Nuwe grense: Wanneer ouers en hul volwasse kinders saamwoon deur Anys Rossouw
Al meer jong volwassenes woon by hul ouers tot in hul laat twintiger- of selfs in hul dertigerjare. Baie trek tydelik uit om te gaan studeer, maar kom ná hul studie terug huis toe.
Daar is talle redes hiervoor. Vir baie jong volwassenes is dit finansieel moeilik haalbaar om alleen te woon.
Beginsalarisse is net te skraps om die lewenstyl waaraan hulle gewoond was in stand te kan hou. Of as hulle iewers ’n internskap of klerkskap doen, is dit moeilik om op daardie salaris te oorleef.
Vanuit die kind se perspektief is dit ’n wonderlike lewe met baie voordele en min verantwoordelikhede wanneer hulle by hul ouers woon. Iemand anders dra die verantwoordelikheid en die koste van die huishouding, soos die instandhouding van die huis, tuin en huisinhoud. Iemand betaal die rekeninge, daar is kos in die yskas, dikwels iemand wat die wasgoed, skottelgoed en ander skoonmaaktake verrig. ’n Lekker en vry lewe.
Ander kinders trek terug wanneer die lewe hulle ’n klap gegee het en hulle nie ’n ander heenkome het nie. Boet het dalk sy werk verloor, of kry nie werk nie. Sus se huwelik is op die rotse en sy trek met kinders en al by haar ouers in.
Sommige kinders het net nog nooit hul ouerhuis verlaat nie. Die idee om alleen te gaan bly, is vir hulle vreesaanjaend.
Een ma vertel
Rita is moedeloos met haar seun. “Op 27 het hy nog nie ’n dag se eerlike werk agter sy rug nie. Reeds op skool was dit ’n stryd om hom agter die boeke te kry. Ná skool is hy uit die huis universiteit toe en het regte studeer. In sy eerste jaar het hy darem ’n vak of twee deurgekom. Ná mooipraat, dreig en smeek is hy terug universiteit toe met beloftes om ’n nuwe blaadjie om te slaan. In sy tweede jaar het die wiele heeltemal afgekom. Hy het sy punte vir ons weggesteek. In die tweede semester het ons agtergekom hy kom niks deur nie, woon nie klasse by nie … Hy het teruggekom huis toe.
“Nou bring hy sy dae op die rekenaar deur met aanlynspeletjies met mense wêreldwyd, wat glo sy vriende is. Toe het hy ’n rekenaarkursus probeer doen, maar dit was ook nie vir hom nie. Sy pa het vir hom werk by ’n vriend gekry, maar dit het nie lank gehou nie. Toe het hy weer aflewerings vir iemand gedoen. Hy was by sielkundiges en is op medikasie vir depressie. Hy kom nie soggens uit die bed nie, want hy speel snags tot wie weet watter tyd speletjies, en gevolglik hou hy nie ’n werk nie. En hy rook in sy kamer, wat vir my onaanvaarbaar is. Die koffiebekers stapel op. Hy help met niks. As ek iets sê, verstaan ek nie en is veeleisend.”
Planne om hierdie situasie te laat werk
Namate kinders groter word, verander ouers se rol en verantwoordelikheid in elke nuwe lewensfase. Die kind se verantwoordelikheid, besluitnemingsmag en onafhanklikheid moet toenemend meer en groter word totdat dit volledig op hul skouers rus.
Maar gesinsdinamika verskil van huis tot huis en vra ’n eie plan om dit te laat werk. Hoe dinge uitwerk, word dikwels bepaal deur die verhouding tussen ouers en hul kinders; die gesin se waardes; hul manier van doen; asook die grense en verwagtinge wat daar nog al die jare was.
’n Goeie verhouding met goeie, eerlike en oop kommunikasie oor verwagtinge en grense is meestal baie produktiewer as ’n klomp sterk reëls wat ouers neerlê.
- Stel riglyne, voorwaardes en verwagtinge vóórdat kinders terug-trek huis toe.
- Bepaal ’n tydraamwerk. Hoe lank beplan kinders om te bly en onderneem ouers om volwasse kinders te akkommodeer?
- Werk ’n finansiële ooreenkoms uit: Betaal hulle huur en hoeveel? Lewer hulle ’n bydrae tot ander uitgawes, soos kos, skoonmaakdienste, onderhoud, mediese en ander versekering?
- Klaar verantwoordelikhede en rolle uit oor wasgoed, diere, die tuin en kos. Gaan julle saam eet? Wie maak die kos? Is daar kosbeurte of maak elkeen sy eie kos?
- Logistieke reëlings oor vertrekke en plekke: Wie bly waar, parkeer waar, gebruik wat?
- Verwagtinge en kommunikasie oor eettyd, slaaptyd, inkomtye …
Wat is die ooreenkoms oor gaste, partytjies en aktiwiteite tuis?
Volwasse werkende kinders behoort in hul ouerhuis te woon volgens presies dieselfde soort voorwaardes en reëlings as wat by ’n ander blyplek sou geld. Hulle is nie meer kinders nie, en kan nie weer soos minderjarige kinders in hul ouerhuis kom woon nie. Nuwe grense is nodig. Dit geld albei kante. Ouers kan nie die soort beheer en kontrole uitoefen oor hul inkomtye, of hul doen en late soos met minderjarige kinders nie. Net so kan kinders nie vry wees van ’n bydrae tot huishoudelike take en verantwoordelikhede nie. Dis ’n gesamentlike huis, nie ’n hotel nie.
Daar is gesinne waar ouers nie omgee om alleen die finansiële verantwoordelikheid vir die hele huishouding te dra nie, moontlik omdat hulle genoeg geld het en hul kinders se verblyf nie op kort of lang termyn vir hulle ’n finansiële bekommernis of las is nie. Selfs in sulke gevalle is dit steeds ’n goeie idee dat kinders wel finansieel bydra om hulle die nodige lewenslesse oor gedeelde verantwoordelikhede, finansiële beplanning, begroting en bestuur van inkomste te leer. Indien ouers seker is dat hul kinders hul geld goed bestuur, mooi begroot en hul geld spaar om later ’n eie blyplek te kan bekom, is dit ’n ander saak.
In talle gesinne is die teendeel waar: Kinders bly tuis, verwag dat hul ouers alles moet betaal en bestee hul eie geld nie noodwendig wys nie. Of nog erger: Hulle werk glad nie, en bring hul dae op sosiale media, met rekenaarspeletjies of voor die televisie deur. Of hulle is betrokke by donker dinge, drankmisbruik of dwelms. Sulke kinders het nuwe en sterk grense nodig, wat duidelik aan hulle oorgedra moet word. Hulle moet ook weet wat is die gevolge as hulle nie daarby hou nie.
Ouers behoort nie hul eie finansiële posisie te kompromitteer en pensioengeld te gebruik om kinders uit hul finansiële verknorsing te red nie.
Help ouers regtig?
Jong volwassenes wat voel hulle is nie in staat om onafhanklik te wees nie, sal dit so lank moontlik uitstel om verantwoordelikheid vir hul eie lewe en behoeftes te aanvaar. Hulle sal hiermee aanhou so lank as wat hul ouers hulle toelaat om nie verantwoordelikheid te aanvaar nie.
Ouers kan in krisisse kinders se veiligheidsnet wees, maar is nie hul bank nie. Ouers behoort nie op lang termyn of keer op keer kinders se voorsieners of redders te wees nie.
Daar is ’n fyn lyn tussen die ondersteuning van kinders en om hul selfstandigheid eintlik te ondermyn en hulle met hulp afhanklik te hou. Solank ouers vir hul kinders dinge doen en goed betaal wat hulle eintlik al lankal self moes doen, hoef hulle dit nie te doen nie. En leer hulle ook nie om dit te doen en verantwoordelik en onafhanklik te wees nie.
As ouers vir kinders sorg en hulle aanmoedig om by hulle te kom bly, kan kinders so maklik die boodskap kry dat hul ouers nie glo dat hulle in staat is om vir hulself te sorg nie. Dit kan kinders se onafhanklikheid en selfgeloof ondermyn.
Susan vertel: “My skoonseun het sy werk verloor. Ek vermoed weens drank en woede-uitbarstings. Hulle kon nie meer hul huis bekostig nie en die bank wou hul motor terugvat. Klink my daar is steeds baie skuld. Wat kon ons doen? Ek kan nie dat my kind en twee kleinkinders op straat sit nie. Maar skielik voel ek ontuis in my eie huis. My skoonseun lê op my bank en televisie kyk en ek moet elders sit. Ek kan nie meer kyk wat ek wil kyk sonder snedige kommentaar oor hoe common dit is nie.”
“My man het vir hom werk in sy besigheid gegee. Steeds moes ek gereeld petrol in hul motor gooi en die kleintjies by die kleuterskool gaan haal, want hy werk laat. Maar dan kom hy goed gekoring by die huis aan. Hy het in sy dronkenskap so ’n kabaal by die werk opgeskop dat my man hom weggejaag het. Hy is toe sommer by die huis ook uit. Sedertdien gaan dit veel beter, maar ek mis my ruimte en rustige lewe; om net by tye ’n ouma te wees en die kleintjies te kon bederf. Nou is ek weer daagliks betrokke en het amper die verantwoordelikheid van ’n ouer. Dis ’n voorreg om daar vir ons kind te wees, maar ook ’n opoffering.”
Baie ouers glo reëls is die oplossing om ouers en volwasse kinders vredig te laat saamwoon. Maar volwasse beginsels en waardes vir samewerking en gedeelde verantwoordelikheid werk dikwels beter en bemagtig kinders om wel later alleen te kan woon. Reëls is vir situasies waar iemand beheer en gekontroleer moet word omdat hy dit nie self kan doen nie.
Saamwoon werk baie goed as:
- Almal mekaar met respek behandel.
- Niemand in die proses finansieel te na gekom, misbruik of uitgebuit word nie.
- Daar respek vir ander se private ruimte, grense, eie lewe, aktiwiteit en eiendom is.
- Almal mekaar in ag neem, soos oor eettye, slaaptye en die algemene netheid van gedeelde ruimtes.
- Almal saamwerk en mede-verantwoordelik is vir huishoudelike take.
- Ouers jong volwassenes nie soos kinders behandel nie, en hulle ruimte gee om ’n eie lewe te lei en eie besluite te neem.
- Die jong volwassenes met waardering besef hul ouers doen hulle ’n guns en hul hulp is nie iets waarop hulle ’n aanspraak het nie.
In gevalle waar dinge so werk, is dit vir ouers en kinders baie lekker om weer saam te woon. Hedendaagse jong volwassenes het dikwels beter verhoudings met hul ouers as vroeëre generasies en daarom werk dit. As jong volwassenes het hulle hul eie lewe, werk, vervoer, sosiale aktiwiteite en stel hulle nie meer eise aan ouers dat hulle rondgery moet word en hulp met huiswerk of ander dinge benodig nie. Boonop kan hulle ’n bydrae tot die huishou-ding lewer.
Miems vertel met ’n glimlag. “Ons jongste, Anke, is terug in die huis ná sy haar honneurs in rekeningkunde gedoen het. As klerk kry sy maar ’n piepklein salaris. Tog werk sy so mooi met haar geldjies, betaal haar eie medies, motorversekering, selfoon, klere en goedjies. Elke Woensdag koop en maak sy die kos. Dis so ’n lekker bederf. Sy is so konsidererend en betroubaar. Ek hoef nooit bekommerd te wees oor waar sy is en wat sy doen nie. Sy vra nie toestemming nie, sy laat weet net. Ons verhouding is heeltemal anders, baie meer soos vriende. Ons geniet mekaar, kuier en doen lekker dinge saam. Soms ook saam met haar vriende.”
Maar as bogenoemde dinge nie gebeur nie, is dit tyd dat jou kind die nes verlaat. As daar voortdurende konflik, misverstande, verwyte, misbruik van goedheid en stryd oor grense, verantwoordelikhede en rolle is, skaad dit die verhouding. Dis dan in almal en in die ouer-kind-verhouding se belang dat kinders liewer maar hul eie potjie op hul eie werf krap.
Kinders wat sukkel, kom dikwels makliker op hul voete as die gemakstoel onder hul agterstewe padgee. Ouers wat
kinders telkens probeer red en kussing teen swaarkry, kussing hulle dikwels ook teen die lewenslesse wat hulle moet leer om te groei en tot selfstandige en onafhanklike volwassenes te ontwikkel.
Ouers se fisieke en praktiese verantwoordelikheid vir hul kinders het ’n vervaldatum.
Dis nie ouers se verantwoordelikheid om na volwasse kinders om te sien nie, tensy hulle gestrem is en werklik nie in staat is om na hulself om te sien nie. Maar ouers se daarwees vir hul kinders, hul omgee, emosionele ondersteuning en mentorskaprol het nie sommer ’n vervaldatum nie.
• Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark Pretoria (012 460 7366 / [email protected]).
Lees ook: Jou kind en eetversteurings: Wat ouers kan doen om te help