Neurodiversiteit, die reeks verskillende breinstrukture en -chemie wat onder mense te vinde is, sluit outisme, AGHS (aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom), disleksie, OKS (obsessief-kompulsiewe steuring) en probleme met sensoriese integrasie in. Neurodiverse kinders kan bykomende struikelblokke in die lewe ondervind met betrekking tot sosiale verhoudings, kommunikasie, taalvaardighede, buie, motoriese koördinasie, aandag, aktiwiteitsvlak en slaap.
Baie neurodiverse kinders word wêreldwyd by die hoofstroom- opvoedingstelsel ingesluit, en Neurodiversiteit is nie dieselfde as gestremdheid nie hoewel sommige kinders spesiale voorsiening in hul onderrigomgewing kan benodig.
Tracy Fletcher Davies, ’n kliniese sielkundige by die Sentrum vir Neurodiversiteit in Kaapstad, sê: “Die jongste navorsing dui daarop dat probleme met neurodiversiteit gesamentlik kan voorkom en oorvleuel, en nie so alleenstaande is as wat ons voorheen gedink het nie. Ander geestesgesondheidsprobleme kan saam met uitdagings van neurodiversiteit voorkom. Die ervaring van neurodiversiteit is dus baie uniek en veranderlik, en neurodiverse kinders kan verskillende soorte aanpassings benodig om suksesvol te wees op skool in sowel akademiese onderrig as sosiale ontwikkeling.”
Koa Akademie, Suid-Afrika se baanbrekende en bekroonde hoëbetrokkenheid- aanlyn skool, sluit opleiding in neurodiversiteit vir sy onderwysers in en deel bewustheid van neurodiversiteit met ouers en leerders.
Jason Hutchinson, die hoof van akademie in voortgesette onderwys en opleiding by Koa, sê: “Hoewel Koa nie ingerig is as ’n aanlyn skool vir leerders wat met neurodiversiteit gediagnoseer is nie, erken ons dit is onvermydelik dat neurodiverse kinders, ouers en onderwysers in ons skoolgemeenskap verteenwoordig sal word. Dit is noodsaaklik om ‘n skoolomgewing te hê wat gegrond is op begrip, erkenning en verdraagsaamheid, want hierdie faktore lê aan die kern van sosiale en selfaanvaarding. Wanneer ons diegene rondom ons kan erken en verstaan, kan ons elkeen se potensiaal maksimaliseer. Die aanvaarding van neurodiversiteit is nie net vir neurodiverse mense nie; neurotipiese mense speel ’n sleutelrol daarin om te help om ’n ekosisteem te vorm wat inklusief is en almal verwelkom.”
Is aanlyn klaskamers beter as tradisionele onderrig vir neurodiverse kinders?
Alhoewel verskeie studies getoon het dat neurodiverse kinders hul akademiese prestasie in die buigsamer aanlyn onderrigruimte kan verbeter, is dit nie noodwendig die oplossing vir elke kind en gesin nie.
Tracy sê: “Wat van belang is, is hoe die kind se behoeftes en die skool by mekaar pas, hetsy aanlyn of tradisioneel. Kinders het verskillende behoeftes vir mederegulering, struktuur, keuse, roetine, sensoriese stimulasie, verlaagde sensoriese stimulasie, portuurinteraksie, sport, en visuele of gehooronderrigkeuses. Die antwoord lê meer by hoe ’n onderrigomgewing die kind se behoeftes aanspreek as die formaat (aanlyn of persoonlik). Wat ek in my praktyk gevind het, is dat onderwysers kragtige rolspelers kan wees wanneer dit kom by betekenisvolle insluiting. Dit help dus om onderwysers te hê wat neurodiversiteit kan herken en aanvaar. Baie kinders wat hoofstroomskool oorweldigend vind, kan wel floreer in ’n aanlyn skool waar hulle vanuit hul eie, beheerde omgewing in kleiner klasse deelneem en geïndividualiseerde onderrigweë volg. Aanlyn skole kan egter geleenthede vir die ontwikkeling van sosiale en emosionele bande beperk, en dit vereis ook meer oueroorsig en -ondersteuning wat nie prakties moontlik is vir alle gesinne nie. Ons moet dus in die rigting van beter begrip en aanvaarding van neurodiversiteit in alle onderrigruimtes werk.”
’n Mens is neurodivers of jy is nie
Jason sluit af: “Dit is belangrik om te verstaan dat neurodiversiteit nie ’n keuse is nie; dit is nie ’n siekte nie en dit is nie aansteeklik nie. Neurodiversiteit is ’n fisieke verskil in die struktuur van die brein en die chemie wat daarby betrokke is. Diegene met outisme het byvoorbeeld ’n aktiewer amigdala – ’n sentrum vir die beheer van emosionele response en vrees. Wanneer mense met outisme oorgestimuleer word, aktiveer dit ’n reaksie soortgelyk aan dié van ’n neurotipiese persoon wat in die natuur van aangesig tot aangesig kom met ’n honger leeu. Die term ‘spektrum’ kan ook misleidend wees, want neurotipiese mense kan dalk dink hulle is ’n ‘bietjie neurodivers’. Dit is nie so nie – ’n mens is neurodivers of jy is nie. Die karaktereienskappe, aard en neurotipe is egter uniek vir elke individu wat as neurodivers geklassifiseer is. Dit beteken die erns van die impak wat neurodiversiteit op elke persoon het, verskil, en vir sommige kan die impak intens en uitmergelend wees terwyl dit vir ander ’n superkrag of eienskap kan wees wat hulle interessant maak.
Neurodiverse mense kan steeds presteer, spertye haal, deelneem aan situasies en besprekings in ’n klaskamer en op verskillende maniere positiewe, aktiewe lede van die gemeenskap wees. Ja, dit is dalk nodig dat ons moet verander hoe ons verskillende situasies benader om te verseker almal het ’n gelyke en regverdige geleentheid op sukses. Maar dit beteken nie dat ons ons standaarde of verwagtings moet verlaag vir diegene wat as neurodivers erken word nie. Ons moet eerder net verseker dat almal die vlak van ondersteuning ontvang wat hulle benodig om die doelwitte te behaal wat binne hul bereik is. Neurodiversiteit moet nie gebruik word as ’n verskoning om nie suksesvol te wees nie. Dit sal ’n onreg wees vir sowel diegene wat as neurodivers erken word as die breër gemeenskap wat bevoordeel kan word deur die insluiting van neurodiverse mense se unieke perspektiewe.”
Ouers van neurodiverse kinders kan hierdie topwenke van die kliniese sielkundige Tracy Fletcher Davies oorweeg om hul kinders se sukses deur die loop van hul skooljare te help ondersteun:
Toegang tot ondersteuning – van evaluerings tot diagnose, erkenning en ingryping. Dit help om ondersteuning te hê. Daar is verskillende beroepslui wat gesinne kan help, onder wie sielkundiges wat ingelig is oor neurodiversiteit, kinderartse wat in ontwikkeling spesialiseer, neuropsigiaters of pediatriese neuroloë, arbeidsterapeute en spraak- en taalterapeute.
Identifisering van die belangrikste behoeftes in elke ontwikkelingsfase – Die behoeftes van ’n neurodiverse kind verander met verloop van die skooljare. Wanneer u saam met u professionele ondersteuning en opvoeders, die span rondom u kind, werk, is dit nuttig om u kind se huidige uitdagings te identifiseer en gepaste strategieë in werking te stel soos dit nodig word. Dit kan die volgende insluit: doelgerigte intervensies van tyd tot tyd, soos spraak- en taalondersteuning, arbeidsterapie, die gebruik van tegnieke om by die omgewing aan te pas, of die toepassing van ‘n strategie van multidissiplinêre ondersteuning.
Voldoening aan opvoedkundige behoeftes – Daar is baie dinge om in ag te neem wanneer dit kom by die keuse van ’n skool, waaronder u kind se sensoriese profiel, kommunikasievoorkeure, sosiale grense of behoeftes, spesifieke onderrigsterkpunte en -verskille, asook enige bykomende onderrigtoestande wat daarmee saamval. Ouers moet aan uitvoerende funksioneringbystand dink sodat hul kind meer bedrewe is met betrekking tot beplanning, tydsbestuur en emosionele regulering. Dit is ‘n goeie idee om die skool en onderwysers te betrek by die soeke na geleenthede vir u kind om voortdurend te leer deur sy of haar spesiale belangstellings en sterkpunte.
Moedig ’n positiewe neurodiverse identiteit aan – Dit help om daarop te fokus om die waarde in te sien van die gawes en sterkpunte wat dit inhou om ’n neurodiverse kind in die gesin te hê. Ouers kan in ag neem wat lewensgehalte, geluk en vreugde vir elke persoon beteken, eerder as wat die hoofstroomgemeenskap dalk as aanvaarbaar beskou. Wees ontvanklik om al u voorafopgestelde idees uit te daag oor wat onafhanklikheid, sukses, liefde en betekenis is, en luister na u kind se unieke stem.
Vind ’n gemeenskap en wees deel van die verandering – Soos bewustheid groei, raak dit hopelik makliker vir ouers van neurodiverse kinders om deel van ’n ondersteunende neurodiverse gemeenskap te word terwyl hulle ook gelukkige, gesonde verhoudings met neurotipiese familie en vriende kweek. Baie ouers van neurodiverse kinders vind dit sinvol om saam te werk om ’n meer inklusiewe samelewing te bevorder en struikelblokke vir betekenisvolle insluiting te help verwyder.
Meer oor Koa Akademie
Koa Academy is ’n aanlyn skool geakkrediteer deur die Onafhanklike Eksamineringsraad (IEB) in Suid-Afrika vir graad 4-12, en bied ouers ’n toekomsgerigte opsie vir hul kind se opvoeding. Dié akademie is gegrond op ’n visie en raamwerk vir Skool 2.0 en bied ’n hoë mate van leerderbetrokkenheid. Groepe van 8 leerders het ’n toegewese onderwyser in ’n gestruktureerde dog geïndividualiseerde omgewing. Die akademiese program bied geïntegreerde onderrig oor die hele Suid-Afrikaanse kurrikulum deur ’n innoverende aanlyn platform. Leerders het toegang tot sorgvuldig saamgestelde, topopvoedingshulpbronne van oor die hele wêreld. Hulle trek voordeel uit onderwysers wat baie tyd saam met hulle deurbring, deurlopende evaluering wat van pas is vir hul ouderdom en onmiddellike terugvoering deur die leerderpaneelbord. Akademiese vordering is gegrond op bemeestering sodat leerders teen hul eie pas kan voortgaan. Sosiale en emosionele ontwikkeling is ingebou in Koa Academy se onderrigervaring en word daagliks in die klein klasse bevorder. Koa Academy fokus op onderrig wat kinders vir die werklike lewe voorberei en die ontwikkeling van vaardighede en vermoëns wat hulle benodig om suksesvol te wees in die 21ste eeu.
Vir meer inligting oor Koa Akademie, besoek www.koacademy.com
Lees ook: Aktiewe kinders is slimmer kinders