Met suiwer selfbeheersing is nog twee weke verby sonder dat ek handgemeen moes raak en appels swaai (of gooi) – alles danksy my verbeelding-zapper-geweer.
Soos dit maar meestal gaan, het die klein jakkalsies waarvan ek twee weke gelede begin vertel het, in weerwolwe verander en ook aangeteel. So ál asof hulle my wou uittart om te sien of die mitiese masjiengeweer rêrig bestaan.
En, ooo, hét hulle hulself in ’n stortvloed zapper-koeëls vasgeloop.
Die eerste niksvermoedende slagoffers was die joviale groepie van iewers dus- of doeriekant die Dooie See met hul blinkgepoleerde naels en vlekkelose gelate wat hul sterte en heuningkwaste begin swaai sodra ’n mens hul stalletjie in die mall se gang nader. Ek vermoed as nog net één van hulle my één keer bestorm en ’n seewiersalfie vol ewige-jeug-beloftes aan my wil (af-)smeer, gaan ek in ’n gillende meermin verander en myself vol plooie skreeu.
Kort op die plooiloses se hakke, is die oorloses. Daardie grootmense wat kasregisters beman, maar sowaar as vet slegter luister as my kinders. As mens reeds drie maal “Ja, asseblief!” beaam het dat jy ’n “Sug … Sakkie?” wil hê vir jou inkopies en die ongeïnteresseerde die transaksie afsluit met ’n sugtende: “Oeps, wou Mevrou ’n sakkie gehad het?” reeds ná die kaarttransaksie voltooi is, is mens meer lus om in jou handsak te krap vir jou zapper-geweer as kleingeld vir die agtergeblewe sakkie.
Dieselfde geld vir die kelners wat hulle “Koue of warm melk?”-rympie aframmel nog voordat ’n mens kon sê koffie of tee, maar wanneer jou vingerpunte verskroei om die stomende melkbekertjie, is dit duidelik dat jou “koud” en hulle kokend maar een en dieselfde ding is. Hoekom vra as jy in elk geval nie gaan luister nie?
Hoewel ek ’n obessiewe voorstander is van persoonlike higiëne, trek my kiewe styf as ek, reeds onwillig, in ’n openbare kleedkamer instap en sien hoe ’n dame haar gesig was, deodorant aanrol en haar tande borsel by dieselfde wasbak waar ek moet hande was. Die gesellige groepie senior burgers wat valstande in die hand al lispelend die Sondagbuffet-ete uit die stel tande staan en skrop het, het my egter ongewaste hande en al op die vlug laat slaan.
Diegene wat my ken, weet dat ek ’n redelike voorkeur-afkeer-verhouding met die dorp se motorwagte het. Vir die beskaafde, opgeleide span uit Noord-Afrika by die mall met wie ek gereeld gesellige gemeenplasies uitruil in hulle moedertaal, het ek baie tyd. Hulle doen hulle werk baie professioneel en is altyd hoflik en vriendelik.
Maar, o wee, vir die losgemaal in die middedorp wat meestal gepreserveer in alkohol vir my wil leer parallelparkeer, het ek weinig ooghare. Dié spannetjie is dikwels onvas op hulle voete en in hulle denke, en boonop verskillende grade van onbeskof en onopgevoed sou mens die dag moeite doen om te sê: “Jammer, ek het nie nou geld nie” nadat mens sowat 30 sekondes weg van jou motor was en hulle luidkeels aandring op vergoeding. Die groepie sit meestal diep en staar na ’n koerant of niks – dis nou wanneer hulle nie diep in die bottel kyk nie. Daar is al heelwat in die plaaslike media berig oor die lasposte wat veral vroue en kinders aggressief benader, maar daar is steeds skynbaar geen oplossing nie.
Ek onthou ’n voorval toe my dogtertjie skaars ’n jaar oud was. My motorruit was halfpad oop om aan die karwag te sê dat hy asseblief moet wegstaan, ek kan nie sien of daar motors aankom nie. Die volgende oomblik steek hy toe sy arms deur my ruit na haar babastoeltjie op die agtersitplek, met die woorde: “As Mêddie nie wil betaal nie, sal ek dan die baba vat!” ’n Onskuldige dronkmansgrappie aan sy kant. Dit het veroorsaak dat my dogtertjie vir drie jaar daarna kliphard begin huil die oomblik as iemand wat sy nie ken nie, by my motorvenster gesels of saam in die motor klim. Jare later is almal steeds hande in die hare oor dié skrikbewind wat in die middedorp gevoer word.
As mens in die middedorp wil parkeer, is dit meestal ’n geval van betaal iemand ’n paar rand sodat die makkers nie volgende keer dalk met ’n geroeste spyker verby jou motor slinger nie. My swart ma-se-wa loop hoeka skielik sonder kenteken op die neus nadat ’n karwag nie gesien het iemand met lang vingers haal die “alles loop reg”-teken af nie.
Aan die siel met die neongeel bêffie wat my al ’n paar keer as “Meneer” aangespreek het as ek in sy domein parkeer, sou ek, as hy nugter is, ook graag wou vra hoe de joos hy dink hy my kar gaan beskerm as hy nie eers goed genoeg kan sien om my blonde bokstert en nie-manlike borsmaat op te merk nie?