Ons gesels tussen tonele op die stel van 7de Laan waarin Dann-Jaques tans te sien is as Justin. Met die groetslag kry jy die indruk van hoflike terughoudendheid. Die onderhoud bevestig dit: oor homself praat hy nie graag nie, maar oor die interessante karakters wat hy al vertolk het, praat hy geesdriftig. Dis byna asof hy in karakter gaan, want wanneer hy oor Noem My Skollie, of die lewe op die Vlakte praat, slaan die Kaapse Afrikaans plek-plek deur.
Vir dié talentvolle dertigjarige akteur is daar talle raakpunte tussen sy lewe en dié van John Fredericks, die fliek se draaiboekskrywer en die man op wie se lewe die fliek gegrond is. Behalwe die paar jaar wat hy kleintyd in Windhoek gewoon het, ken Dann-Jaques die lewe op die Kaapse Vlakte maar te goed. Hy kon hom van die eerste lees van die draaiboek reeds vereenselwig met die wêreld van bendes, armoede en die daaglikse stryd om ’n reguit pad te bly loop.
Lees ook: John W. Fredericks gesels oor sy skryfdroom
“Met die oudisie kry jy net ’n toneel om te speel, nie die hele draaiboek nie. So, jy ken nie die konteks nie. Maar ek was dadelik op die karakter verlief,” vertel hy.
Sy bewondering vir Boeta John, soos hy na John Fredericks verwys, is tasbaar.
“Hoe meer ek die draaiboek gelees het, hoe meer het ek gevoel maar ek ken mos die man! Sy trials en tribulations het tot my gespreek; sy moed, die kans wat hy daar in die tronk gevat het om nie die nommers te vat nie, die verhouding wat hy met sy vrinne gehad het.”
Hy ken ook die invloed wat vriende op ’n Vlaktekind se lewe het. “Ons was ook maar wintie. Ons het ook so op die hoeke ge-chill soos Boeta John-hulle.” En al is hy vandag ’n suksesvolle akteur, onthou hy maar te goed dat nie almal in sy vriendekring aan die Vlakte kon ontsnap nie. “Een van my vrinne van laerskooldae af is vandag steeds ’n gangster. Ek weet nie eens of hy nog leef nie. Maar hy het destyds vir my gesê : ‘Jy moet hier uit. Moenie die nommers maak nie – gaan doen iets met jou lewe. Jy is beter as hierdie.’” Dis daardie soort vriendskap wat hom ook aangegryp het in Skollie.
Nes in John se geval, ken Dann-Jaques ook die effek wat ’n afwesige pa op ’n seun se lewe kan hê. “Maar soos hy, het ek ook die liefde van ’n moeder en susters geken.” Daarom is van die aangrypendste temas in die fliek vir hom juis AB se verhouding met sy ma en susters. “My ma was ’n enkelouer, maar ons was darem nooit so arm soos Boeta John-hulle nie. En my ma het my altyd ondersteun toe ek ’n akteur wou word, al was my familie nie juis mal oor die idee nie.”
Dit bly vir hom wonderlik om deur sy werk as akteur aan ’n karakter soos AB te kon lewe gee. “Ek moes Boeta John se visie skep, maar ek moes getrou bly aan sy storie en aan hom as mens.” Dit was vir hom kosbaar dat John op stel was sodat hulle soms oor bepaalde tonele kon praat. “Dit het immers oor hom gegaan. Hy het hierdie lewe geleef waaroor ons ’n fliek maak. Ek wou elke toneel reg speel.”
Lees ook: Ons gesels by Silwerskermfees 2016 met Dann-Jaques
Wat was vir hom die moeilikste van sy rol?
“Om ’n fisieke representation van Boeta John se karakter te skep. Hy is hierdie hardcore ou wat op die straat grootgeword het, maar hy het ook ’n elegansie aan hom. En hy is ’n goeie mens – dit was belangrik om dit reg uit te beeld. Onthou, hy wou nooit ’n gangster word nie – hy is deur ’n tragedie daartoe gedwing. Hy was in die eerste plek ’n storieverteller. En al maak die strate ’n mens hard, het hy steeds net sy ma se seun gebly.”
Om John geloofwaardig te kon speel het Dann-Jaques probeer om sekere fisieke eienskappe te probeer namaak, soos die manier waarop die ouer man loop. “Toe een van sy seuns later na my toe kom en sê hy het sy pa gesien in die manier waarop ek in die fliek loop, het ek geweet ek het geslaag.”
Hy bewonder die manier waarop John deur dekades bly glo het sy verhaal kan ander inspireer.
“Hy het alles opgegee vir die storie, selfs sy werk bedank. Om 15 jaar lank te bly werk aan ’n draaiboek terwyl jy hoop iemand sien die potensiaal daarin, wil gedoen wees.”
Wat was vir hom die mooiste toneel in die rolprent?
“Die dag toe AB se pa vir hom die tikmasjien daar op die vullishoop gee. Dis dieselfde tikmasjien waarop Boeta John uiteindelik die draaiboek getik het. AB se verhouding met Jenny, sy jeugliefde, is ook inspirerend. Deur haar het hy dit reggekry om sy rug na misdaad te draai.”
In die regte lewe is John en sy vrou al meer as veertig jaar getroud.
Dann-Jaques se lewensverhaal lees ook so ’n bietjie soos ’n storie. Sy ma, Elfilina Mouton, het gesorg dat haar jongste na ’n goeie skool gaan. Dis juis by Wynberg Senior Secondary in die Kaap dat die dramagogga hom gebyt het.
“Dié skool het op die kunste gefokus, en Brian en Trish Notcut was my drama- en dansonderwysers.” Hy onthou die eerste keer toe hy op die verhoog was maar te goed. “Ek was in graad tien en ons het Grease opgevoer. Ek was Roger, een van die groepie manlike hoofkarakters.” In graad elf het hulle Paul Slabolepszy se Saturday Night at the Palace opgevoer. “Daar is die saadjie by my geplant, maar ek het eers ná matriek besef ek wil akteur word.”
Dit was amper of Dann-Jaques het nooit akteur geword nie. Ná matriek het hy gaan werk, want geld vir studeer was daar nie. “Ek het allerhande odd jobs gedoen. Ek het in ’n fabriek gewerk wat plaveiselstene vervaardig, later in ’n plastiekfabriek. Ek het servette gepak en ook as kelner en kroegman in ’n hotel gewerk.” Hy het ook gedurende sy studie aan die Universiteit van Kaapstad gewerk om homself te onderhou, en lag so effens toe hy vertel dat hy selfs in ’n stadium in ’n speelgoedwinkel gewerk het.
Maar nadat hy in 2006 vir ’n oorbruggingskursus by die New Africa Theatre Academy in Athlone gegaan het, wou hy niks anders as akteur word nie. In 2009 het hy sy dramadiploma aan Ikeys verwerf. “My eerste rol ná universiteit was as Oberon in Shakespeare se A Midsummer Night’s Dream by die Maynardville-teater.” Die jaar daarna was hy ook te sien in die produksie van Anthony en Cleopatra onder regie van Marthinus Basson.
Teater bly ’n groot liefde – daarvoor het die byna vier jaar tussen sy studie en sy hoofrol in Jans Rautenbach se rolprent Abraham in 2014 gesorg. Hy was ook te sien in toneelstukke soos Die Rolbalspeler, Balbesit en Siener in die Suburbs. Daar was ook ’n rol in die kykNET-sepie Binnelanders, en in die rolprent Tess, teenoor Christia Visser.
“Ek het nooit destyds op skool gedink ek sal vandag hier voor jou sit nie. Ek is baie bevoorreg om te kan sê ek is nogal besig, want net om ’n bestaan te maak in hierdie bedryf, is klaar moeilik. Ons was omtrent dertig studente in die eerstejaardramaklas en net die helfte het klaargemaak. Van daardie vyftien of so werk net omtrent vyf van ons as akteurs. Dis nie maklik nie.”
Ons gesels enkele ure nadat dit bekend geword het dat Jans oorlede is. “Ek is so dankbaar dat Jans my ’n kans gegee het om Abraham te speel. Ek het Abraham net so intens ervaar soos AB, en ek moes ook diep in myself delf om hom te kon speel. Ek hoop dat ek in die toekoms nog baie die kans sal kry om sulke rolle te vertolk.”
Om in Skollie te kon speel, het hom baie geleer. “’n Mens moet aanvaar wie jy is en nie bang wees vir waar jy vandaan kom nie. En jy moet glo in jou drome en bly werk om dit waar te maak. Maar dít kan jy net doen as jy dit graag genoeg wil hê.”