kategorieë: Blogs

Nee, jammer.

Ek loop die afgelope week pal met die volgende vraag voorop in my gedagtes: Waarom vind ons vroumense dit só moeilik om nee te sê? Of, is ék dalk net ’n baie groot sucker?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Soos meeste ander weke, het hierdie een ook sy goeie dosis van telefoniese en kuberversoeke opgelewer. “Kan jy gou help hiermee?”, “Sal jy dalk vir my kind ’n mondeling kan skryf – ek het doodeenvoudig nie tyd nie?”, “Kan jy gou vir my help dink aan ’n vertaling vir die volgende paragraaf – ek kan nie nou dink aan iets nie?” en dergelike “Kan jy gou…?”’s wat inderwaarheid nooit net “gou” of bloot “help” is nie, maar die gevolg het dat ek tyd by my eie spertye afknyp om dikwels nie bloot te help nie, maar dit namens die vriendelike versoeker te dóén.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Want, sien, ek hét mos nou die tyd om orals “net gou” te help – en as mens dan die vaardighede ook het om byvoorbeeld “gou” ’n mondeling te skryf, of ’n hele rits vertaalekwivalente in paragraafvorm te verskaf, hoekom dan nie…?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek is geleer mens help waar jy kan, wanneer jy kan. Jy help omdat jy kan en nie om iets terug te verwag nie.

En, dit ís baie mooi en edel om so diensbaar te wees. Maar, dit kom ongelukkig ook met ’n prys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Elke bietjie “net gou help” waarvoor ek daagliks my kop op-en-af knik, neem ’n bietjie van die reeds min en kosbare tyd weg wat ek het om aan my eie kinders en eie huishouding en eie werk te bestee.

Want, sien, ek het gekies om ’n tuisblyma te wees wat vryskut werk doen. Vryskutwerk beteken ongelukkig as ek nie werk nie, kry ek nie geld nie. Of soos my Skeinatonnie altyd gesê het as ons mor oor nog bladsye vol vektore vir huiswerk: “Wie nie werk nie, kan nie eet nie.”

Ek het gekies om alleen my huishouding te behartig sonder ’n huishulp of iemand wat kan help met die duisend-en-een takies op ’n ma se daaglikse moet-doen-lysie. Ja, ék het gekies.

Maar, soms lyk dit regtig of mense hulle vir my wip as ek nie bloot “maar net gou” iets vir hulle kinders doen nie. Dan wil ek my verstout en vra of hulle sal omgee om “net gou” my vertaalprojek klaar te maak, of hulle huishulp oor te stuur om “net gou” my vloere te kom was en die skoolklere te kom stryk, of “net gou” my kinders heen-en-weer te ry karate toe.

Maar, ek doen dit nie. Net soos ek eenvoudig nié ’n doktersvriend sal bel om “net gou” ’n voorskrif te skryf vir my eie brandende keel nie. Of van my haarkappervriendin sal verwag om “net gou” my hare gratis droog te blaas nie – al doen sy dit so goed.

Maar, ek weet ek is nie die enigste een wat dikwels my kop teen die muur wil stamp omdat ek weer “ja” gesê het vir ’n “net gou” wat kosbare minute en ure inslurp nie. ’n Vriendin wat ’n gekwalifiseerde onderwyser is, vertel dat sy nou ook besluit het om haar voet neer te sit. As ma van drie bedrywige kinders, moet sy self so dikwels op drie verskillende plekke op dieselfde tyd wees en aan elk van die drie kinders se behoeftes voorsien, dat sy eenvoudig nie die hande of tyd het om nog weekliks smiddae “net gou” ’n klomp ander kinders ’n ekstra klas… of twee… of drie te gee nie. Daar is eenvoudig nie genoeg ure in ’n dag daarvoor nie.

Ek deel my vriendin se dilemma. Ons wíl so graag “net gou” help – regtig, veral as dit ’n goeie vriendin of aangename kennis is, sal ek my bene breek as ek kan help. Maar, heel dikwels beteken dit dan dat my kind wat vir ’n toetsreeks leer, gou nog ’n halfuur moet sit en wag voor ek sy werk vir hom kan vra om te toets of hy dit ken. Of my dogtertjie moet “net gou” eers wag met haar belangrike storie oor wat vandag in die klas gebeur het, want ek is “net gou” besig om ’n ander mamma se kind oor die telefoon te help. Op die ou end ly mens se eie kinders onder ’n ma wat te veel van ’n ander plaas se hooi op haar vurk het.

Ek sê weer: Ek help graag as ek kan. Maar, die klein dingetjies bou op en vreet tyd en voor ek my oë kan uitvee, sit ek dikwels laatnag nog “net gou” met my eie werk en spartel om klaar te kry, want vanoggend het ek “net gou” iemand anders of dikwels vyf of ses iemande, eers gehelp.

Ek vermoed dit is makliker vir mans? ’n Pa word in die eerste plek nie so gereeld en konstant ingespan met die kinders en hulle klasmaats en ander vriende se kinders se huiswerk nie. Maar, sou iemand ’n pa op ’n ongeleë tyd vra om hulp, mag hy maar net doodeenvoudig en hoflik nee sê aangesien hy by die werk is en, wel, besig is. ’n Pa se nee is assertief en aanvaarbaar, maar die oomblik as ’n mamma “nee” sê omdat haar vurk reeds krom staan van al die hooi (en soms strooi), dan is sy ’n koeikop?

Ons vroumense moet soveel dinge in ag neem. Ons wil nie verhoudings negatief beïnvloed deur “nee” te sê as iemand vra om hulp nie. Ons wil almal gelukkig hou – dit is hoe ons gekondisioneer is reeds van kindsbeen af.

Die uiteinde is dat ons dikwels dan maar “ja” sê, maar eintlik dit glad nie kan inpas of bekostig om te help nie. Agterna moet jy dalk sê jammer, jy kan eenvoudig nie betyds help nie en só stel jy die persoon wat jy wou tevrede hou, in elk geval teleur. Of, jy voel wrewelrig omdat dit waarvoor jy ja gesê het, jou kosbare tyd verder insluk en jy weet uit ervaring dat daar nie eers ’n behoorlike dankie sal wees vir jou tyd en moeite nie – dit opsigself is ook nie bevorderlik vir enige verhouding nie.

Wat is dan die oplossing? Ek wil graag vir almal ja sê omdat ek dit as ’n pluimpie beskou as iemand my raad oor taalkennis vra of genoeg vertroue het in my skryfvermoë om my te vra om iets te skryf. Maar, die werklikheid is dat ek doodeenvoudig móét prioritiseer. My kinders en huis en eie werkprojekte moet eenvoudig eerste kom. Daar is dikwels nie genoeg ure vir hierdie prioriteite nie.

As ek dus in die vervolg “nee” sê vir iets wat nogal heelwat tyd in beslag kan neem, weet asseblief dit is nie persoonlik nie.  Ek is net ’n mammamens met net twee hande. En, soos jy, het ek ook dikwels té veel hooi op my vurk.

Nou moet ek net die volgende mantra met ’n glimlag prewel om myself te herinner:

Kortstondige ongelukkigheid, is beter as ongelukkigheid op die lange duur. Glimlag en sê “Nee, jammer.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

1 day Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

1 day Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

1 day Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

1 day Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.