Daar is ’n gesegde in die vermaakbedryf dat jy nooit met kinders, water of diere moet werk nie. Dit het die skrywer en regisseur van Nêrens, Noord-Kaap, Nico Scheepers, beslis nie afgesit nie. Reeds met die eerste reeks het hy vier jong spelers sentraal tot die sukses gemaak en in Deel II wys dié vier weer hulle staal, met twee jong aktrises wat hulle by die span aansluit. Interessant genoeg is twee van die Adendorff-boeties – Thommi en Lehan Swanepoel – en die twee jong aktrises – Nina en Inge Dippenaar – in die werklike lewe broers en susters.
Lees ook: ‘Nêrens, Noord-Kaap’ se talentvolle jong spelers
Nico, jy het jou nie juis aan die reël oor kinders, water of diere gesteur nie.
Ek kan verstaan dat dit gesê word as jy in TV, film en teater werk, maar dis die elemente waarvan ek nie kan wegbly nie. Dit is so deel van die lewe. Ek is so moeg vir stories waar kinders vir ’n minuut gesien word en dan word hulle weggestuur sodat die grootmense kan praat. Asof hulle muurblommetjies of meubels is. Kinders is mense en hulle moet gerespekteer word.
Toe jy Deel I geskryf het, het jy van die begin geweet jy wil die agtergrond van die drie broers as kinders wys?
Omdat die broers in die toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap gepraat het van toe hulle klein seuntjies was, het ek van die begin geweet hulle moet deel van die reeks wees. Ek hou nie daarvan om dit terugflitse te noem nie, omdat dit vir my ’n paralelle storielyn is. Dis so belangrik om te weet wat hulle maak tiek en hoekom hulle is wat hulle vandag is.
Lees ook: Om weer in Andries se skoene te klim: De Klerk Oelofse oor sy pad met ‘Nêrens, Noord-Kaap‘
Hoe het jy by die jong akteurs uitgekom en hoe het jy op elkeen besluit?
Ons het wyd gesoek. Deur agentskappe, Facebook en het landswyd skole gekontak. Daar is vir ons videos gestuur en dit is hoe ons die kinders gekies het.
Thommi Swanepoel (klein Frans) was eerste keuse vir Frans en Lehan Swanepoel (klein Ronnie) was eerste keuse vir Ronnie. Dit was eers toe Chanél Muller, die vervaardiger, die ouers gekontak het om te sê hulle het die rolle gekry, dat ons uitgevind het hulle is boeties. Die feit dat hulle boeties is, het dus niks te doen gehad met die feit dat hulle die rolle gekry het nie. Dit was net die kersie op die koek.
Ek het vir Johannes (klein Andries) in die fliek Racheltjie de Beer gesien en daar is net iets magneties aan hom. Hy het natuurlik ook blonde hare en blou oë en lyk presies soos De Klerk Oelofse. Johannes het ’n oudisie gedoen en dit was ’n baie maklike besluit om vir hom die rol te gee.
Arnold Swart, wat Lourens speel, was die moeilikste om te cast omdat hy net soveel dialoog en tonele het soos die volwasse akteurs. Ons het verskriklik baie oudisies gekyk, maar daar was net iets aan Arnold. Dis moeilik om vas te vang hoekom hy mens so vasgryp, maar daar is ’n rou eerlikheid aan hom. Toe ek na sy video gekyk het, het my gut wawiele en bokspringe gemaak. Mens luister nie na mense om jou nie, vertrou net jou gut. Die eerste dag op stel het ons geweet ons het die regte keuse gemaak en nou met Deel II, het hy nog moeilker werk om te doen.
Dis nie vir my nodig om sy lof te sing nie. Alles is op die skerm. Ek dink mense vergeet dat hy dertien, veertien jaar oud is. Hy werk geweldig hard en ken altyd sy woorde. In al die tyd wat ek saam met hom gewerk het, het ek hom nog net een keer met papiere in sy hand sien staan. Hy luister en dis hoekom hy ‘n goeie akteur is.
In Deel II is daar twee jong spelers wat by die rolverdeling kom: Nina Dippenaar wat die jong Lorrie speel en Inge Dippenaar wat Lourens se vriendin speel. Waar het jy hierdie talentvolle sussies opgespoor? Is die rolle geskryf met hulle in gedagte?
Ek het in 2019 die regie van die verhoogproduksie Katvoet behartig en daar was nege mense op die verhoog en drie van hulle was die Dippenaar-sussies – Nina, Inge en hulle ouer sussie, Mia. Ek ken hulle dus al ’n paar jaar want hulle het saam met hulle ma van fees na fees gereis. As jy saam aan so teaterstuk werk, word jy soos familie.
Toe ek Deel II geskryf het en die karakters geskep het, het ek van die begin geweet Nina moet klein Lorrie speel. Ek weet nie of mense dit agterkom nie, maar dis ’n bo-natuurlike toeval dat sy en Shana Mans wat Lorrie speel letterlik soos dieselfde mens lyk. Hulle mannerismes, hulle spraakpatrone, hulle monde is dieselfde. Dis iets wat in ons skoot geval het dat hulle so dieselfde is.
Ek het oorweeg om oudisies te doen vir die rol van Marli, maar het toe besluit om vir Inge te gebruik omdat sy ’n uitstekende aktrise is. Dit help ook dat jy weet jy kan met mense werk.
Ek kan nie wag dat mense sien wat hierdie kinders op die skerm gaan doen nie. Hulle doen ongelooflike werk. Ek vergeet hulle is kinders.
Het jou betrokkenheid by tienertoneel gehelp om met jong spelers te werk? Wat moet ’n regisseur doen om sulke natuurlike vertolkings uit kinders te kry soos jy in NNK kry?
Dit het beslis daar begin, maar dis anders om met kleintjies te werk. My reël is dat niemand op stel met die kinders oor hulle vertolkings mag praat nie. Die oomblik wanneer jy dit doen, kan jy die een ding wat jy nodig het verwoes, en dit is die onskuld. Hulle moet onskuldig bly en hulle moenie bewus van hulself wees nie. Ek is die enigste een wat op stel met hulle oor hulle werk praat en ek praat met hulle asof hulle grootmense is.
Elkeen van die kinders op Nêrens, Noord-Kaap se plek is net so belangrik as wat iemand soos Frank Opperman s’n is. Ek dink hulle voel dit aan en staan dan hulle eie skoene vol. Hulle is nie bang om vrae te vra nie en hulle luister. Net soos jy nie na ’n volwasse akteur toe sal stap en op jou bene klap en soos vir ’n hondjie sal sê hoe oulik hulle is nie, doen jy dit nie met ’n kinderakteur nie. Dis disrespekvol en doen die teenoorgestelde as wat jy wil hê. Die kinders is nie op stel om te speel nie, hulle is daar om te werk en ons hanteer hulle met die respek wat hulle verdien.
Nêrens, Noord-Kaap DEEL II wys Dinsdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Episodes is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.
Lees ook: Vyf-vinnige-vrae met ‘Diepe waters’ se twee nuwe gesigte