Ronel Nel het in 2012 met hom gesels …
Jy dink dalk dat jy Neil Sandilands ken – jy sien hom tog al die afgelope 22 jaar op Suid-Afrikaanse televisie. Maar daar lê veel meer onder die man se vel, en daar gaan nog meer in sy kop aan as wat jy sou vermoed. Deur Ronel Nel.
Neil het nie bekendstelling nodig aan televisiekykers, fliekgangers, toneelliefhebbers of beoordelaarspanele van rolprente en dokumentêre rolprente nie. Hy was jare lank die geliefde Bart in die sepie 7de Laan; die hoofspeler in die TV-reeks Orion, ook in Katinka Heyns se reeks oor die Anglo-Boereoorlog, Feast of the Uninvited; in Soutmansland, Konings, Meester, Carpe Diem, Unsung Hero, Jozi-H, Snitch, Jakhalsdans …
Dat die man ooit slaap, is ’n wonderwerk, derhalwe was die vier (of was dit sewe?) koppies koffie wat hy met die onderhoud gedrink het, geen verrassing nie.
“Ek is nou al ses jaar sober en is nie van plan om ooit weer daardie roete te volg nie. Dus is koffie nou my enigste ‘kruk’. Ek ken koffie! Swart en bitter soos my siel,” spot hy.
Maar Neil is nie net ’n akteur nie. Hy is, wat mense in die ou dae ’n “Renaissance-man” genoem het, ’n volronde kunstenaar. Tel dit maar op jou vingers af: rolprentmaker, regisseur, vervaardiger, redigeerder, akteur, kunstenaar, digter, sanger en liedjieskrywer (hy speel kitaar dat tot die hout begin huil).
En, wil ek byvoeg: denker-filosoof.
Ek het lank laas, indien ooit, ’n onderhoud met ’n “sepie-akteur” gehad waarvan die grootste gedeelte van die onderhoud oor die nihilisme van die groot filosoof Nietzsche, of die post-modernisme in Chomsky se werke gegaan het.
Geen wonder die beelde waarby Neil afgeneem is, is tekenend van die filosofiese tweestryd in die man se gees nie. Die beelde is pragtige bronswerke van een van Angus Taylor, een van ons voorste beeldhouers, en is getiteld: Co-presence (Apollonian – Dionysian) – wat te sien is by Pretoria se spog-inkopie- sentrum, die Irene Village Mall in Centurion.
Die twee beelde kyk stip na mekaar, takseer, weeg op, elkeen gereed om sy sprong te maak; elkeen gereed om op sy manier sy stempel op die aarde en sy mense af te druk.
Apollo was die Romeinse god van musiek en poësie, maar ook van oorlog. Dionisus was die Griekse god van die kunste – en van wyn. Die god van epifanie, “visioene”, en ’n toonbeeld van die sterflikheid van die mens wat, terselfdertyd, beteken ’n mens moet die lewe aangryp, beleef, kreatief daarin verkeer.
Die twee in kontras is eintlik een. Soos ’n spieëlbeeld van jouself, en selfs dan herken jy jou nie in die ander beeld nie.
Dit suggereer, volgens Dionisus, die geykte – maar ware – uitdrukking: Carpe diem. Gryp die dag.
Maar daar is steeds ’n interne dualisme, ’n verskeurdheid, in die stand teenoor mekaar, al verteenwoordig die twee beelde dieselfde entiteite.
Nou hoe bring jy dit by die méns Neil Sandilands uit?
Wel, as daar ’n lewende voorbeeld van carpe diem is, is dit hy. En van die dualisme wat daar tog in elke mens woed, al is dit onder die oppervlak. Sy skeppingsdrif – dis nie net ’n drang nie, die meeste van ons het dit – is aansteeklik en verbysterend.
Neil bring deesdae die meeste van sy tyd in Los Angeles, in die hart van Hollywood, deur. Nie om te kyk of hy ’n gelukkie tref en iemand hom dalk ’n werk as akteur aanbied nie. Hy wérk. En hy doen goed, dankie.
Hy het pas die redigering voltooi van ’n internasionale dokumentêre program wat handel oor posttraumatiese stres: Resolve, a guide to post traumatic growth. Hy was verlede jaar onder meer in Amerika, Australië, Kanada, Franse Polinesië en twee keer in Suid-Afrika vir verskillende dokumentêre projekte.
“Ek het in dieselfde strate as Matisse en Gauguin rondgeloop. Dié twee kunstenaars het albei dele van hul lewe op die Franse Polinesiese eilande deurgebring.”
As akteur was daar ook aanbiedinge, ja. Hy is tans in Suid-Afrika vir die verfilming van One Last Look deur die Emmy-vervaardiger Dan Jawitz. In die VSA is hy vasgemaak vir rolle in House MD, Kidnap & Rescue: Project Child Save (Discovery) en Depravity, ’n fliek deur die Franse regisseur Dimitri Sarassin.
“Maar nie alles wat ’n mens doen is ewe gesog nie. ’n Suid-Afrikaanse resensent het al geskryf dat ’n sekere toneelstuk steeds in die kol was ondanks my vertolking van die hoofkarakter. ’n Mens rol maar met die punches. Ek is nou in die stadium waar ek maar net die werk doen wat voor my is, soos N.P. van Wyk Louw gesê het. Na my beste vermoë.
“In my mees onlangse kortfliek speel ek die rol van ’n meth-verslaafde pa met Sheena McCann as die regisseur. Die rolprent, The Darkness is close behind, is in opdrag van die Amerikaanse Rolprentinstituut gemaak. Dit het pas ’n Award of Excellence gewen en is uitgenooi om in Maart by die Screen Directors Guild in Los Angeles vertoon te word.
Neil, en Albert Maritz as medevervaardiger, se onlangse dokumentêre reeks Impresario wat deur kykNET gebeeldsend is, het verskeie pryse losgeslaan.
“Die reeks handel oorwegend oor Afrikaanse akteurs, die problematiek van die dissipline binne die Suid-Afrikaanse konteks, sotlike bedryfskwessies en selfs meer spesifiek oor die psigiese implikasies daarvan op ’n akteur. Maar die beginsels geld die kunste in die breë.”
Hy is deurgaans besig om te werk aan die post-produksie van ’n dokumentêre reeks oor die legendariese Anton Goosen, wat hy as een van die voorlopers van goeie, oorspronklike Afrikaanse musiek beskou. Indien nie dié voorloper nie.
“Die Goosen-dokkie is iets wat ek en vriend Deon Meyer vervaardig, ek is regisseur en redigeerder, en ons is die afgelope twee jaar piecemeal daarmee besig.”
Neil is op 1 Mei 1975 in Randfontein gebore. In sy 36, byna 37 jaar op tuisbodem het hy ’n magdom dinge reggekry. Hy het een van die gewildste volksakteurs geword, het deurentyd in toneelstukke opgetree en word deesdae as een van ons land se beste “ernstige” akteurs beskou.
Een van sy vorige dosente aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou UJ), het onlangs van hom gesê:
“Die dag toe dié klein mannetjie in my klas instap, toe weet ons dadelik almal van hom. En ek het tóé reeds vermoed: hier kan ons greatness verwag.”
Neil het destyds kommunikasiekunde studeer, maar het die kampus stormgeloop met verhoogstukke wat hy geskryf en opgevoer het. ’n Interessante begin van ’n akteursloopbaan, veral as jy in gedagte hou dat RAU destyds nog nie ’n kunste- en dramadepartement gehad het nie!
“Ek was reeds as skoolkind in Meester en Konings te sien, en het in standerd agt en nege basies net ge-act.”
Neil se lewe as akteur en later multigenrekunstenaar, het nogal op ’n snaakse wyse begin. Hy was op skool veral bekend as een van David Kramer se beste nabootsers!
“Ek dink steeds Kramer se Bakgat is ’n cult-album. As graadeenlaaitie het ek al die deuntjies geken van liedjies wat eintlik daarop ge-mik was om sosio-politieke kommentaar te lewer soos ‘Botteltjie Blou’, ‘Is jy Bang?’ ‘Krisjan Swart’.
As hierdie storie tot nou toe gelees het soos ’n curriculum vitae, is dit omdat jy net eenvoudig in die gesprek – en opleeswerk – stomgeklits word deur al die pyle wat dié betreklike jong akteur in sy koker dra. Vlymskerp, soos daardie kop wat nie vir ’n oomblik kan ophou dink, redeneer, beredeneer nie.
“Hoe eerlik moet ek wees?” vra hy ondeund op een van my vrae.
“Daar is mos so ’n rule of thumb wat iemand uitgedink het wat sê ons moet tog net nie te ingewikkeld raak vir die leser nie.
Ek het ’n hekel aan daardie soort sensuur en neer-halende ingesteldheid. Ek meen as ek eerlik probeer wees oor my ervaring, sal dit (dalk) tot die publiek spreek, pleks van hulle te oortuig dat ‘ek die lig gesien het’, of een of ander wysheid het, of ’n rolmodel is. Nog minder dink ek lesers se dag gaan beter wees as hulle ’n artikel moet lees oor my gunstelingkleur, of wat ek vanoggend vir ontbyt gehad het.
Is dit hoekom 7de Laan se Bart gewerk het?
“Ek reken so. Bart was blue collar. Ek dink nog altyd teater en film, selfs TV se beste karakters is blouboordjiewerkers.
Eenvoudige mense. Mense kon hulle met Bart vereenselwig omdat hy nie die konvensionele ‘held’ was nie. Hy het krake in sy make-up gehad. Bloot menslik. Dit beteken nie hy was ’n karikatuur nie, en dis die verskil.”
Is dit die soort rolle wat jy verkies? Hoe sien jy acting?
“As ek oor ’n rol twyfel, is dit altyd ’n goeie vertrekpunt. Ek sien dit as ’n uitdaging om by die menslikheid te probeer uitkom. Ek speel tans ’n ietwat onsmaaklike karakter, maar dis my werk om sy menslikheid te soek. Acting is ’n vreemde ding, ek is nie seker of ek dit heeltemal begryp nie, maar ek hou van die idee van ‘shape shifters’, amper magiese sjamaanse figure soos in antieke kulture. Dis individue wat ’n gawe het om deur karakte-risering ander mense bewus te maak van die fynere nuanses van menswees. Daar is natuurlik akteurs en vermaaklikheidsterre. Twee verskillende wesens, maar ek het al albei hoede gedra. Ek verkies om te dink dat ek akteur is – ek voldoen aan die kriteria – ek het ’n onvervulde ego en ’n vloeibare emosionaliteit en ek’s bietjie van ’n pelgrim, ’n reisiger. Ek het ongelooflik baie empatie met die menslike kondisie en ek voel ek kan deur acting ’n deur oopsluit waar andere liefs nie wil ingaan nie. Ek dink dus ek het ’n breër verantwoordelikheid as om bekend te wees omdat jy op TV is. Amper ’n oorontwikkelde super-ego, in die Freudiaanse sin. En volgens my is acting ’n edeler dissipline as die preekstoel of die politieke podium.”
“Daar is ’n persepsie dat jy moeilik is … “ waag ek.
“Dankie daarvoor. Ek sou bekommerd begin raak as jy my as ‘the man with the Fatherly smile’ gesien het. Daar is ook natuurlik iets soos ’n bevestigings-vooroordeel. Bloot deur die vraag te vra, steun jy die persepsie. Maar ja, ek is bewus daarvan. Al wat ek in my betoog kan aanbied, is dat ek met ’n standpunt na die tafel toe kom. Ek verabsoluteer nooit daardie standpunt nie. Ek is oop vir oortuiging, mits die teenargument rede behels en nie konvensie of mite of dogma nie.
En ek haat boelies. Dan verkies ek om moeilik te wees. Sean Penn is moeilik, Nelson Mandela was moeilik, om die waarheid te sê ek het feitlik deurgaans meer respek vir die moeilike kalante in die geskiedenis omdat dit durf moes verg om op te staan vir jou oortuigings.”
Wat is jou oortuigings?
“Wow, is jy seker? Wil jy nie eerder oor die Blou Bulle se nuwe truie gesels nie?
“My lewensbeskouing? Ek sien myself eerstens as deel van die kosmos, die universum. Laastens is ek toevallig ’n Afrikaanse witbooi van Afrika. Indien jy so na die mens-like kondisie kyk, kan jyself sien hoe weglaatbaar klein konsepte soos geslag of ras is. Tweedens dink ek die grootste probleem vandag is die miskenning van sosiale kontrak. Ek is vry om te maak en doen en dink sover as wat my vermoëns en talente my toelaat, mits ek nie die volgende persoon se reg om presies dieselfde te doen inhibeer nie. Dit kom neer op daardie Bybelse ding van ‘hê jou naaste so lief soos jouself’. Indien jy so na die wêreld kyk, is dit verskriklik erg om te sien wat om ’n mens aangaan. Ek voel skuldig as ek ’n sigaretstompie by die venster uitgooi. Laastens glo ek in die ‘oppergesag’ van die estetiese. Wat ek daarmee bedoel, is dat deur skeppend te wees ons moontlik die naaste kan kom aan ’n tikkie goddelikheid. Ons is veronderstel om die skepping mooi te maak met musiek, argitektuur, kos, literatuur, vorm, kleur, stories. As jy dit verstaan, sal jy weet wat ek van Wall Street, die JSE, korporatiewe instellings, franchises dink. En vreemd genoeg is dit die een ding wat ons almal gemeen het: Bart en Nietzsche weet albei intuïtief dat ’n sonsondergang prentjiemooi is. Daars ’n onmiddellike herkenning van die sublieme. Deur kreatief te lewe, kry ’n mens betekenis, dignity. Ek dink nou aan daardie Bob Dylan song ‘So many roads, so much at stake, so many miles – I’m at the edge of the lake, sometimes I wonder what its gonna take to find ‘dignity’.”
Op my vraag hoe dit in LA is, antwoord hy bondig: “Harde, harde werk. Die mense wat daar die top-echelons bereik, verdien dit. Hulle kry dit nie op ’n skinkbord nie. Maar dis ’n strekoefening. Los Angeles is die hoofaar van internasionale Kulturele Imperialisme, dit maak sin om dinge ’n bietjie te gaan uitkyk. Maar intussen moet ’n mens leef ook. Dis nie ’n gemaklike proses nie, maar ek glo dit ‘strek’ my. Ek leer. Hopelik sal die kennis my iewers vorentoe goed te pas kom. Maar ek verkies steeds om in Afrikaans te werk.”
Neil se oorgang tot die internasionale arena – wat uiteindelik ook gelei het tot sy trek na Los Angeles – het plaasgevind met sy deurbraakrol as Rijkhaart Jacobz in Proteus, ’n kunsfilm onder regie van John Greyson.
Dit het kritici en belanghebbendes laat regop sit. En die uiteinde: Neil het die onvermydelike sprong gemaak. Of sal ek eerder sê – ek begryp dat hy sou wou “strek”. Nie net as akteur nie, maar as mens. Dat hy aanbeweeg het na ’n hoër, of dieper, betrokkenheid by sy burgerskap van die visuele en dramatiese kunste, is sigbaar. Hy’s fisiek baie leniger, daar is kreukels om sy oë wat, laas toe ons hom gesien het, nog nie daar was nie.
Maar daar is ’n selfversekerdheid oor die feit dat hy op die regte pad is, ook sigbaar, tasbaar in sy houding. Nooit ego nie. Net ’n wete dat die pad, die visuele pad, wat hy nou loop, die regte een is.
Mis hy Suid-Afrika?
“Dis erg. Om van Afrika te wees is ’n eiesoortige, unieke voorreg. My beroep en geskiedenis in Afrika is iets wat ek koester. Dit het my gevorm. Dis my Ma. Ek mis my vriende, die sin vir humor, die kos, die geure.
Nou hoe bring ek dit alles by Apollo en Dionisus uit? wil ek weet.
“Maklik,” sê hy. “My twintigs was Dionysian. Daar was ’n ongebondenheid, ’n vryheid. Ek het party gehou, soos Charlie Sheen het ek gedink ek het ‘tiger blood’. Maar die lewe het my ook ’n paar taai klappe gegee. Gelukkig het ek vroeër as Charlie uit my foute begin leer. My dertigs sou ek meen was meer ondersoekend, ek het my eie dissipline gedekonstrueer, ek het die status quo ondersoek, die apparatus wat die vinger klap en ons moet spring. Dit het my moeilik gemaak. Ek sou skat dis waar Apollo en oorlog inkom. Die strewe is natuurlik die middeweg, nie die ekstreme nie. Ek strek nou om daarby uit te kom. Ekwilibrium. Miskien maak dit my ’n beter akteur, want daar is nog heelwat te leer, maar ek sou laaik om te dink ek het die potensiaal om beter te raak met die menswees-ding.
“Ek dink dis genoeg. Ek moet op nou-nou op stel wees.”
So vinnig as wat hy gekom het, is hy weg. Ek’s ietwat sprakeloos.