Dit verstom my dat ek so sukkel om ‘n situasie eenvoudig en feitelik te sien. Ek móét alles alewig emosioneel kleur.
As ‘n beker koffie val, is dit nie net ‘n beker koffie wat val nie. Dis my verstrooide kop wat vergeet het dat my bottervingers die oulike persentbekertjie vashou. En as ek my nie inhou nie, sal ek die storie gaan haal by die dag toe ek besluit het koffie is my drug of choice. Dit hét ek nou van daardie ondeurdagte besluit – ‘n gemors op die kombuisvloer, en heel waarskynlik ‘n lewensverwagting wat met sewe jaar ingeperk is weens onoordeelkundige kaffeïenverbruik. En dan praat ons nie eens van die koste van tallose cappuccino’s oor tallose jare nie. As ek daardie bedrag goed belê het, sou ek moontlik ‘n miniskule motortjie met die opbrengs kon aanskaf.
Is dit ‘n vroueding? Die neiging om ‘n feit in ‘n fliek te verander, meen ek.
Ek luister graag na die spirituele leermeester Eckhart Tolle. Hy weet alles van detachment en ego-identifikasie. In moeilike situasies vra hy: Wat is die feite? (Soos in die feite en níks anders as die feite nie).
Hy fokus streng op dit wat is, en systap die versoeking om sy ego te versterk deur identifikasie met vlekkelose kombuisvloere of cute koffiebekers. Dis die vasklou aan ‘n spesifieke voorwerp of uitkoms, verduidelik hy, wat pyn veroorsaak. Ek kan dit insien. As ek neutraal kon sê “O! ‘n Koffiebeker het pas gebreek”, was alles okay. Maar die waarheid is: ek wil heel koffiebekers èn ‘n blink beeld van myself as kombuisvloereienaar hê.
Ek het duidelik nog ver om te vorder.
Intussen kan ek net sowel die maak-‘n-fliek-van-die-feite-ding geniet. Neem nou maar die feit dat die delikaatste groeiseltjies en blommetjies diè week op onverwagse plekkies in my tuin uitspruit. Meen dit nie die lentefeetjies het besluit om spesiaal moeite te doen om hul towerpoeier juis in hierdie straat in hierdie ou voorstad van Johannesburg te kom uitstrooi nie?