Drie gewone ouens. Mans met gesinne. Pa’s wat pa-dinge doen en huisverbande afbetaal. Maar wanneer hulle saamstaan en musiek maak, is “doodgewoon” nie deel van die klank nie. Hulle maak al meer as ’n dekade lank saam musiek maar het eers verlede jaar hul eerste enkelsnit “Dit stop nou” uitgereik en kort daarna hul CD Hoop in die Donker, en toe word Nagligte ’n gonswoord. Die groep is ook vir twee Ghoemas benoem: Beste Nuweling van die Jaar en Beste Alternatiewe Album.
Wanneer hulle nie hul musiekdroom najaag nie, is Jacobus Brink (34), beter bekend as Roof, ’n beleggingsanalis, sy kleinboet Eddie (32) praktiseer as NAV-spesialis en Wynand Jonker (38) is ’n advokaat.
En ja, daar is baie goed wat om hul aandag meeding. Die uitdaging is om ’n balans te kry tussen die daaglikse werklikhede van gesin, werk en verbande betaal, en hul droom om musiek te maak.
Hul vroue ondersteun hulle ten volle, behalwe wanneer hulle hulle soos 18-jariges gedra. Dan loop hulle deur!
Die groep probeer om een keer per week in Wynand se motor-huis te oefen. Hulle gebruik elektriese tromme en binneoormonitors sodat die bure darem kan slaap. Gelukkig is die bure groot aanhangers, en dit help.
Roof en Wynand was as studente in die dieselfde koshuis op Stellenbosch. Hulle het ’n gemeenskaplike passie vir musiek ontdek en het gou in die koshuis se kroegie begin optree. In daardie stadium het hulle nie oorspronklike musiek gehad nie.
“Voor Nagligte het ek en Roof net ander kunstenaars se musiek gespeel,” vertel Wynand. “Dis maar moeilik om so lank opgewonde te bly oor musiek wat nie jou eie is nie. Omdat ons ’n begeleiding-band gebruik het, het ons nie ’n tromspeler nodig gehad nie. Maar toe ons besluit om ons eie groep te stig is Eddie amptelik as tromspeler aangestel.”
“My ma het my die dood voor die oë gesweer as ek nie vir Eddie as tromspeler kies nie, en ek het nie juis ’n keuse gehad nie,” vertel Roof laggend.
“Ek dink ons is ’n goeie span. Ek is die dromer en Eddie en Wynand die realiste. Die feit dat ons maats was voor ons saam gespeel het, het baie gehelp.”
Toe Hoop in die Donker opgeneem is, het die drie die eerste keer volwaardig saamgewerk.
“Die plan was om drie liedjies op te neem en te kyk of mense daarvan hou,” sê Wynand. “Ons was regtig onervare in die ateljee en dit het lank geneem om op dreef te kom.”
Toe die eerste drie liedjies in 2014 opgeneem is, was hulle seker Nagligte kan ’n sukses wees, en dit het hulle aangespoor om die album klaar te skryf en op te neem. Hul harde werk is beloon toe Universal Music vir hulle ’n kontrak aanbied.
Dit was ’n lang en opdraande pad vir die drie manne en hulle het soms maar moedeloos gevoel maar tou opgooi was nooit ’n opsie nie. Ateljeetyd was beperk en met hul uitdagende beroepe en die besige skedules van vervaardigers, was daar baie vertragings. Maar hulle het deurgedruk. Dit was nou of nooit.
Die gemene deler is passie, sê Roof. “Passie is alles. Ons passie vir musiek het ons gemotiveer en die dryfkrag gegee om die taak betreklik laat in ons lewe aan te pak.”
En moenie van deursettingsvermoë vergeet nie, sê Wynand en Eddie, dis net so belangrik.
Verskille duik ook soms op. “Aan die begin het ons baie verskil en geredeneer, maar dit was ’n nodige proses. Ons het immers drie uiteenlopende persoonlikhede,” sê Wynand. “Toe ons besef dat ons dieselfde passie deel en dieselfde doel wil bereik, het ons beter begin saamwerk en ons verskille tot ons voordeel laat werk.”
Roof stem saam. “’n Musiekgroep werk baie soos ’n huwelik.
Die belangrikste ding is om mekaar se menings te respekteer en behoorlik te kommunikeer. Musiek is baie subjektief en dit is belangrik om te onthou dat daar nie werklik ’n regte of verkeerde antwoord is nie.”
Hoe ontlont hulle ’n situasie? Hulle sê dit is ’n bietjie naïef om te dink dat hulle die klein jakkalsies heeltemal kan vermy, maar soms is dit beter om net jou ego in jou sak te steek en op die groter prentjie te fokus. “Roof se manier van situasies ontlont, is om nie sy teksboodskappe te beantwoord nie,” spot Wynand.
Roof, Wynand en Eddie het elk bepaalde eienskappe wat tot die sukses van die groep bydra. Wynand fokus op die melodieë en Roof en Eddie hoofsaaklik op die lirieke. Wat die daaglikse bestuur van Nagligte betref, is Roof verantwoordelik vir die administrasie en Wynand kyk na die tegniese aspekte rondom toerusting en klank. Besluitneming sluit sonder uitsondering die hele groep in.
Die lirieke van Hoop in die Donker raak baie mense. Die temas is universeel en sinvol. “Ons het maar geskryf oor dinge wat ons pla,” vertel Roof. “Ek dink hoe eerliker jy met jou lirieke is, hoe meer mense sal jy raak. Ons is almal Generation X-siele en die kwessies wat ons nou pla, is nie regtig anders as dié van die Baby Boomers of Millennials nie. Mense bly mense.”
“Die idee van Hoop in die Donker was juis om die boodskap oor te dra dat dit nie saak maak wie jy is of wat jy doen nie. Kluise-naar, blouboordjie of magnaat – elkeen het unieke uitdagings.
Tog is daar vir almal hoop in die donker,” sê Wynand. “Ons lewer meestal sosiale kommentaar in ons liedjies. Die konsep vir die liedjies kom uit lewenservaring. Tussen die drie van ons het ons meer as honderd jaar se ondervinding wat ons in ons liedjies verweef. Sodra ons op ’n konsep vir ’n liedjie besluit het, kom die lirieke en musiek redelik maklik.”
In watter kategorie plaas hulle Nagligte se musiek? Elkeen het sy eie mening. Dit wissel van alternatiewe elektroniese rock tot alternatiewe hard pop rock. Of soos Roof sê: “Net ’n mengelmoes van goed waarvan ons hou.” Hoe ook al, hulle het ’n wenresep.
Hul CD-rakke is vol van kunstenaars wat hulle inspireer: Muse, Killers, Fall out Boy, One Republic, Coldplay en Metallica. Tog sonder hulle Bellville se rockgroepe uit wat buiten hul fantastiese bydrae tot die musiekbedryf ook vir Nagligte baie raad en ondersteuning gegee het.
Nagligte het soveel in so ’n kort rukkie bereik, maar daar is nog ’n droom of twee. Wynand sou graag in ’n konsert wou hoor hoe duisende mense met Nagligte se musiek saamsing. Roof se droom is om relevant te bly en Eddie hoop op longevity. Die groep is nederig genoeg om elke persoon wat tot hul sukses bygedra het op die naam te bedank. Hunter Kennedy, die vervaardigers Fred den Hartog en Francois de Klerk. Ook Inus Smuts wat die beeld wat Nagligte vir hul groep gehad het, ’n werklikheid gemaak het.
Vir al daardie mense wat ook sulke drome het, het die manne raad: “Die grootste stap is om te begin. Kry ouens bymekaar wat lekker oor die weg kom en dieselfde passie deel. En moenie vergeet om dit te geniet nie! Moenie oorhaastig wees nie en bedink die konsep van die groep deeglik. Kry ’n unieke element wat jou groep sal laat uitstaan. Omring jou ook met goeie vervaardigers. Ons dink hulle is die werklike helde van die bedryf.”
“Vergeet van die reëls
Ons het dit nie geskryf nie
Die wêreld kan by ons leer
Ons het die lewe hard gespeel
Ons staan saam en saam sal ons vergaan”
(“Dit stop nou” – Nagligte)
Kyk by www.nagligte.com waarmee Nagligte besig is.