligting tot jou beskikking, hoekom nie? Dit het my beslis heelwat gehelp.
“Die min slaap en harde werk bring mee dat jy maar bitter min tyd vir jouself het. Jy kom ook agter wat dit beteken om iemand onvoorwaardelik by te staan, maak nie saak hoe moeilik dit gaan of hoe moeg jy is nie.
“My beste vriendin, Nadine le Roux, is my steunpilaar wanneer ek moeg en moedeloos is. Ander kere het ek maar saam met klein Jesse gehuil en gebid dat Klaasvakie meer sal kom kuier. Ek het ook intussen geleer dat jy maar moet vasbyt en deurdruk en onthou dat die moeilike tye nie vir ewig aanhou nie.
“Leer om jou eie oordeel te vertrou. Kinders verskil van mekaar en jy is in die beste posisie om te besluit wat vir jou baba gaan werk. Die beste raad wat ek gekry het, is dat jy een dag op ’n slag moet leef. Dinge verander feitlik daagliks en môre lyk vandag se probleme weer beter. En onthou tog om nie te veel te koop nie. Leen waar jy kan, want babas groei bitter vinnig.
“Ek wens ook ek het vroeër in my lewe besef hoe bitter lief ouers hul kinders het. Dit was vir my ’n openbaring toe ek dit ook ervaar het.”
Mandi Baard
Jeandré beteken ‘God is genadig’ en dit was die eerste naam waarvan ek én my man, Schalk, gehou het. Boonop het dit ons gevoelens op só ’n besonderse geleentheid verwoord.”Maar dinge het aanvanklik nie so glad verloop nie.
’n Beplande keiser het in ’n noodkeiser ontaard – ’n week vroeër as beplan – en twee dae later het ’n bakteriële infeksie haar so siek gemaak dat sy nie eens kon borsvoed nie.
Dit het tien dae geduur voor Mandi sterk genoeg was om na haar klein wonderwerkie om te sien.
“Die vroeë geboorte het wel sy komplikasies gehad, maar die hoeveelheid liefde en ondersteuning waarmee ons oorlaai is, het ons deur die krisis gedra. Boonop is Jeandré op Schalk se verjaarsdag gebore. Gelukkig het my ma by ons kom bly en sy en Schalk het ’n gedugte span gevorm. Ek en my ma is baie na aan mekaar. Sy is my beste vriendin en my hero en as iets aan ons kant skeefloop, is sy op die volgende vliegtuig om te kom help. Schalk is ook baie na aan sy ma en pa en hulle is my tweede ouers.
“My skoonma kom slaap gereeld hier om na Jeandré te kyk sodat ek kan ontspan. Ek het geleer dat dit wonderlik is om ’n ekstra paar hande te hê wat kan help, maar die emosionele ondersteuning is selfs belangriker. As alles vir my te veel word, is my ma die eerste een wat ek bel. Ons gesels so ’n bietjie, ek stort ’n paar trane en sy praat my moed in. Daarna voel alles weer beter. Wanneer jy aan die einde van jou kragte is en gemiddeld twee uur per nag slaap, kom jy eers agter dat jy veel sterker is as wat jy ooit besef het. Dis wanneer jy met diepe dankbaarheid besef wat jou ouers vir jou gedoen het.
“Ek het vier wonderlike vriendinne wat altyd regstaan met praktiese raad. Maar vir die ernstige krisisse bel ek my ma of skoonma.
“Wanneer jy jou ore aan almal uitleen, kan die raad verwarrend word. Uit radeloosheid met Jeandré se koliek het ek in ’n stadium na elke grashalm gegryp. Tot ek op ’n dag besef het dat as daar iets was wat werklik gewerk het, sou g’n baba met koliek sukkel nie. Noudat ek meer ervaring het, besef ek ook dat ’n ma moet leer om haarself te vertrou.
“Die beste raad wat ek gekry het, was dat jy net ’n goeie ouer kan wees wanneer jy ook na jouself omsien. Dis belangrik om tyd vir jou en jou eggenoot te maak en nie net op die baba te fokus nie. Vyf weke na Jeandré se geboorte het ek en Schalk een nag uitgeslaap om ’n troue by te woon en dit was wonderlik vir ons verhouding.”
Aletté-Johanni Winckler
Aletté is met die eerste Idols-wenner, Heinz Winckler, getroud. Ons vang haar op ’n drafstap, net mooi ’n week ná haar derde seuntjie, Reuben, gebore is. “As jy na almal se raad luister, gaan jy beslis iewers kop verloor. Vriende het vir ons die goeie raad gegee om een of twee mense te identifiseer na wie ons gaan luister. Ons staatmaker was tannie Anna Cronjé, ’n gekwalifiseerde suster en vroedvrou. Sy het ons so baie met ons eersteling, Lian, gehelp.
“Ons is ontvanklik vir ander se raad en luister na ons ouers, familie en vriendinne, hoewel ons nie altyd saamstem nie. Tog glo ek niemand ken my kind soos ek nie. En as dinge regtig skeefloop, bel ek my ma. Daar is maar net niemand soos jou eie mamma nie! Sy is Superwoman en sy en my pa het hul lewe twee maande lank ontwrig om ons te help trek en met die geboorte by te staan. Hulle sal seker nog ’n maand bly voor hulle teruggaan Vrystaat toe. Ai, ek gaan hulle baie mis!
“Die wysste raad wat ons gekry het, was dat jou kind gaan word wat jy oor hom spreek. As jy negatief is en jou kind met vieslike aanmerkings afjak, kan dit sy koers in die lewe verander. Spreek lewe en wees positief en jou kind sal blom.
“Die ander belangrike ding wat ek geleer het, is dat jy nie ander ma’s moet oordeel nie. Nie almal kan by die huis bly om kinders groot te maak nie. In baie huishoudings moet albei ouers noodgedwonge werk. Mense benader dissipline elkeen op sy of haar eie manier en jy weet ook nie wat daardie ma op ’n emosionele vlak beleef nie. Bied eerder hulp aan as jy sien iemand kry swaar pleks van te oordeel.”
Charlene Lackay
Mens dink jy weet alles, maar as Baba eers daar is, is alles onderstebo!” Charlene Lackay van Pasella het vroeër by ’n babatydskrif gewerk en met haar swangerskap was sy verlig dat sy daar al so baie oor babas geleer het.
Dié kennis het haar goed te pas gekom toe sy met hardnekkige brandboudjies moes klaarspeel, of die beste krampdruppels moes kies, maar sy het baie gou agtergekom dat hierdie probleme onbenullig word wanneer jy twee-uur in die oggend ná vele onderbroke nagte sukkel met ’n baba wat om die dood nie die bors wil vat nie.
“In sulke tye was my vriendin, Yvonne, se emosionele ondersteuning my anker. Ek kon haar in die middel van die nag BBM, want sy was in dieselfde posisie as ek en tien teen een ook wakker! Mia is vroeg gebore én ’n koliekbaba. As jy moedeloos en pootuit is, is dit belangrik dat iemand jou kan help om kalm en positief te bly en jou te herinner dat ’n nuwe baba ’n wonderwerk is.
“Die beste raad wat ek gekry het, was dat dit nie saak maak hoe erg dinge ook al lyk nie, dit gaan ook verby. ’n Eerste baba kan jou oorweldig en dis goed om dié wysheid in gedagte te hou.
“Ek het ook met die verloop van tyd geleer om my instink te vertrou en te ontwikkel. ’n Ma ken haar baba die beste en sy kan aanvoel wanneer iets fout is. Ek glo ’n vrou groei in haar rol as ma. Dis ’n proses wat begin met daardie oomblik van verwondering en oorweldigende liefde wanneer jy jou baba die eerste keer vashou.”
Sy sê dit is juis daardie verblindende liefde wat haar laat besef het hoe lief haar ma haar gehad het en hoe God haar as Sy kind liefhet. “My ma is ongelukkig voor my baba se geboorte oorlede en ek het haar geweldig gemis toe ek my eie kind moes grootmaak. Maar nou voel dit of Mia hierdie gemis ligter maak omdat sy amper ’n skakel met my ma is.”