Net een glasie wyn per aand? Dit kan slegter vir jou wees as wat jy dink … deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock
Gesondheid! … of nie?
Jy drink nie. Wel, een jeneweertjie (sic!) saans as jy tuis kom. Één. As jy ’n Bolandse hart het, geniet jy ’n beskaafde glasie wyn saam met jou hoofete. Één.
Dit ís min, maar tog sê dr. Adé van Heerden dat selfs net twee drankies per dag oor tien jaar aan lewerskade gekoppel word. Wat van ’n daaglikse drankie oor dertig, veertig of vyftig jaar, soos baie van ons doen?
Wat dan van al die voordele vir jou hart? Bemarkingsfoefies.
Dis al. Die beste beskikbare bewyse van die vier groot metaondersoeke van die afgelope tien jaar wys elkeen dat drank – of etanol, soos die chemiese verbinding korrek bekend staan – meer skade aan elke orgaan en weefsel in jou liggaam kan doen as die bietjie goed waaroor so hoog opgegee word.
Maar wat van die talle ondersoeke wat op voordele wys, soos die Nurses Health Study? Daarvolgens kan een drankie per dag (vir mans is die perk twee drankies) jou kanse op hartsiektes en beroerte met ’n stewige 25-40% verminder? Dis mos ’n yslike plus?
Lees ook: Het jy al gehoor van tweedehandse drank?
Dit is nie die volle verhaal nie. Die nuwe oorsigondersoeke, soos die een deur die Universiteit van Victoria in Kanada, wat spesifiek gekyk het of matige drinkers langer leef as nie-drinkers, het bevind dat hul lewensverwagting glad nie langer is nie. Al verlaag drank dalk die vlak van jou cholesterol en bloedklontvormingsfaktore, gaan jy as matige drinker nié langer leef nie – en prakties nie baat vind by daardie glasie wyn nie.
Wel, met ’n glasie elke aand sal jy ten minste gelukkiger en lekkerder leef, of hoe? Toe nou ook nie, sê die navorsers vandag. Selfs min drank is potensieel skadelik genoeg. Kyk net watter skades kan jy verwag van ’n drankie elke dag oor ’n leeftyd.
Gelukkig of ongelukkig speel jou gene ’n rol, en dus sal party van ons minder skade opdoen en ander meer skade.
Feit is dat ons almal beter af is sonder ’n daaglikse drankie. (Ek moet erken dat ek deesdae twee keer dink en bra selde ’n glasie skink, ná ek hierdie lysie gesien het …)
Lees ook: 3 mites oor drank wat jy nie moet glo nie
Drink jy regtig net een? Of top jy jou glasie op? Hou ’n bottel wyn jou ’n volle week? Hou ’n bottel jenewer jou ’n volle maand? Sewe drankies op ’n Saterdagaand is nie ekwivalent aan een drankie elke dag van die week nie!
1. Alkohol maak ongelooflik maklik vet
Sal jy elke aand ’n panne-koek gevul met roomys en sjokolade eet, of 500 ml Coke drink en dink jy gaan gewig verloor? Een stewige glas wyn bevat soveel kilojoules!
Lees ook: Wat met jou gebeur as jy ophou drink
2. Kanker
Oor hierdie een twyfel die kenners al dertig jaar lank nié: Die WGO se International Agency for Research on Cancer het al in 1988 alkohol as ’n kankerwekker geklassifiseer. Kanker het veral in die Weste toegeneem – en die gebruik van alkohol ook. Alkohol word in jou lewer na asetaldehied afgebreek, wat vermoedelik die werklike kankerwekker is.
Lees ook: In watter kosse kan ek antioksidante vind?
3. Jou brein krimp
Navorsing wys duidelik dat daaglikse gebruik van alkohol – en nie eens baie nie – die vlakke van homosisteïen in jou bloed opstoot. ’n Duitse ondersoek kon bevestig dat hoë vlakke van homosisteïen die grootste korrelasie met breinkrimping getoon het – meer as enige een van die ander moontlike redes.
4. Skade aan jou brein
Die kenners van die Britse Independent Scientific Committee on Drugs gee alkohol ’n telling van 72/100 vir potensiële skade aan jou brein en senuweestelsel, terwyl gevreesde dwelms soos kokaïen en heroïen s’n onder 60 lê, en sigaretrook selfs onder 25 lê.
5. Swak oordeel en koördinasie
Wyn in alle vorms onderdruk veral die deel van jou brein waar jou goeie oordeel gesetel is. Jy verloor jou vermoë om optrede deeglik deur te dink. Aan die een kant is dit juis een van die voordele van ’n glasie wyn – ons dink minder en verloor ons vrese om te sosialiseer. Terselfdertyd kan ons ook nie so goed die gevolge van ons optrede evalueer nie – en daarom waag ons kanse en skat ons ons optrede verkeerd. Daarom ry ons te vinnig of misreken ons met ’n draai in die pad – wat ons ons gesondheid en selfs ons lewe kan kos.
Lees ook: Wat elke vrou oor mede-afhanklike verhoudings moet weet
6. Maagpyn, opgeblaasdheid en winderigheid
Alkohol is ’n irritant en kan die maag se slymvlies irriteer – veral as jy elke dag drink, en moontlik juis as jy op ’n leë maag drink. Irritasie ly tot inflammasie, wat jy kan ervaar as maagpyn, naarheid en opgeblaasdheid. Vir seker kan ander kos soos sousboontjies en soetgoed jou opgeblase laat voel maar as jy elke dag ’n glasie skink en kla van enige vorm van maagpyn kyk gerus wat gebeur as jy ’n maand lank niks drink nie.
Lees ook: Het jy geweet jy kan ’n vel babelas kry?
7. Meer longinfeksies
Ongelooflik soos dit klink, kan alkohol die immuniteit van jou longe afbreek, wat jou baie meer vatbaar maak vir TB, longontsteking en verkoues. Dus, as jy die een is wat gereeld verkoues kry én elke dag ’n glasie skink …
8. Pynlike jig
Drank is een van die redes waarom ekstra uriensuur vorm, wat as kristalle in jou gewrigte neerslaan. Jy kan jare en jare drink sonder dat jig jou oorval maar die kans is goed dat jy ná dekades gaan ervaar dat selfs net een glasie ’n allerpynlike jigaanval sneller.
Lees ook: Goeie raad vir jig
9. Jou hartritme raak onegalig
Dit verhoog die kans dat jou hartritme aangetas word (arteriële fibrillasie). Dit kan lei tot hartversaking, bloedklonte en demensie.
10. Meer hemorragiese beroerte
Daar is twee vorms van beroerte: die soort wat deur ’n bloedklont wat na die brein skiet, veroorsaak word (iskemiese beroerte) en die soort wat weens bloeding in die brein ontstaan (hemorragiese beroerte). Wyn kan jou kans op die eerste soort verminder máár dit verhoog jou kans op hemorragiese beroerte met 50%, sê die Amerikaanse National Stroke Association.