Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Creation het ook pas by die Eat Out Woolworths Restaurant-toekennings die gesogte Een Ster ontvang.
Die landgoed en restaurant is egter geen vreemdelinge vir die hoogste lof vir hul aanslag tot kos en wyn as kunsvorm in eie reg nie. Daar pryk ‘n 2024 Val d’Or toekenning vir beste handelsmerk-ervaring en derde plek in die World’s Best Vineyards en eerste plek in Afrika by die groot wynvat as jy by die restaurant instap. Dis beslis meer as net ‘n kos-en-wyn ervaring hierdie: jy doen selfs ‘n proe met ‘n groot skulp teen jou oor om die see te hoor, of vryf linne of fluweel onder jou vingers om geure en tekstuur beter te verstaan.

Red Hot Glass onder leiding van Liz Lacey se kunswerke pryk in die tuin en reg rondom die proelokaal en restaurant.
Die plaas is in 2002 deur Jean-Claude en Carolyn Martin gestig en lê in die prentjiemooi Hemel-en-Aarde Rif in die Walkerbaai wyndistrik.
Ons begin met ‘n handewas-seremonie en ‘n klein olyf-ekstraksie tonikum met ‘n glas Sauvignon Blanc.
- Die middag skop af met handewas wat jou voorberei op die lekkerte wat wag.
- Die klein olyf-ekstraksie tonikum met ‘n glas Sauvignon Blanc berei jou smaakkliere voor en reinig ook jou mond van enige talmende geure.
Carolyn verduidelik dat hulle eerstens ‘n wynkelder is. “Daarom word elke gereg rondom wyn bedink en dan beplan ons die proe-ervaring daar rondom wat nie net die wyne op hul beste laat vertoon nie, maar ook die kos tot dieselfde hoogtes verhef. Die span se diep begrip van geur-sinergieë, lei tot ‘n naatlose integrasie van kulinêre en wingerdboukundige uitnemendheid.”
Die nuwe herfspyskaart vorm deel van die landgoed se kulinêre reis die afgelope 18 maande, wat wyn en welstand omarm.
Die spyskaart bestaan uit vyf “hoofstukke”: “Ocean’s Gift” wat met Creation Sauvignon Blanc, Semillon gepasmaat word met plantgebaseerde en immuun-versterkende Shiitake Carpaccio; “Rain in a Herb Garden” met Creation Roussanne Grenache Blanc met Tamatie, Cannellini & Basieliesop met Bratzeli; “ABC (Absolutely Brilliant Chardonnay)” met die Creation Reserve Chardonnay of Creation Art of Chardonnay, met murgsagte forel met Kimchi Beurre Blanc of Kekerertjie Tempeh met pers suurkool; “Red Velvet” met Creation Reserve Pinot Noir of Creation Art of Pinot Noir wat met beeswange met polenta of soetpatat Miso Gnocchi geniet kan word en die laaste hoofstuk, “Sweet Temptation” wat sy naam te danke het aan die pasmaat van Creation Fine Cape Vintage met gemmer Tofu Cremeux en geposjeerde pruime. Daar is egter ook ‘n sout-alternatief: Creation Elation vonkelwyn met a Trio Bokmelkkaas of plantgebaseerde kase.
- Die spyskaart bestaan uit vyf “hoofstukke”: “Ocean’s Gift” wat met Creation Sauvignon Blanc, Semillon gepasmaat word met plantgebaseerde en immuun-versterkende Shiitake Carpaccio.
- Hoofstuk 2 is “Rain in a Herb Garden” met Creation Roussanne Grenache Blanc met Tamatie, Cannellini & Basieliesop met Bratzeli.
- Hoofstuk 3 is “ABC (Absolutely Brilliant Chardonnay)” met die Creation Reserve Chardonnay of Creation Art of Chardonnay, met murgsagte forel met Kimchi Beurre Blanc of Kekerertjie Tempeh met pers suurkool.
- “Red Velvet” met Creation Reserve Pinot Noir of Creation Art of Pinot Noir wat met beeswange met polenta of soetpatat Miso Gnocchi geniet kan word.
- Nagereg bied ook ‘n sout-alternatief: Creation Elation vonkelwyn met a Trio Bokmelkkaas of plantgebaseerde kase bedien word.
- Die laaste hoofstuk, “Sweet Temptation” wat sy naam te danke het aan die pasmaat van Creation Fine Cape Vintage met gemmer Tofu Cremeux en geposjeerde pruime.
Carolyn vertel oor die verskillende gange van die nuwe spyskaart: “Soos kunstenaars hul unieke uitdrukking slyp, is Creation se kulinêre span se filosofie om die klassieke te respekteer, terwyl hulle nuwe benaderings probeer. Hulle werk ook saam met die integrerende mediese praktisyn Dr. Julienne Fenwick en Nicola Cunningham, ‘n Cordon Bleu-opgeleide sjef met Natuurgeneeskunde en Kruie-kwalifikasies, om Ayurvediese welstandsbeginsels in hul seisoenale – meestal plantgebaseerde – spyskaarte te inkorporeer.”
Carolyn sê net soos Creation se wyne die terroir en veranderende seisoene weerspieël, erken Ayurveda dat ons liggame deur die jaar veranderende behoeftes het. In die herfs, om die droë, lugagtige, koel en veranderlike eienskappe van die Vata dosha te balanseer, moet die kos wat ons eet grond, warm en voedend wees. Om hierdie rede bevat Creation se nuwe paringspyskaart meestal gekookte eerder as rou disse, en verwarmende speserye, insluitend kaneel en gemmer.

Die hele wynproe-ervaring is ook tasbaar. Daar is skulpe en linne en fluweel om te voel vir tekstuur in die wyne, maar reuk en geurkomponente word ook treffend uitgebeeld.
“Creation se kulinêre reis het seisoenaal ontwikkel deur verskeie temas, van lewendige ‘Energie’ in die somer 2023/24, deur verkennende ‘Ontdekking’ in die winter en ‘n ‘Viering van biodiversiteit’ in die lente, tot ‘Harmoniese verbindings’ in die somer 2024/25. Nou is ons by die volgende lekkerte: ‘Agri-KULTUUR’, wat die diepgaande verband tussen wyn, natuur, grond, die seisoene en die kunste vier.
“Elke spyskaart het die landgoed se unieke terroir en toewyding tot plaaslike produkte ten toon gestel en ons gaan net verder ontgin en ontdek. Creation bedien ook ons eie heuning, olyfolie en fonteinwater aan gaste.”

Die restaurant het verskeie spyskaarte vir plantgebaseerde, vegetariese, glutenvrye of suiwelvrye voorkeure. Daar is ook geskiedenis oor elke dis, ‘n speellys vir jou radio of slimfoon en mooi foto’s.
Die landgoed het selfs ‘n staproete ontwikkel in Hermanus en Stanford, saam met Susan Mann van HermanusLocal om verskaffers te besoek, wat almal deel vorm van die Creation-suksesstorie. Dit staan bekend as “En route with Creation”.
Eleanor Coetzee, uitvoerende sjef, sê die spyskaart is op drie basiese beginsels gegrond: “’Wat saam groei, gaan saam’ – Dit wat nie van die landgoed kom nie, kom van binne ’n radius van 80 kilometer, wat outentieke uitdrukkings van die Hemel-en-Aarde-terroir skep.
“‘Wyn- en Welstandsfilosofie – Creation se baanbrekersbenadering beklemtoon die sinergie tussen matige wynverbruik en voedingstofryke, anti-inflammatoriese kosse. Die kenmerkende anti-inflammatoriese pasmaat-spyskaart demonstreer dat lekker eet by welstand kan aansluit sonder om smaak in te boet.
“‘Volhoubaarheid en self-onderhouding – As beide wingerd en tuin, minimaliseer Creation die impak op die omgewing, terwyl die outentieke uitdrukking van terroir ten volle na vore kom. Die biodiversiteit-gefokusde benadering verseker dat volhoubaarheid die kern van die kulinêre ervaring bly.”
Sy sê die Eat Out ster inspireer haar span om hul reis van plaaslike kulinêre innovasie voort te sit en om ons passie met gaste van regoor die wêreld te deel.

Die kulinêre span van Creation wynlandgoed opgetof vir die prysuitdeling van die onlangse Eat Out Woolworths Restaurant-toekennings.
Carolyn voeg by: “Hierdie prestasie bevestig ons verbintenis tot uitsonderlike eet-ervarings wat saam met die seisoene ontwikkel en groei, terwyl ons ons filosofie van harmonie tussen kos, wyn en die omgewing gestand doen. Ons wyn- en welstandbenadering, wat ons kenmerkende anti-inflammatoriese pasmaat-spyskaart insluit – verteenwoordig ons oortuiging dat lekker etes beide heerlik en gesondheidsgefokus kan wees.”
Toe die koffie voor my neergesit word, lees ek die klein opvoubiljet langs my bord. Heel gepas staan daar: “Where innovation is a way of life”. Meer gepas kan ek dit nie opsom nie.
Arriveer ‘n bietjie vroeër en geniet die pragtige glaskuns in die tuin en teen die mure van Red Hot Glass en geniet net die pragtige uitsigte van die proelokaal en restaurant oor die wingerde en heuwels. Die volgende kuns-uitstalling volg die 2025-tema: Verbind, werk saam en innoveer. Die kunstenaars Nanette Ranger en Jero Revett stal van Fynarts (6-16 Junie) daar uit en ook vir die res van die jaar.
Hierdie uitstalling vertoon Nanette se beeldhouwerke en Jero se Gyotaku-kunswerke.
- Red Hot Glass onder leiding van Liz Lacey se kunswerke pryk in die tuin en reg rondom die proelokaal en restaurant. Hierdie een is getiteld “Running Waters”.
- Nog een van Red Hot Glass se kunswerke op die stoep van die proelokaal en restaurant.
Deur natuurlike materiale en vorms te herverbeeld, skep die uitstalling ‘n dinamiese sinergie tussen die kunstenaars, sjefs, wyn en aanbieding, ter viering van die verbinding van kuns, natuur en gastronomie. Bespreek jou kos-en-wyn ervaring by www.creationwines.com. Daar is vegetariese, plantgebaseerde, glutenvrye en suiwelvrye disse op elke spyskaart beskikbaar. Jy kan ook daar die staproete saam met Susan bespreek.
Lees ook: Voltooi jou kuier in Kaapstad met ’n ete by Marble Cape Town