Nie goed genoeg nie? Wat jy kan doen oor gevoelens van minderwaardigheid deur Anet Schoeman. Hooffoto: iStock/Stígur Már Karlsson /Heimsmyndir
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
Onlangs het ’n vriendin vir haar ma in die aftree-oord gaan kuier. Haar ma was haar lewe lank baie gesteld op haar voorkoms en op byna negentig word haar hare steeds noukeurig gekleur en haar grimering, juwele, naels en kleurkoördinering bly ’n prioriteit.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die vriendin is ’n hoogs intelligente vrou – ’n professor in chemie met ’n rits akademiese toekennings agter haar naam. Maar voorkoms en mode is van minder belang. Gemaklike skoene, hare in ’n poniestert en vormlose klere was haar keuse vir die kuiertjie. Sy was tog sprakeloos toe haar ma haar aan mense by die aftree-oord voorstel met: “Dis my dogter Trudie*. Sy is nie my mooi dogter nie.”
(*Skuilnaam.)
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Cheryl Gräser-Pruss, ’n kliniese sielkundige by Akeso in Randburg, glo dat ma’s eers aan hulself moet werk en hul eie emosies en gevoelens moet verstaan voor hulle ’n gesonde selfbeeld aan hul dogters kan oordra.
“Ma’s dra meestal kinders se belange op die hart, maar ma’s wat minderwaardig voel, kan onbewustelik hul dogters met dieselfde gevoel van ‘nie goed genoeg nie’ opsaal. Soms is ma’s ook geneig om dogters as ’n verlengstuk van hulself te sien.”
Hierdie patrone word al vroeg in ’n kind se lewe neergelê sonder dat ouers of kinders daarvan bewus is. Die selfvertroue-kwessie kom dikwels eers in die tienerjare na vore en dan is dit moeilik om te verstaan wat dit veroorsaak het.
Soms kan die tydsberekening en aard van ’n voorval die ware gebeure oorskadu. Cheryl vertel van ’n kliënt wat as kind in ’n openbare plek ’n pak slae gekry het. “Dit was iets wat nooit tevore gebeur het nie en sy het so verneder en geskok gevoel dat dit haar tot in haar volwassenheid bygebly het. Sy het hierna gesukkel om mense te vertrou. Toe sy as volwassene dié voorval as die bron van haar probleme geïdentifiseer het, het sy besef dat sy die omstandighede uit verband geruk het. Sy kon met haar nuwe insig die situasie in ’n ander lig sien en haar probleme afskud.
“Dis so belangrik dat ouers die soort kwessies agterna bespreek sodat kinders dit in die regte lig kan sien. Die meeste ouers is baie besig, maar die tyd wat jy in tieners belê, gaan soveel waarde inhou. Kinders voel soms vasgevang in reëls en dat hulle niemand het wat kan luister nie.”
“Ek het so ’n stel met my tienerdogter afgetrap. Sy was die modeltiener en ek het so geseën gevoel. Tot sy ’n nuwe vriendin gekry het en skielik nie betyds huis toe gekom het nie en na sigarette en alkohol geruik het. Ek het agtergekom dat sy vir my jok en toe ek meer reëls en regulasies neerlê, het dinge net vererger. Ek was radeloos en het by haar gaan sit en gesê: ‘Jy word so vinnig groot dat ek nie kan byhou nie. Dis my rol om jou veilig te hou, maar ek weet nie hoe nie. Kan jy my help?’ Dit was die eerste van baie logiese en oop gesprekke tussen ons wat ons verhouding verstewig het en die situasie omgekeer het.”
Ouers voel desperaat wanneer tieners onbeheerbaar word, maar jy veg ’n verlore stryd wanneer jy met wette probeer regeer sonder om hul menings en regte ook in ag te neem. Jy moet tieners die geleentheid gee om ’n mening te hê.
Cheryl sê ouers moet besef dis menslik om foute te maak.
“Dis belangrik om na te dink oor wat jy gesê en gedoen het, en bespreek dit met jou kinders. As jy verkeerd was, sê so. Dis ’n uitdaging om vandag ’n ouer te wees. Boonop kom ons ouerskapkennis van ons ouers af wat kinders in ’n heel ander wêreld grootgemaak het. Hedendaagse kinders word deur veel meer as net hul ouers se voorbeeld beïnvloed. As ouers voel hulle kom nie die mas op nie, is dit ’n goeie plan om ’n terapeut te gaan spreek.
“Die uitwerking van woorde kring veel wyer as die bedoelde betekenis uit, en jong kinders smag na die goedkeuring van hul ouers en leerkragte,” sê Sarah Lamont, arbeidsterapeut en
bestuurder van groepterapie by Akeso-kliniek in Randburg. Namate kinders ouer word, behoort die soeke na goedkeuring na vriende te verskuif, maar sommiges haak by goedkeuring van hul ma vas.
Weet dat kleine muisies grote ore het en kinders soms gesprekke tussen volwassenes hoor en verkeerde afleidings maak. “Liana was ’n foutjie,” kan jou manier wees om vir ’n kennis te vertel dat jou jongste nie beplan was nie. Maar dit beteken nie dat sy onwelkom was nie. Tog kan ’n kind dit interpreteer dat sy ongewens is en dit kan tot gevoelens van nie-goed-genoeg-nie lei.
Maar ouers kan nie in vrees leef dat elke woord ’n kind se lewe kan ruïneer nie. “Ons moet bloot bewus wees van uit watter perspektief kinders ons woorde beoordeel. Die werklikheid is dat ouers soms verkeerde goed gaan sê. Solank jy weet dat dit met die beste bedoelings was.”
Sarah waarsku ook teen die teendeel: wanneer ouers kinders heeltyd komplimenteer oor selfs die kleinste dingetjie wat hulle doen. Dit kan die druk verhoog, veral as die fokus op een spesifieke gebied van prestasie is.
“As jy heeltyd vertel watter goeie tennisspeler, danser of sanger jou kind is, word ’n etiket om haar nek gehang en is sy onder druk om jou nie in die steek te laat nie. Sê eerder: “Doen jou bes.”
Te veel lof is net so ’n valstrik soos te veel kritiek. Albei kan aanleiding gee tot kinders wat desperaat na goedkeuring soek. Die probleem is dat kritiek en lof dikwels meer fokus op hoe ons as ouers voel as oor wat die kind gedoen het, en hoe sy daaroor voel. Dit leer kinders nie selfmotivering nie.
Moenie dat hul identiteit deur hul talente bepaal word nie. Komplimenteer hulle as hulle vriendelik, hulpvaardig en geesdriftig is.
Moet dit ook nie altyd oor jouself maak nie. Pleks van te sê: “Ek is so trots op jou,” sê eerder “Jy moet so trots op jouself voel.”
Fokus op die poging eerder as op die resultate. “Jy het werklik hard vir jou toets geleer,” dui daarop dat die poging belangrik was teenoor “Fantasties dat jy ’n A gekry het.” (Lees hierdie vir meer hulp: How to talk to kids so kids will listen and listen so kids wil talk.)
Dis noodsaaklik dat kinders leer dat hulle op ’n mening geregtig is en dat daardie mening belangrik is. Dink mooi voor jy iets sê. Gaan dit nuttig wees? Hoe gaan dit geïnterpreteer word? As jy ’n oop verhouding met jou kind het en julle gereeld gesels, sal jy agterkom wanneer iets pla. Dan is dit maklik om ’n misverstand reg te stel. As jy gedurig beter weet en elke mening afskiet, deel kinders later nie meer hul gevoelens nie.
Sarah vertel dat sy as die middelkind altyd gevoel het haar mening is nie belangrik nie. Sy was die ster totdat haar jonger boetie gebore is, en het daarna uitgesluit gevoel. “Ek het gevoel as ek belangrik was, sou mense aan die etenstafel my mening gevra het. Die werklikheid was dat almal besig was. Ek het stiller en stiller geword. Dit het ’n geweldige uitwerking op my persoonlike ontwikkeling gehad. Ek het soos die mislukking gevoel wat nooit goed genoeg was nie. Dit was eers toe ek as ’n volwassene vir terapie gegaan het dat ek besef het ek het hierdie kritiek en oordeel oor myself uitgespreek.”
Sarah sê sy sien dieselfde verwronge interpretasie van gebeure in die groepterapiesessies waarby sy betrokke is. “Dis min dat ma’s hul kinders met voorbedagte rade afkraak en minderwaardig laat voel. Oor die algemeen bring ons hierdie afkeuring oor onsself deur ons interpretasie van gebeure.”
As jy kinders kan leer dat hulle goed genoeg is, sal ander se mening van hulle nie soveel gewig dra nie.
“Gewoonlik is die voorval waaruit ons die afleiding maak werklik. Maar dis ons interpretasie daarvan wat dit skeeftrek. Ons laat toe dat mense se menings ons definieer as ons gedurig na hul goedkeuring soek,” sê Sarah.
Sy sê net soos party mense die lewe deur ’n rooskleurige bril sien, is daar ander wat alles in ’n negatiewe lig sien. “Probeer bepaal waar jou oortuiging dat jy nie goed genoeg is nie vandaan kom. Probeer die situasie in ’n ander lig sien en omraam dit met nuwe, positiewe emosies. So kan jou interpretasie daarvan ook verander. Probeer om die irrasionele te rasionaliseer. ’n Terapeut kan baie help, want ons irrasionele denke en idees is dikwels ons blinde kol.
“As ’n ouer moet jy probeer om opbouende kritiek te lewer. As jy ná ’n slegte dag op kantoor by sussie hoor dat sy nie goed in ’n toets gedoen het nie en sê: “Ek kan altyd op jou reken om my slegte dag nog ’n entjie slegter te maak,” worstel die kind met die teleurstelling van swak toetspunte én jou afkeuring.”
Maar ouers is menslik en maak foute en dis hoekom ouers tyd moet maak om na te dink oor wat die uitwerking kan wees van dinge wat hulle gesê en gedoen het. As jy besef dat jy ’n onbesonne ding kwytgeraak het, bespreek dit met jou kind. Sê jy is jammer as jy oorhaastig met jou woorde was en verduidelik wat jy eintlik bedoel het. Dis nie dat jy as ouer gefaal het nie, maar dit leer kinders die waardevolle les leer dat jy dinge kan regstel deur daaroor te praat.
Inligting deur Mike Robbins. Lees sy boek “Be Yourself, Everybody Else is Already taken”.
#rrTussenOns
Lees ook: 7 maniere om werklik te ontspan
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.