Ek is maar redelik steeks en aweregs as dit kom by “nuwe jaar, nuwe ek!”-verklarings in die regte lewe en in die kuberruim.
Met ’n nuwe jaar al drie weke op hande is dit vir my reeds en steeds ’n uitdaging om te onthou om die jaartal reg te skryf en die kinders op verskillende plekke – of dieselfde plekke – dankie tog vir wedersydse, genetiese begrip en/of verwarring… – op en af te laai.
Ek het regtig nie ooghare vir “nuwe ek, nuwe watookal én ooghare” nie.
Tog bewonder ek mense wat elke aanbreek van ’n nuwe jaar as nog ’n nuwe kans sien om dít te verander wat hulle wil.
Daar is oefenprogramme, diëte, lewensstyle, verhoudings, loopbaanrigtings en wat nog wat in die visier is.
As ek die veranderings nie so passief-aggressief op ’n afstand gade geslaan het nie, sou ek seker aan meeste wou deelneem – behalwe daai hardloopgedoente. Mens hardloop mos net vir oorlewing as ’n ongedierte jou jaag…? En, dan vreet hy daai duur Asics-tekkies saam met jou op sonder om die verskil te proe? Aikôna.
Vir meeste ander uitdagings sou ek game wees – mits ek gedink het ek het die stam-Ina daarvoor. Soos byvoorbeeld daai M-graad wat al jare wink. Of die LLB. Of die Honneurs in Sielkunde. Of dergelike ander kursusse. (Let wel hoe al hierdie geensins ’n drawwery of oefenskoene behels nie.)
Want, sien, ek vermoed ek het lui geraak en gerieflik in ’n groef gaan nesskop. So een, twee of drie keer die afgelope sewe, agt jaar het daar iets gebeur wat my so ’n bietjie uit die luie loopgraaf van my lewe laat opspring het. En, dan was ek skouer-aan-die-wiel vir ’n beter-ek.
En, dan gebeur die lewe maar weer en dan gebeur die loopgraaf-luiheid maar weer. Ina het haar stam- telkens te vroeg verloor.
Na ’n stilstaanjaar is ek nou in Januarie weliswaar nie een van die “spring-op-en-aërobies/kardio-jouself-tot-in-’n-fiksheidskompetisie” of “skryf-jou-memoirs-en-raak-’n-skrywer” begeesterdes nie. Die enigste “crossfit” wat ek die afgelope twee maande doen, is: “I cross my fingers and hope I fit into those jeans”…
Maar, ek gáán nog oefen. Sodra ek ’n tennismaat kry. Of iemand wat weer die Big Walk tussen Simonstad en Kaapstad met my sal stap – meer as een maal per jaar, want dit is net so ’n mooi roete. En, stap is goed vir die siel en denke.
Oefenlopies en –hopies ten spyt, dink ek egter ek gaan weer die meeste weke nie eens presies onthou wanneer watter kind se biblioteekboeke moet in wees nie. Of dat die nuwe babakat moet gaan vir ’n inenting nie, al skryf ek dit in op die nuwe kerkalmanak neffens die kombuisdeur.
Ek onthou ook dat iemand my ’n boekklub waarna ek só uitgesien het, belowe het in die nuwe jaar. Maar, nou ja, daar is ’n nuwe blaadjie omgeslaan.
So, wat wil ek hierdie jaar bereik?
Eerstens, oorlewing.
Hoe ouer ek raak, hoe meer besef ek dat oorlewing nogal nie so ’n vanselfsprekende storie is nie.
Vir niemand van ons is dit ’n uitgemaakte saak nie.
Daar is in vandag se koerant ’n kind wat in Stilbaai verdrink het terwyl hy nog twee jaar van sy skoolloopbaan voor hom gehad het. Daar is ook in ander media ’n sewejarige seuntjie wat na sy tweede hartaanval gesterf het. Daar is die pa van een van my dogtertjie se destydse kleuterskoolmaatjies wat weens ’n roekelose motorfietsjaer nie nog ’n Kersfees saam met sy kind en vrou kon deurbring nie.
Terwyl ons probeer oorleef, kan ons dit netsowel goed probeer doen. En, dit vir die mede-oorlewendes ook ’n aangename ervaring probeer maak.
So, doelwit 1: Maak oorlewing vir jouself en ander lekker.
Staan op met ’n glimlag – al moes jy eers frons en knor en sug as die wekker afgaan.
Grom vir die dêm wekker soveel jy wil. Maar, glimlag daarna vir jouself in die spieël. Jy gaan daai mooi glimlag nodig hê later vandag. En, as jy dit eers vir jouself gegee het, behoort dit makliker te wees om vir ander ook uit te deel deur die dag.
Doelwit 2: Moenie jou ontbytkoffie só koud laat raak terwyl jy vir die res sorg, dat jy die koue koffie op die res blameer nie. Sorg vir hulle, maar sorg ook vir jóú.
Doelwit 3: Moenie jou humeur of humorsin verloor in die skoolverkeer nie. Al lyk daai agtersitplekpassassiers hóé onbetrokke en onoplettend, sal dít wat jy die domdingeskanjyniejouflikkergebruiknie toesnou, deur die dag in hulle ore weergalm. En, dalk in ’n onvoorsiene oomblik by hulle monde uitglip. Skoolverkeer kan ’n pyn wees – moenie jy ook een wees en laat wees nie.
Doelwit 4: Moenie moan nie. As jy saam met ’n vriendin ’n langverwagte koffie drink en haar foon onophoudelik lui, moenie moan nie, nie eens in jou kop nie. Gebruik die tyd om jou eie foonsake af te handel – of in stilte ’n warm koppie koffiewinkelkoffie te geniet. Wie weet wanneer jy weer die kans sal hê om so saam met ’n vriendin om ’n tafel te sit en koffie drink? Ek het die afgelope jaar geleer dit is nie ’n gegewe nie. Koffiedrinkmaats kan eensklaps en wreed uit ’n mens se lewe weggeraap word. Geniet die samesyn so lank dit hou.
Doelwit 5: Foonvrae kan ’n ontsaglike pyn raak. Moenie dat jy ’n pyn raak weens dit nie.
Soos die nuwe akademiese jaar afskop, kan jy dalk ervaar hoe mense wat gewoonlik nie bewus is van jou bestaan nie, skielik vrae oor skooldinge begin vra. Antwoord dit steeds so goed jy kan. Want, indien niks anders nie, sal jy ten minste steeds menswaardig voel danksy jou antwoord. Jou kind hoef nie te weet dat die een wat hom boelie en slegsê, se ma vir jou noodboodskappe stuur nie. En, as hy uitvind, is dit ook ’n lewensles vir hom. As hy slim is, sal hy die hele konsep snap.
Doelwit 6: Die skooljaar is nog geweldig lank. As jou kinders oulike klas- en vakonderwysers het, wees dankbaar. Jy hoef nie die onderwyser reeds in die eerste week ruikers te stuur of te oorweldig met teks-emotikons nie (en verkieslik nooit verder die jaar nie…), maar, dit sal wel goed wees as jy deurgans positief bly oor die rol wat die onderwyser(-s) in jou kind se lewe speel.
Doelwit 7: Onthou dat die mense wat saam met jou werk, ook maar, soos jy, net mense is. Hulle raak moeg. Hulle het geite. Hulle het gesinne en families. Hulle worry oor goeters – nes jy. Kyk met sagte oë na hulle – soos jy wil hê hulle moet na jou en jou goeters kyk. En, praat met sagte woorde met hulle al wil jy skel. Al is ’n kollega ’n reuse vlieg in die salf: Jou sagte woorde kan dalk salf wees vir sy sawwe siel.
Doelwit 8: Ek dink daar kan nog baie meer doelwitte en dinge wees. Maar, dis Januwôrrie en ek is wegspringmoeg. Daar is boonop nog wat, ’n maand…? oor van hierdie eerste langste maand.
Wees net daardie ekstra bietjie gaaf met almal wat jou pad kruis. Veral daardie wat jou geduld beproef – hulle het dit die nodigste.
En, al kom die gaafheid nie dadelik met die wat-jy-saai-sal-jy-maai na jou toe nie, kan jy weet: Jy het vir iemand vir wie die nuwe jaar alreeds aan die keel gegryp en hakskene gehap het, dit ook bietjie makliker probeer maak.
Ons is almal maar hier op die kantelende blou bal vir ’n korterige tydjie. Ons kan dit netsowel pret en plesierig probeer maak vir mekaar.