Sy word soggens langs die Hudson-rivier wakker. Die vrou met die gesig wat al op ’n groot skerm in New York se besige Times Square en op die kant van ’n enorme gebou te sien was. Op 36 is Nicola Breytenbach steeds die soort skoonheid wat wêreldwyd in advertensies vir juwele en diamante skitter.
Sy het as topmodel met Dior, Versace en Revlon die soort kontrakte losgeslaan wat mense oornag bekend maak. Ná 17 jaar in die bedryf het hierdie Suid-Afrikaner van geboorte vir haar ’n gesogte plekkie in New York met sy meer as 8,5 miljoen inwoners uitgekerf. Die liedjie sê nie verniet dat as jy daarin kan slaag om in hierdie mededingende wêreldstad uit te styg, jy oral sal kan uitstyg nie.
En tog soek jy verniet na enige tekens van glansgansie-gedrag by hierdie ma van twee, sê rolprentvervaardiger Piet de Jager. Hy glimlag omdat hy “die slim boeredogter wat haar in die buiteland bewys het”, ’n jaar of wat gelede kon aankeer om haar debuut as aktrise in die Suid-Afrikaanse rolprent Free State te kom maak.
“Nicola is een van die mooiste vroue op aarde. Die Amerikaners dink so en ek dink ook so,” noem hy een van die beweegredes waarom sy die hoofrol losgeslaan het. “En nederig, hoor. Sy was bereid om vir veel minder as wat sy in die buiteland kan verdien, vir ons te kom speel.”
Die rolprent, vanjaar (2016) gewys word, is deur Piet se seun Sallas, ’n bekroonde rolprentmaker, geskryf en geregisseer. Dit is deur Bosbok Ses Films en Utkarsh Entertainment in samewerking met die Indiese produksiemaatskappy Parnam Entertainment vervaardig.
Die verhaal speel hom in 1979 af en wentel om ’n verbode liefdesverhouding tussen Jeanette, ’n wit Afrikaanse meisie, en Ravi, ’n Indiërman.
Nicola speel die rol van Jeanette teenoor die voormalige Mnr. Suid-Afrika en Top Billing-aanbieder, Andrew Govender. Die rolverdeling sluit ook akteurs soos Leleti Khumalo (Sarafina, Yesterday), Deon Lotz (Roepman, Skoonheid) en Rolanda Marais (Wolwedans in die Skemer, Ballade vir ’n Enkeling) in. Marathi- en Bollywood-ster Mangesh Desai maak terselfdertyd sy eerste internasionale verskyning.
Sallas sê: “Ek het Nicola glad nie geken nie maar het dadelik geweet sy het al die elemente wat Jeanette gaan verg. Haar emosionele intelligensie, dit wat ’n akteur nodig het om in ’n karakter se lewe en lyf te klim, is verstommend. Dis ’n kuns om dit oortuigend te kan doen en sy het dit net. Die manier waarop sy die rol benader het, laat jou besef die sukses wat sy as model en nou weer as aktrise behaal, kom haar toe. Daar is toewyding. Én beskeidenheid. Dit dwing respek af.”
‘Free State het my in meer as een opsig weer huis toe gebring na al die goed wat vir my belangrik is’ – Nicola
Free State was nie ’n maklike storie om te vertel nie, sê hy.
“Ek is baie trots op die span akteurs en tegnici wat daarin geslaag het om lewe in die draaiboek te blaas. Dit ontgin die probleme van die ouer-kind-verhouding in drie gesinne wanneer hulle deur die rimpeleffek van die verbode liefdesverhouding tussen Ravi en Jeanette gekonfronteer word.
“Ouers het ’n universele behoefte dat hul kind ware geluk moet vind. Daarom dus die verwikkeldheid as die kind afwyk van die riglyne wat sy van kindsbeen af geleer het. Ouers wil graag hul kinders teen die genadeloosheid van ’n samelewing beskerm wanneer iemand die ‘reëls’ oortree. Maar een persoon se liefde vir ’n ander bly een van die kragtigste menslike ervarings. Selfs nie die tragiese aard van verbode liefde is genoeg om gewone, goeie mense te keer om alles wat hulle het op die spel te plaas vir iets wat groter as hulself is nie,” sê De Jager.
Die onbeskaamde romantikus in Nicola kon dadelik hierby aansluiting vind.
Ons ontmoet mekaar in Kaapstad waar sy eers by haar prokureur-pa, Dick Breytenbach, kuier voordat sy terugkeer Amerika toe. Sy is nog kennelik opgewonde oor alles wat sy met die maak van die rolprent beleef het. Om die eerste keer deel van ’n rolprentspan te kon wees en dit omring deur haar “eie mense”, laat alles in haar tintel.
“Ek sal áltyd terugkom om met sulke mense te werk. Dit was ongelooflik,” sê sy. “Elke dag, of jy nou vieruur in die oggend op moes wees of nie, was vir my goed en opwindend.
“Free State is ’n mooi storie. En ek hóú van mooi stories.” Danksy haar kontak met haar familie, vloei haar Afrikaans ná al die jare in die buiteland steeds verrassend glad en skoon.
“Wanneer ons in Desember Kaap toe kom, is almal gewoonlik by die see en hoor ’n mens min Afrikaans. Maar ná die ses weke op Memel in die Vrystaat saam met die rolprentspan het ou, vergete woorde teruggespring en kon ek lekker loskom.”
Daar was baie dinge in die liefdesverhaal waarmee sy haar kon vereenselwig. “As jong meisie het ek my byvoorbeeld verloor in ’n verhaal soos Gone with the Wind.”
Haar glimlag word breër. “Ek het gelukkig met die regte man getrou. Ben (Steiner) se ma is ’n Amerikaner en sy pa oorspronklik ’n Oostenryker. Hoewel hy in New York grootgeword het, praat sy Joodse familie Engels en Frans. Ons het mekaar deur ’n gemeenskaplike vriendin in Parys ontmoet toe ek vir modelwerk daar was en hy ’n internskap by ’n bank kom doen het. Dit was in die somer van 1999 in die stad van die liefde en die res is geskiedenis!
“My man is enige tyd net so romanties soos ek. Noudat ek by die rolprentwêreld betrokke is, kyk ’n mens uiteraard meer krities, maar Love Story sal ook seker een van my gunstelinge bly.”
Die weke op Memel vir die maak van Free State was vir Nicola, wat van kleins af dramalesse geneem het en aan opvoerings deelgeneem het, ’n intense ervaring. Dis of die storie steeds saam met haar bly loop. Sy weet dit gaan nog ’n tydjie neem vir haar om weer mooi in te pas in haar gewone lewe as vrou vir Ben en ma vir hul dogters Evangeline (6) en Enya (4).
“Free State het my in meer as een opsig weer huis toe gebring na al die goed wat vir my belangrik is. Die apartheidstema word aangeraak maar dis uiteindelik die storie van gewone mense en nie net die groot verhaal van apartheid nie. Daar is in elk geval sosiale kwessies wat wêreldwyd probleme veroorsaak.”
Dit was asof sy iets van haarself weer in die Vrystaat in die hande kon gaan kry. Van die landskap by Memel wat haar teruggevoer het na spesiale tye op haar pa se plaas naby Kestell tot die goeie verhoudings wat sy destyds tog oor die kleurgrense heen beleef het.
“My Afrikaanse kindertyd het ’n onuitwisbare grondslag gelê vir die res van my lewe. Die Maria wat vir Jeanette grootmaak, het my herinner aan die Maria wat my opgepas het – sy was soos ’n ma. Ek onthou klein, spesiale goedjies soos dat ons in die tuin gespeel het en dat sy my rondgedra het.”
‘Elke dag, of jy nou vieruur in die oggend op moes wees of nie, was vir my goed en opwindend’
Nicola is dankbaar dat haar kinders nou ook iets van hierdie wydse, aardse wêreld kon kom proe waar sy en haar boetie as kinders die dag kon betree “sonder dat iemand hulle hulle oor ons veiligheid bekommer het of sou wonder waar ons is. Ons wou net altyd buite toe, koeie en varke toe. Aan jouself oorgelaat om te ontdek maar tog met die wete dat ons ouers wel iewers is”.
Op besoek aan haar ma se suster, Sanda Koen, in Pretoria was dit ook of die tyd gaan stilstaan het sedert sy as 13-jarige die Suid-Afrikaanse kuslyn moes agterlaat. Haar stiefpa, Johan Rautenbach, is destyds na die Verenigde Nasies in Switserland verplaas. “Dit was aanvanklik maar ’n gesukkel met die Frans en ek het my vriende gemis, maar dit het ook ’n nuwe, internasionale wêreld vir my oopgebreek,” onthou sy haar tienerjare.
“My tannie-hulle bly steeds in dieselfde huis in Centurion waar ons as kinders smiddae krieket op die grasperk gespeel het. Terwyl my ma gewerk het, het ek smiddae ná skool daar gaan bly. Nou kon my kinders op hul beurt weer elke middag toebroodjies in die kombuis eet en agterna in dieselfde swembad rinkink of onder dieselfde jakarandaboom gaan sit as ons. Dis of ek by die bekende reuk van daardie huis weer ’n kind word.”
En nou woon Nicola en haar gesin ’n blok weg van die 9/11- gedenkteken in die stad waarop sy dadelik verlief geraak het nadat sy destyds die geleentheid gekry het om daar vir die Donald Trump-agentskap te gaan werk. “Tribeca is stiller as die res van die stad en daar is baie parke vir die kinders. Dit voel nie of jy so in die middel van als is nie.”
Hulle was daar met die aanval op die Twin Towers, ’n dag wat vir elke New Yorker gevoel het asof ’n stroom jou diepsee toe intrek. Sy wil soos enige ma ’n pad vir haar kinders vorentoe help maak.
“Die Amerikaanse politiek maak my nogal senuweeagtig. Die terreur raak ’n al hoe groter faktor. ’n Mens wil graag jou kinders hoopvol stem en veilig sien grootword. Ek lees koerant, maar wil regtig nie elke dag CNN kyk nie.”
Die saggeaarde Ben – “hy slaag daarin om sonder ’n bohaai dinge gedoen te kry en het ’n kalmerende invloed op my” – bring balans in haar lewe, sê Nicola. “Hy trek mense aan. Ek dink nie hy het ’n vyand in hierdie wêreld nie en sy gesin is vir hom belangrik. Ons vier nou ook Vrydag-aande as gesin Shabbat wat vir ons en ons kinders ’n vaste punt in ’n veranderende wêreld is.
“Ek is die meer ekstroverte een, ’n georganiseerde lysie-mens en altyd aan die gang. Soms moet ek waak teen my neiging om perfeksionisties te wees. Ek weet ek moet meer tyd vir myself inruim, soms net rustiger wees en my meer aan die kreatiewe proses oorgee.”
Maar sy is in die middel van waar sy wil wees. Die lewe het vir haar iets van alles en ’n bietjie meer gegee en sy is dankbaar daaroor. As alles goed gaan, wag daar vanjaar ’n eerste Amerikaanse rolprent en sy hoop op meer as net een kort vertoon-vluggie.
Nicola het ’n nuwe kwas opgetel. Een wat sy na alle waar-skynlikheid net so goed soos die vorige een gaan beheer.
Nicola oor model-wees
“My ma se haarkapper in Holland het raakgesien dat ek oor die nodige eienskappe beskik om ’n sukses van modelwerk te maak. Dit het vir my baie deure oopgemaak maar ek is tog soms spyt dat ek nie verder studeer het nie. Ek kon my nie altyd op ’n persoonlike vlak met die modewêreld vereenselwig nie. Die mens wat jy eintlik is, is soms ver verwyderd van die glanspersoonlikheid na buite.
“Ek dink die beeld wat die modewêreld vandag uitstraal, is ’n bietjie te jonk. Die jong meisies in hul onderklere wat so opgehemel word, skep verkeerde indrukke.
“My raad aan iemand wat in modelwerk belang stel, is dat jy bereid moet wees om hard te werk en moet glo in jouself en wat jy wil bereik. En jy moet kan deurdruk!”
Nicola oor aktrise-wees
“Dit was maar altyd in my agterkop om eendag my hand aan aktrise-wees te waag, maar terwyl die modelwerk my tyd so in beslag geneem het, het ek nie eens weer daaraan gedink nie. Ons was altyd aan’t beweeg maar moederskap dop ’n mens se lewe om. Gelukkig kan ek my ma, Rina, wat in Genève woon, kry om by die kinders te kom bly wanneer ek en Ben, ’n sakeman, soms gelyk weg is.
“Ek wil nie nou meer te veel modelwerk doen nie en het begin om weer dramaklasse in New York te neem. ’n Mens is nou ouer en die groter lewenservaring help jou om meer na ’n karakter toe te bring.”