Sorg vir die volgende in ’n kosblik
- ’n Koolhidraat, soos brood of pasta.
- ’n Proteïen, soos rooivleis, hoender, eier of vis.
- ’n Kalsiumryke item, soos kaas, jogurt of melk.
- Minstens een vrug of groente.
- En daar moet darem ’n verrassing soos koekies of droëvrugte wees – verkieslik iets wat nie te hoog in rietsuiker is nie.
Dis lekker en gerieflik om pasta saam met ander oorskietkos in te span, en dit kan baie aantreklik voorgesit word. Kook aan die begin van die week penne pasta, spoel die pasta onder die kraan af tot heeltemal koud, giet genoeg olyfolie oor, verdeel in porsies en hou in plastieksakkies in die yskas. Gebruik wanneer benodig. Maak die twee souse (sien onder) ook al die naweek.
Laat oorskietkos, en dit wat jy in die koskas het, jou ook hier inspireer om nuwe variasies te probeer.
Suurroompastasous
- 15 ml (1 e) olyfolie
- 15 ml (1 e) witwynasyn
- 125 ml (1/2 k) suurroom
- 30 ml (2 e) mayonnaise
- 15 ml (1 e) korrelmosterd
- ’n hand vol kruie, soos grasuitjies, pietersielie of basiliekruid
Meng al die bestanddele en hou vir tot ’n week in die yskas.
Mosterdsous
- 75 ml (5 e) olyfolie
- 30 ml (2 e) korrelmosterd
- uitgedrukte sap en gerasperde skil van 1 suurlemoen
- ’n hand vol gekapte kruie van jou keuse
Meng al die bestanddele en hou in die yskas.
Nog idees
Heerlike kombinasies met die suuroompastasous:
• 50 g bloukaas, hoender, bindslaai (cos lettuce), 10 ontpitte olywe en kersietamaties.
• 50 g gerookte salm, in stukkies geskeur, aspersies, rooiuie en roketblare.
• ’n hand vol babaspinasieblare, 50 g gekrummelde fetakaas, 50 g sampioene en geroosterde dennepitte.
• Begin-van-die-maand-broodjie: 5 garnale, gemeng met die suurroomsous en ’n hand vol basiliekruid saam met bronkors (watercress) en komkommer.
Heerlike kombinasies met die mosterdsous:
• Geroosterde tamaties en groenbone, ’n gekookte eier, ’n blikkie tuna en ’n hand vol gekapte basiliekruid.
• Geroosterde groente soos soetrissies en eiervrug, koue beesvleis, of enige ander oorskietvleis, bros gebraaide broodkrummels en mozzarella.
• ’n Geroosterde peer, in skywe gesny, lamsvleis of beesfilet, gorgonzola, slaaiblare soos roket en geroosterde okkerneute
• Geurige wors soos chorizo, boerewors, fetakaas, geroosterde pekanneute, kersietamaties, gepekelde uie en vars slaaiblare.