Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts
Die Delheim Grand Reserve was een van die eerste Bordeaux-styl wyne wat in Suid-Afrika gemaak is. Die eerste oesjaar was 1981. Delheim Wynlandgoed vier in Oktober vanjaar sy 84ste bestaansjaar en die nuutste hoogtepunt wat daar gevier word, is die vrystelling van die Delheim Grand Reserve 2020, bykans 40 jaar ná daardie geskiedkundige eerste.
Die familieplaas aan die voete van die Simonsberg is die tuise van die Sperling-gesin, wat in die voetspore volg van pa en eggenoot, Spatz – wat diep spore in die Suid-Afrikaanse wynbedryf getrap het.
Spatz is in Oktober 2017 in die ouderdom van 87 oorlede. Hy het konvensionele gebruike en oortuigings uitgedaag en het ’n pionier-ikoon van die Suid-Afrikaanse wynbedryf geword, ten spyte van vele hindernisse. Die wynbedryf se hoogste erkenning van sy uitmuntende bydrae is in 2009 gemaak, toe die 350 Celebration Scroll in die jaar wat Suid-Afrika 350 jaar van wynmaak gevier het, aan hom oorhandig is.
Vandag is dit sy Spatz se kinders, Victor en Nora, wat die fort hou.
Die vrystelling van dié wyn is in die Kaapse V&A Waterfront by nog ’n ikoon gevier: Belthazar restaurant en wynkroeg. Die restaurant is al vir dekades deel van die Kaapse restaurantbedryf en bekend vir uitmuntende biefstuk, seekos en eersteklas wynlys.
Nora Sperling het aan gaste vertel dat sy nie aan ’n beter kombinasie kan dink as vleis, rooiwyne en mense nie en dis presies wat die middagete bymekaarbring.
Sy en die plaas se huidige wynmaker, Roelof Lotriet, het ongelukkig nie genoeg 1981-oesjaar wyn oorgehad om met gaste te deel nie en het die 1984 se laaste vier bottels saamgebring. “Die helfte van die groep gaste vandag, is nog nie eers gebore toe die wyn gemaak is nie. George Orwell se 1984 is in 1948 geskryf. As jy dink waar Suid-Afrika in 1984 was, word ek sommer siek. Die grond op Delheim is egter nog dieselfde, maar die politiek het verander. Die familie baklei steeds. Maar die Grand Reserve is wat dit nog altyd was. Dieselfde, maar ook nie.”
Die plaas se lang geskiedenis gaan terug na haar pa se oom, Hans Hoheisen en tannie, Del, wat Delheim – ’n naam afgelei van die Duitse betekenis, Del se Huis – die plaas in 1939 gekoop het. Spatz het in 1951 as ’n 20-jarige van Duitsland aan die Kaap arriveer, om by sy oom en tannie aan te sluit. Hy het later die plaas by hulle oorgeneem.
In die laat sestigerjare was daar baie min plase in privaat-besit en Spatz, Sydney Back van Backsberg en Frans Malan van Simonsig, was instrumenteel om wynlandgoed-wetgewing te verander. Spatz was saam met Frans Malan van Simonsig en Neil Joubert van Spier, die stigterslid van die Stellenbosch Wynroete in 1971. Hy het die plaas in die Simonsberg oor die volgende bykans 70 jaar in een van die gewildste en suksesvolste wyn-bestemming omskep en baie eerstes vir die bedryf vermag.
Baie bekende wynmakers het hul tande op Delheim onder Spatz se wakende oog, geslyp, waaronder Chris Keet (Chris Keet Wines), Kevin Arnold (wat afgetree het by Waterford Landgoed), Jeff Grier (Villiera Landgoed) en Martin Meinert (Meinert Wines).
Ute Helmer, die eggenoot van Otto, wat in die sewentigerjare daar wynmaker was, het die wynlande se heel eerste kaasbord in 1976 gepak en sodoende eintlik die ma van die wynplaas-restaurant geword het. Die bekende Norma Ratcliffe, voorheen van Warwick, het per geleentheid vertel dat drie plase in die sewentigs en tagtigs die wynbedryf domineer het, deur wyn direk aan die publiek te verkoop; mense ontvang het vir kuiers in die proelokaal of kelder en sodoende wyntoerisme tot stand gebring het: Uitkyk, Delheim en Muratie.
Die eerste Grand Reserve is deur Kevin Arnold gemaak wat in 1976 as wynmaker daar begin het en hy het in Kalifornië gewerk waar hy die gebruik van klein vate in werking gesien het. “Ons was een van die eerste kelders wat klein vate gebruik het, omdat dit die beste is om rooiwyn in te veruder. In 1983 het ons die 1981-oesjaar vrygestel,” het Nora vertel.
Die versnit het altyd Cabernet Sauvignon as basis en wynmakers speel rond met die ander kultivars. “As die druifkwaliteit nie daarna is nie, maak ons nie die wyn nie.”
Roelof het in 2018 as wynmaker op die plaas begin. Hy sê in die tagtigerjare toe die Grand Reserve die wynmark betree het, was versnitte glad nie gewild of bekend nie en jy mag ook nie die komponente bekend gemaak het nie. Wyne van die 80’s was ook baie anders in styl as die wyne van vandag.
“Julle proe vandag die 1984, 2007, 2015 en die 2020 – die huidige oesjaar. Petit Verdot is die laaste drie of vier jaar deel van die versnit. Elkeen wat ons vandag proe, het toevallig ’n ander wynmaker.”
Roelof het baie tyd in Bordeaux deurgebring en hy hou van volronde wyne in daardie styl. Hy het aan gaste gesê dat hy nie daarvan hou om vir mense te sê wat hulle moet proe nie. Dis elkeen se eie ervaring.
Gaste kon na die proe die mooi uitsig oor Tafelberg geniet, terwyl hulle aan die Delheim Chardonnay Sur Lie teug.
Die voorgereg van Belthazar-styl Avokado Ritz met koningin garnale, avokado en tamatie met marie-rose sous, is met die Chardonnay Sur Lie bedien. Hoofgereg van 300 gram 28-dae-verouderde rib-eye biefstuk met handgesnyde skyfies met die restaurant se bekende rooiwynsous en “uie-bloeisel” bykos, is met die Delheim Grand Reserve 2020 geniet. Om hulde te bring aan Ute Helmer wat die wynlande se heel eerste kaasbord in 1976 op Delheim gepak het, was nagereg ’n kaasbord, wat met die Delheim Edelspatz Riesling Noble Late Harvest 2021 bedien is.
Lees ook: Devil’s Peak se lokprent is uiteindelik hier!