So skryf Yolande de Klerk aan rooi rose oor die pyn wat dié vraag wat sy tot vervelens toe moes beantwoord, veroorsaak. Sy moes die vraag al te midde van groot belangstelling beantwoord op ’n eenjarige se verjaardagparty, op ’n sosiale geleentheid wat haar ma gereël het, selfs wanneer sy inkopies doen en ’n vriendin raakloop wat sy lank laas gesien het. Sy is ’n jong vrou met ’n wonderlike werk wat haar per skip na baie dele van die wêreld neem. Maar sodra sy vir ’n ruk tuis is, word haar ringlose hand met nuuskierigheid en/of simpatie betrag.
Dié vrae en aanverwante vrae soos: “Ek sien daar is nog nie ’n ring aan jou vinger nie” of “Nog nie ’n spesiale man in jou lewe nie?” irriteer baie enkellopende vroue. Ander sê hulle verstaan dat hul familie bekommerd is oor hulle, maar dat die bekommernis nie nodig is nie omdat hulle hul eie lewenstyl gekies het. Een jong vrou het ook haar hart oopgemaak en vertel hoe intens eensaam sy is en van haar wens om ’n trouman te ontmoet.
Al die vroue met wie rooi rose gesels het, is aantreklike vroue in hul laat twintiger- of dertigerjare.
“Op die vraag of daar ’n spesiale man in my lewe is, antwoord ek gewoonlik dat daar baie spesiale mense in my lewe is. Die antwoord ontmoedig die meeste mense om verder uit te vra,” sê donkerkop Rozanne Myburgh, digitale redakteur by ’n vrouetydskrif.
Dié soort vrae irriteer my, sê die modebewuste senior joernalis Suzanne Venter. “Veral omdat ek amper op trou was, en mense wat dié soort vrae vra, het gewoonlik nie ’n idee wat in ’n mens se lewe aangaan nie. Die teleurstellings wat ek al gehad het, het my sterk gemaak en die mans wat ek daarna ontmoet het, kon nie altyd daarmee vrede maak nie. Maar dis persoonlik en het werklik nie ’n snars met iemand anders uit te waai nie.”
Bertha* is ’n mooi, professionele dertigplusser met lang, blonde hare. Sy sê haar antwoord op dié vrae is baie kort: Sy het nog nie die régte man ontmoet nie. Sy verstaan dat haar familie so effe bekommerd is daaroor dat daar nie ’n man aan haar sy is nie, laat staan nog dat sy ongetroud is. “Ek is nie soos die meeste van my vriende en familie met my hoërskool- of universiteitskêrel getroud nie.”
“Ek het ’n hele paar kêrels gehad, maar nie een van hulle was troumateriaal nie. Ek was ook nie in my twintiger- of vroeë dertigerjare gereed vir ’n huwelik nie. Ek het in elk geval nooit gedink ek sal vroeg trou nie. As enigste kind is ek daaraan gewoond om alleen te wees en dit het my nooit gepla nie. Om die waarheid te sê geniet ek my alleentyd en is nogal selfsugtig wanneer dit by vrye tyd kom.
“My werk is op die oomblik my prioriteit, maar dit beteken nie noodwendig dit gaan so bly nie. Ek voel nou, op 37, vir die eerste keer gereed vir ’n langtermynverhouding en ek wil graag trou en met ’n gesin begin. “Die probleem is net om die regte man te ontmoet. Almal in my vriendekring is getroud en hul vriende is ook getroud of in vaste verhoudings. Ek het al die Internet probeer, maar die ‘vreemde verskynsels’ daar het my laat besluit nooit weer nie. Ek was ook al op heelwat blind dates, maar nie een het ’n tweede afspraak geïnspireer nie.”
“Ek hou nie van situasies waarin jy veronderstel is om jou flikkers te gooi en jou beste bates te moet paradeer nie. Ek voel gemakliker in ’n situasie waar jy mans toevallig ontmoet. Maar dit gebeur feitlik nooit meer nie, omdat ek my baie selde in situasies bevind waar ek nuwe mense ontmoet.”
Rozanne sê sy verpes dit as mense haar daardie vraag vra, “want dit het werklik niks met ander mense te doen nie. Boonop is die hele kultuur van trou en kinders kry vir my ’n groot probleem. Ek dink ek rebelleer my lewe lank al daarteen. Dis so eng asof daar niks anders in ’n vrou se lewe is nie.
“Dit beteken nie dat ek nooit sal trou nie, maar ek het nog nooit iemand ontmoet met wie ek wil trou nie. Ek word gereeld op blind dates genooi en dis meestal net ’n frustrasie. Ek doen my bes om dit eerder te sien as ’n geleentheid om nuwe mense te ontmoet en vriende te maak. Ek weet vriende en familie het meestal goeie bedoelings, maar ek het ook al agtergekom dat mense onsensitief kan wees. Veral diegene wat glo dis belangrik om op dertig getroud te wees kan nogal bitsig raak omdat ek nie getroud is nie. Maar ek voel nie of ek moet trou net omdat dit die kultuur en die verwagting is nie.”
Yolande vertel dat iemand in een van daardie stiltes in ’n geselskap gevra het: “So, het jy al iemand deur al jou reise ontmoet?”
Sy kon dom speel en van al haar vriende en kennisse uit verskillende nasionaliteite vertel, maar byna dadelik daarna het die vrou gevra: “Wíl jy nie trou nie?”
Sy skryf: “Ek voel hoe ek bewus word van al die oë op my en wil wegsink in die bank waarop ek sit. Ek voel oorbewus van my ongetroude status … Ja, ek wil trou. Dink sy dat ek vir myself blomme wil koop en briewe wil skryf? Dat ek saam met ’n kat en ’n kanarie oud wil word? Nee, antwoord ek, ek het nog nie my toekomstige man ontmoet nie.” Toe sê die stil vrou langs Yolande baie opgewonde: “Ek moet jou aan my seun voorstel. Hy swerf ook so rond as gevolg van sy werk. Ek en my man is nou juis lus vir kleinkinders.” Yolande kon net glimlag.
Want eintlik hou sy glad nie van so ’n reddingspoging deur ’n barmhartige romanleser nie. Elke keer as die arme man wat bel sy rympie aframmel om sy oproep te probeer verduidelik sê sy: ”Jammer, maar ek stel nie belang nie.” “En ja ek voel sleg, want die arme man het seker vreeslik baie moed bymekaargeskraap. Maar wat ek veral voel, is woede teenoor die mens wat my en die man in so ’n ongemaklike situasie gedompel het met hul inmengery.”
Aantreklike donkerkop Theonette Mostert, industriële ontwerper, skryf dat sy op 27 eintlik al getroud, of minstens in ’n vaste verhouding sou wou wees.
“Hoewel ek nooit daaroor praat nie en die meeste mense wat ek ken nie ’n bohaai daaroor maak nie, weet net my familie hoe diep eensaam ek rêrig is. Ek en my suster praat baie nagte oor my ongehude status. Sy is die een van die gelukkiges wat nog altyd ’n man aan haar sy gehad het. Dit opsigself is nie vir my maklik nie, maar sy ken my hart en treur saam met my.”
“Ek weet rêrig nie wat die fout is dat my trouman my nog nie kom haal het nie, of hoekom ek op ’n uitaand nie baie aandag kry nie. Ek wil nie een van daardie vroue wees wie se enigste doel in die lewe is om ’n man te vang nie. My ouers het my ook nie opgevoed om in die groep te kafoefel nie. En ek speel nie speletjies nie. Miskien skrik dit hulle af. As dit die geval is, is dit seker maar vir die beste, want ná al die jare van alleen wees, sal my hart nie iemand wat my net vir my lyf wil gebruik, kan oorleef nie.
“Troues, familiegeleenthede en werksgesellighede is die moeilikste. Daar word dit altyd van jou verwag om iemand aan jou sy te hê en as jy alleen opdaag, kan jy verseker wees dat mense daaroor sal praat. “Soms is die ‘toemaar jou man is op pad’-gesprek moeiliker as die ‘geniet jou lewe sonder ’n man’-gesprek. Maar dis altyd daar en dit speel oor en oor in jou kop af lank nadat die dansvloer leeg is.
“In Johannesburg kom ek net met twee soorte mans in aanraking: dié wat getroud is en dié wat nie getroud is nie – om ’n rede. Mense sê baie hoe spesiaal ek is en hoe ek net moet wag, maar die stemmetjie in my binneste skree dat as ek nog langer wag, my biologiese klok gaan breek.
“Baie keer dink ek dat ek my geliefde êrens misgeloop het en dat die lewe nou maar net voortstoom. Gewoonlik gee my suster my dan ’n streng kyk en sê: ‘Die Here het ’n plan, hou nou op.’ Dan werk ek hard, reis wanneer ek kan en gee aandag aan my groot liefde: kos maak … Tot die volgende troue.”
Suzanne sê dat sy haar nie te veel steur aan wat ander sê nie.
“Ek weet mos wat in my lewe aangaan. In elk geval verloop niemand se lewe presies soos hulle daaroor gedroom het nie. Mense pla my eintlik nie meer so erg daaroor nie. Ek dink dis omdat ek grense gestel het. En baie van my vriende is ouer, geskeide vroue en hulle moedig jou ook nie soveel tot trou aan nie – buiten as dit met die regte man is.”
“Ek het jare gelede ’n baie ernstige verhouding gehad wat baie hartseer geëindig het en mense na aan my weet dit. Dit het my jare geneem om die pyn te verwerk en ek dink dat ek nou eers weer reg is vir ’n verhouding.“
Die laaste woord behoort aan Yolande: “Ek het nie ’n padkaart of ’n vervaldatum na my troudag gekry nie. Maar daar is wel mense wat my laat wonder of ek nie my man saam met my rybewys moes kry nie … Hoekom nie? Ek weet nie!”
Lees ook: Hallo ‘cougar’