Eers ’n paar jenewer-feite
- Jenewer is ’n helder alkohol wat in ’n potketel gestook en met jenewerbessies en allerlei ander natuurlike plantgeure gegeur word.
- Die Nederlanders het heel eerste jenewer gestook. Die Britte het dit in die 17de eeu by hulle gesien maar eers ’n eeu en ’n half later is die bessies op Britse bodem stookpot toe. Dit het nog 150 jaar geneem voordat jenewer soos ons dit ken, daarvan gemaak is.
- Jenewer word selde skoon gedrink. Dit word gewoonlik met tonikum gemeng of andersins in skemerkelkies soos martini’s gebruik.
Die tonikum is ook belangrik
Tonikum is aanvanklik gemaak met die doel om kinien,’n malaria-teenmiddel van chinchona-bas, drinkbaar te maak – tot die Britse soldate toentertyd besef het dat dié doepa veel lekkerder smaak met ’n skeut jenewer daarby! Goeie kroegmanne beveel gehalte-tonikum aan en baie spesialiteitskroeë voer tonikum van oorsee af in, of maak hul eie.
Ons hou van:
Fitch&Leeds se tonikumwater en veral die pragtige nuwe pienk tonikum wat met roosblaar en komkommer gegeur word. Fitch&Leeds filtreer die water in hul tonikum viervoudig om suiwerheid te verseker.
Jenewerkroeë
Daar is ’n hele paar kroeë wat net op jenewer toegespits is.
• The Gin Bar in Wale-straat, Kaapstad, het vier ontwerpersdrankies met jenewer op die spyskaart: Heart, Soul, Head en Ambition.
• Mother’s Ruin Gin Bar in Breë-straat, Kaapstad, het meer as 70 jenewers om van te kies. Probeer ook drankies soos Lawrence of Arabia (met gekneuse dadels) en Klein Slaaitjie.
• Asara-wynlandgoed het ’n stylvolle Art Deco-kroeg net buite Stellenbosch en bied 200 verskillende soorte jenewer te proe aan en bykans 12 verkillende handgemaakte tonikum-waters.
Unieke Suid-Afrikaanse jenewers
• Cruxland, KWV Kalahari Truffle Infused London Dry Gin
Die jenewer word twee keer gedistilleer met botaniese geure soos jenewer, rooibos, koljander, heuningbos en Kalahari-truffels.
• Blaauwklippen-wynlandgoed Triple Three Distillery
Die African Botanicals Gin vertoon geure van boegoe en rooibos, naeltjie, sederhoutskaafsels en denne saam met lemoenskil, kamfer en donker bessievrugte. Die Juniper Berries Gin spog met kamfer, denneboom en eukaliptus en die Citrus Infusion Gin met sonrypgeure van lemoen en suurlemoen.
• Wilderer Fynbos Gin
Die Wilderer-distilleerdery is op die Spice Route-landgoed buite Paarl geleë. Daar is 27 verskillende botaniese geure, insluitend boegoe, heuningbos en wilde dagga in dié aromatiese jenewer.
• Inverroche Gin
Inverroche is ’n beeldskone distilleerdery net buite Stilbaai. Hier maak hulle klein hoeveelhede jenewer en fokus op gehalte. Die jenewer word met handgeplukte fynbos gegeur.
• Cape Town Rooibos Red Gin
Dié jenewer word slegs in klein hoeveelhede gemaak en met organiese rooibos uit die Sederberge gegeur. Ander geure soos lemoenskil en kaneel word ook gebruik en is ’n perfekte kombinasie saam met die rooibos.
• Hope on Hopkins Distillery
Dié distilleerdery in Sout Rivier, Kaapstad, is beslis ’n besoek werd. Lucy Beard en Leigh Lisk maak die allerbeste handgemaakte jenewer. Ons hou veral van die Hope Mediteranean Gin wat met olywe gegeur word! Jy kan ook die meer tradisionele London Dry Gin of Bloedlemoen probeer, ’n geurige jenewer wat met lemoenskil gemaak word. Besoek Hope on Hopkins vir ’n proe op Saterdae tussen 12 en 4 nm. Kontak [email protected] vir besprekings.
• The Duchess Alkohol-en-Suikervrye Jenewer
Hierdie jenewer proe net soos die ware Jakob maar sonder die suiker en alkohol. Dié jenewer word met ’n verskeidenheid botaniese geure soos steranys en karamonk gegeur om dit die perfekte jenewer- en tonikum-smaak te gee. Dit werk net so goed as suikervrye mengeldrankie by jou gunsteling jenewer! Kry dit by die meeste drankwinels en supermarkte of kontak hulle by [email protected]