kategorieë: Ontspanning

Nuwe era en aanplantings vir Meerlust-wynlandgoed

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Om ‘n proe op die historiese Meerlust-wynlandgoed buite Stellenbosch wat al agt geslagte lank deel van die Myburgh-familie is, by te woon, is ‘n ware belewenis in die toekoms van wynboukunde én stappie terug in ons geskiedenis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Meerlust se bekendste wyn is sekerlik die Rubicon. Dis in 2009 deur die toonaangewende wyntydskrif, “Decanter”, aangewys as die “Beste Nuwe Wêreld Rooi” en in 2006 27ste gelys in “Wine Enthusiast” se Top 100 wyne vir jaar én dit wen in dieselfde jaar die gesogte Chateau Pichon Longueville Comtesse de la Lande trofee by die International Wine and Spirits Competition (IWSC) as “Beste Rooiversnit”.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Een van Suid-Afrika se bekendste en mees bekroonde wyne, die Meerlust Rubicon.

Die versnit word net in uitsonderlike jare produseer. As die wynmaker nie dink die druiwe van ‘n spesifieke oesjaar is goed genoeg nie, word daar geen Rubicon gemaak nie.

Die landgoed is lank reeds bekend vir wêreldklas-wyne en is besonder ryk aan geskiedenis en sedert 1756 in die Myburghs se besit. Dis selfs in 1930 deur Jacob Hendrik Pierneef, een van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, geskilder.

Ons is ‘n klein, bevoorregte groepie wat 20 jaar van Rubicon-oesjare kom proe: die 2004 (droog en warm); 2009 (nat en koel); 2017 (droog en warm); en 2021 (matige reën en koel).

Maar eers terug by waar alles begin het. Die eerste eienaar van die eiendom, ‘n Duitse immigrant genaamd Henning Huising, het die skoonheid en potensiaal van die plaas erken en hom in 1693 hier gevestig. Hy het sy nuutgevonde huis “Meerlust”, wat “plesier van die see” beteken, as die herehuis genoem. Die huis sit op ‘n granietkop net ‘n rapsie meer as 5 km van Valsbaai af, en in die warm somermaande, kry die wingerde ‘n koele lafenis van die see en aandmis, wat van die kus af inrol.

Jy ry deur ‘n lang palm- en eikeboomlaning, al langs die dam met sy bekende windpomp reg in die middel van die water. Ons word verwelkom met ‘n glas Meerlust Chardonnay, omdat die besoek ook saamval met Internasionale Chardonnaydag. Binne is die intieme proekamer regtig ‘n terugdraai van die jare.

Toe al die gaste ‘n glasie het, verwelkom Wim Truter, keldermeester en bestuurder, en Altus Treurnicht, wynmaker, ons en sê die plaas se unieke terroir kan nie net in hul wyne geproe word nie; mens moet dit ook sien. Almal is in verskillende voertuie en gaan kyk die wingerde, verskillende grondtipes en hellings. Hulle noem dat ons later in die proe gaan ervaar hoe interessant dit is waar die komponente oor verskeie oesjare vandaan kom. Elke terroir-komponent is só divers.

Wim Truter, keldermeester en bestuurder, en Altus Treurnicht, wynmaker, verwelkom ons met ‘n glas Chardonnay.

Wim het pas sy vierde oes by die landgoed agter die blad en het tydens sy eerste oesjaar in 2020 so tussen KWV – sy vorige pos as wynmaker – en Meerlust gewerk. Vanjaar is 590 ton druiwe op die plaas geoes. Meerlust maak tans 400 000 liter wyn per jaar en die helfte word uitgevoer.

Ons ry tussen die verskillende wingerde vir beter konteks oor die wyne wat ons later gaan proe. Die plaas lê maar 125 m bo seespieël en Wim verduidelik dat daar vier hoof-terroirs op die plaas is en dat jy uiteenlopende wyne kan maak, al is die persentasie kultivar-komponente dieselfde, maar uit verskillende terroirs afkomstig.

Die oudste wingerde op die plaas is in 2001 geplant. Die 2024-oes is af, die wingerde in winterrus en nuwe wingerde in aanplanting.

Hy sê ook dat hulle elke dag die wind in ag moet neem, want hul ligging beteken konstante wind – dis net die spoed wat wissel. “Ons het nie ‘seebriesies’ nie maar seewind en dit het ‘n beduidende invloed op wingerde. Daar is konstant 30km per uur wind deur ons wingerde en hoewel dit heelwat peste en plae verhoed, bring dit sy eie uitdagings.

“Hierdie seeklimaat vra eintlik vir sy eie klassifikasie. Ons en ons bure, Winshaw en Vergenoegd Löw is saam in ‘n studiegroep en begin nou ook ‘n rivierprojek op die Eersterivier om indringers uit te roei, sodat ons nie weer sulke erge skade weens oorstromings lei nie.”

Altus verduidelik dat hoewel die plaas net 15 km buite Stellenbosch is, die temperature baie laer is as die Eikestad. Altus voeg by dat hulle ‘n wetenskaplik-holistiese boerderypraktyk volg. Die wingerde is die eerste prioriteit op die plaas en dit trek kollektief die algehele grond- en watergesondheid op.

Hy sê Covid was ‘n goeie tyd vir voorraadopname op Meerlust en verskeie opgraderings in die kelder en wingerde is gedoen. Hier is ook danksy goeie kartering 48 verskillende grondtipes identifiseer. “Jy kan nie homogeen boer hier nie.

“Ons wynbesluite word in die wingerd gemaak en jy moet dan ook elke komponent van ons versnit op sy beste laat vertoon, voor jy die finale wyn kan versny.”

Meerlus het tans 65ha onder wingerd, waarvan die oudste in 2001 geplant is, maar in 2025 sal 85ha onder wingerd wees. Nuwe wingerde word aangeplant, maar 20 ha ouer wingerde is uitgetrek met die “veronderstelling van watter potensiaal dit verhoed” wat beteken dat wingerde danksy goeie kartering in die regte grond geplant word, waar hulle optimaal sal gedy.

Meerlust het witwyne in sy portefeulje, maar is rooiwyngedrewe. Meer as 40 persent van alle druiwe word in die Rubicon-versnit gebruik.

Die dag het eintlik om die Meerlust Rubicon gegaan, maar dit het toevallig op Internasionale Chardonnaydag geval en natuurlik moes ons dit vier!

Ons is terug in die intieme proelokaal waar jy as’t ware die geskiedenis in die ou klipmure en effense skemerte kan voel. Ons sit op riempiestoele en proe wyn.

Wim vertel meer oor die wyne in hul reeks en Altus Treurnicht, vertel meer oor die nuwe aanplantings en wys die plaas se uitleg met ‘n skyfievertoning. Hulle wys die vier hoof terroirs is opgedeel in die Laelande; Quarry, Rivierterrasse en Compagniesdrift-koppie. Die Laelande is beplant met Merlot en Cabernet Sauvignon; die “Quarry” met Chardonnay, Merlot, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc en Pinot Noir; die Rivierterrasse met Chardonnay, Merlot, Cabernet Sauvignon en Cabernet Franc. Compagniesdrift met Chardonnay, Merlot, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Pinot Noir en Petit Verdot.

Hannes, die agtste geslag Myburghs op die plaas – wat in die historiese herehuis bly – vertel meer oor die erfenis van dié opstal. Die agterste deel van die huis is 1693 gebou en die voorste deel en gewel in 1776 voltooi, daarom is dit die datum daarop.

Die historiese herehuis op Meerlust waar die agste geslag Myburgh, Hannes, vandag woon.

Sy pa, Nico, het die Meerlust-handelsmerk in 1975 gestig en die bekende wynmaker, Giorgio de la Cia, het “in 1978 by my pa aangesluit vir een oes en uiteindelik vir 25 gebly!”.

Nico wen in 1975 die Generaal Smutstrofee by die Jongwynskou met ‘n Cabernet Sauvignon en vestig sy naam as ‘n wynmaker om dop te hou in die toekoms.

Hy en Giorgio maak in 1980 die eerste Rubicon en ook die plaas se eerste Pinot Noir. In 1984 – 30 jaar voor ons proe op ‘n mooi wintersdag – is die eerste oesjaar van die Rubicon te proe aan die publiek bekend gestel en wen die rooiwyn-kategorie by die Suid-Afrikaanse Kampioenskapskou. In dieselfde jaar stel Meerlust ook hul Merlot bekend.

Hannes vertel ons ook meer oor waar die bekende Rubicon-etiket sy naam gekry het.

“Alea iacta est. (Die dobbelsteen is gegooi),” is glo die woorde wat Julius Caesar in 49vC geuiter het, toe hy sy troepe na Rome oor die Rubiconrivier gelei het. Die besluit om dié grens oor te steek, was ‘n onherroeplike draaipunt in die geskiedenis, want dit het oorlog teen hul eie mense in Rome beteken en het die koers van die Romeinse politiek ingrypend verskuif.

Sowat 2000 jaar later kom ‘n waterskeiding vir Nico. Hy is op vakansie in Bordeaux in Frankryk en die ooreenkomste tussen die terroir van dié streek, is baie soortgelyk aan dié van die Eersteriviervallei. Albei het ‘n kenmerkende klimaat, gekenmerk deur verkoelende seewinde en albei se grondstruktuur bestaan uit ontbinde graniet en klei.

Die rooiwyne wat die twee streke produseer is, was egter baie verskillend: die Wes-Kaap was bekend vir gespesifiseerde kultivars, terwyl Bordeaux gefloreer het met versnitte.

Nico kom huis toe met inspirasie en ‘n droom van die plaas se eie versnit. In 1980, na verskeie eksperimente saam met Giorgio, het hulle die nuwe versnit aangekondig. Met 70% Cabernet Sauvignon, 20% Merlot en 10% Cabernet Franc, is ‘n nuwe wynstyl in Suid-Afrika geskep. Soos Caesar, kon daar geen omdraaikans wees nie.

Nico en Giorgio het verskeie name in gedagte gehad, maar Professor Dirk Opperman van die Universiteit Stellenbosch – een van Nico se goeie vriende – het “Rubicon” voorgestel.

Die twee mans het immers braakland ingegaan en reeds die manier hoe Suid-Afrikaners oor rooiwyn dink, begin verander met hul wyne.

Die plaas in sy geheel is in 1987 as nasionale monument verklaar; Hannes het die volgende jaar by die landgoed aangesluit en die bestuur oorgeneem en in 2001 het Meerlust die Bergkelder verlaat en al hul druiwe self gebruik om wyne net onder hul eie handelsmerk te bottel.

In 1995 maak Meerlust sy eerste Chardonnay.

Hannes is in 2007 in Verona, Italië, met die ererol vereer. Dit word aan mense gegee wat internasionaal tot die wynbedryf bygedra het.

Hannes Myburgh, agtste geslag op Meerlust, wat in die historiese herehuis woon.

Vandag is die Meerlust Rubicon sekerlik een van Suid-Afrika se bekendste en mees bekroonde rooiwyne.

Ons proe ook verskillende komponente van die Rubicon uit dieselfde oesjare, maar verskillende terroirs om waarlik te verstaan hoe divers terroir-invloed op druiwe is.

Ons proe vier oesjare uit die afgelope 20 jaar en ook verskillende komponente uit verskillende terroirs.

Die kuier op die plaas word afgesluit met biltongbroodjies uit vars wit plaasbrood gemaak en koolbredie, rys en beetslaai in die herehuis se kombuis. Hier geniet ons van die plaas se ander wyne en maak nog geskiedkundige herinneringe.

Lees ook: Swartland wen algeheel, maar Stellenbosch bo in Merlot-kompetisie

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

9 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

9 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

9 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

9 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

10 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

11 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.