My storie: Nageboorte-depressie is ‘n werklikheid deur Marizel Neethling. Versorg deur Mariette Snyman. Foto: Alexander Grey vir Unsplash
Hierdie verhaal kom uit my hart. Ek hoop dit kan iemand help wat deur dieselfde proses gaan.
Ek is jare gelede met insulienweerstandigheid, vergrote eierstokke en polisistiese ovariumsindroom gediagnoseer. Daar was ook ’n gewas op my eierstok wat verwyder moes word. Deur genade is my eierstok nie verwyder nie. Ek het lank met die vrees gesukkel: Sou ek ooit swanger raak?
Ek het my lewe lank met my gewig gesukkel en dit ná baie harde werk en oefening gekry waar dit moes wees. Ek was gelukkig.
Na talle doktersbesoeke is my kanse om normaal swanger te raak as skraal afgeweer, en ek en my man het besluit om die Pil te los. As dit die Here se wil was, sou ons die voorreg hê om kinders te hê.
Baie gouer as wat ons verwag het, het ek op 25 natuurlik swanger geraak. Omdat my siklusse so deurmekaar was, was ons geskok. My man was dadelik opgewonde. Ek was oorweldig – hoe het dit gebeur? Ek was te jonk. My kanse was dan so skraal.
Ek kon my reaksie nie verstaan nie. Ek het vir drie aande nie geslaap nie. En dis waar alles begin het …
Ek het ’n redelik maklike swangerskap gehad, behalwe dat ek onbeheers gewig opgetel het. Ek het al my selfvertroue verloor en niks in my klerekas wou pas nie. Ek het in die spieël gekyk en net vet gesien, nie die wonderwerk wat in my gegroei het nie. Ek het elke dag vir my man gesê hoe sleg ek lyk en hoe ongemaklik ek in my eie vel voel. ’n Goeie vriendin wat ’n ongelooflike pad met die Here stap, het dit opgetel. Sy het saam met my gebid, en baie onsekerhede en episodes uit die verlede het na vore gekom. Die Here was getrou en ek kon uiteindelik die gewig-hoofstuk afsluit.
Lees ook: Wat is nageboorte-depressie?
Dis ’n dogtertjie!
Ek het die Here gevra om my ’n seuntjie te gee. Ek was bang dat ’n dogtertjie dieselfde gewigs- en ander issues as ek sou hê, en nie daarvoor kans gesien nie.
Op 16 weke hoor ons ons verwag ’n dogtertjie. ’n Perfekte, gesonde babadogtertjie.
My man was uit sy vel, ek oorweldig. Ek het geweet dat die Here my wou leer om Hom te vertrou, in plaas van die leuen glo dat sy dieselfde paadjie as ek sou loop.
Ek wou graag normaal kraam en het my sielkundig daarop voorberei. Op 35 weke is ek opgeneem omdat ons baba se hartkloppie te stadig was. Ek was van 35 tot 38 weke aan en af in die hospitaal. Dan was die hartklop te vinnig, dan weer te stadig. Ek was al moedeloos, maar nog glad nie reg om hierdie kleine dogtertjie in die wêreld te verwelkom nie.
Hou sou ek hierdie baba grootkry?
Ek het konstant oorweldig gevoel. Hoe sou ek hierdie baba grootkry? Ons sou nie meer kon kom en gaan soos ons wou nie. Hoekom was almal so opgewonde terwyl ek met ’n gat van vrees in my hart sit?
My uitstekende ginekoloog het my ondersoek die Vrydag voor ons baba gebore is. Omdat sy nie gesak het nie en haar hartklop so onreëlmatig was, moes ek ’n keiser kry. Ek het in trane uitgebars. Die teleurstelling was oorweldigend. ’n Datum vir haar geboorte is vasgestel.
My brein kon dit nie kleinkry dat ons oor twee dae ’n gesin sou wees nie. Die klein mensie sou uiters afhanklik van ons wees. Ek was bang. Ek het die Here gevra om my wysheid te gee en my vrees weg te vat, maar ek kon dit nie afskud nie.
Ons gesonde 3.49 kg babatjie is gebore. Ek sal nooit die oomblik vergeet toe ek haar die eerste keer hoor huil het nie. My man het gestraal en my heeltyd vertel hoe trots hy op my was. Ek het trane in my oë gehad. Ek het besef: hier is my klein wonderwerk.
Hoe maak ek nou?
Skielik het ek ’n nuwe titel gehad. My maag was weer redelik plat. My lyf was dood en verskriklik seer. Ek moes borsvoed en nie ek of hierdie babatjie het geweet hoe nie. Uiteindelik het die konsultant haar aan my bors gehad. Ons ouers sit in die wagkamer, oorgehaal om hierdie kleintjie te ontmoet. Ek besef ek moes hierdie ding nou doen, ek kon haar nie vir nog ’n maand of twee terugdruk nie. Dit was vreesaanjaend én mooi.
Jy besef eers hoe dom jy voel as jy na ’n klein babatjie moet omsien. My kolostrum was te min en sy moes formulemelk bykry. Haar suikervlakke was laag en die arme voetjies blou geprik. Hoe moes ek vir hierdie baba sorg terwyl my liggaam nie eens die basiese aan haar wou voorsien nie?
Alles was net te oorweldigend. ’n Suster het gevra of ek verlief was op my baba en ek kon nie met eerlikheid ja sê nie. Elke keer as iemand vra hoe dit gaan, het ek onbeheers begin huil. Ek het veilig gevoel in die hospitaal waar daar konstant hulp, raad en beskerming was. Ek wou nie huis toe gaan nie, want ek en my man weet ewe min.
Terug by die huis het ek nie geweet wát om te doen nie. Moes ons baba slaap, eet, moes ek haar doek ruil? Kry sy warm of koud? Sou ék ooit die nag slaap?
Ek wou haar nie vashou nie, wou haar nie troos nie
My ma het twee weke lank by ons kom bly. Ek het ’n blaasinfeksie gekry waarvoor ek antibiotika moes drink. Dit het my baba geaffekteer. Sy was huilerig, ek was paniekbevange. Ek wou haar nie vashou nie. Wou haar nie troos nie. Ek was nie honger nie en het bitter min geëet.
Ek het aan nageboorte-depressie gelei. Die dokter het reeds in die hospitaal ’n pilletjie voorgeskryf, maar toe ek sien dis ’n antidepressant het ek uit trots uit geweier om dit te drink. As ek maar net geweet het …
Dankie tog vir my ma. Sussie was drie weke oud en ek het by my ouers gekuier. Een nag het nie ek òf sy ’n oog toegemaak nie. My ma het haar tweeuur in die oggend kom haal. Ek was emosioneel gedreineer, en daarna het ek my ma in haar kamer gaan haal as my baba nie kon slaap nie.
Ek en Dr. Google
Google was my beste vriend; die fout van my lewe. As iets verkeerd was, het ek dit gaan google. Ek het letterlik mammas se worst case scenarios gelees en net angstiger geword.
Op Facebook het ander mammas met groot plesier verklaar dat hulle babatjies deurslaap en stroopsoet is. My baba wou elke drie ure drink. Ek was oormoeg en kwaad omdat ek nie sulke goed op Facebook kon skryf nie. Ek het haar pediater toe gevat en wou so graag hoor iets is fout, net om te hoor sy is gesond, en maar net ’n baba. Hulle huil. Hulle kramp. Hulle slaap nie. Hulle raak oorgestimuleer. My wyse ma het konstant gesê: “Hou op om jou baba met ander te vergelyk!” Het ek maar geluister.
Sy het ’n karstoeltjie verpes en as ons êrens heen moes ry, het ek myself oor ’n mik gestres. Sy het minute – wat soos ure gevoel het – aaneen gekla.
Vanaf agt weke het my dogtertjie (soort van) in ’n roetine gekom en ek het haar stadig maar seker begin leer om haarself aan die slaap te kry. Dit het weer goed gegaan. Ek het in beheer gevoel. Elke aand vir haar gebid. Die Here gevra vir wysheid om haar reg te hanteer. Bygesê – my wonderlike, ondersteunende man was my absolute rots.
Ek begin google watter medisyne ek vir haar kan gee om haar te maak slaap
My baba het skielik begin catnap. Ek het gedink dis normaal totdat ek gelees het dis ’n slegte gewoonte. Bedags het sy al hoe minder begin slaap en al moeër geword. Toe lees ek van fourth month sleep regression en dat baba’s deur leaps gaan. Leap five is die moeilikste. Volgens my somme moes ons amper met leap five begin. Weer die vrees. Hoe het my ouers en die miljoene ander mense hierdie ding gedoen?
My rustige roetinebaba skree elke dag. Sy wil nie drink nie. Sy slaap sleg. Sy’s moeilik. Ek is gedaan. Ek voel hoe die ou monster terugkom. My kop hardloop met my weg. Ek begin verlang na die dae voor sy gekom het. Ons sal nooit weer saans by vriende kan gaan braai nie, want hoe op die aarde gaan ek haar aan die slaap kry sonder dat sy die hele gebied wakker skree? Ek begin google watter medisyne ek vir haar kan gee om haar te maak slaap. Skrikwekkend, nè?
Dis in hierdie toestand dat my ma my een aand in die bad gekry het. My baba was vyf maande oud en ek gedink ek is oukei, maar ek was nie.
Moenie dink ek was nie onsettend dankbaar vir my dogtertjie nie,. Depressie is ’n siekte. Ek het steeds probeer om die heel beste ma vir haar te wees. Ek was gebroke dat ek, ’n bewys van God se genade en seën, só oor my wonderwerkdogtertjie voel. Ek het voor die Here gaan sit en gesê dat ek fisiek nie meer kon nie. Die Here was getrou deur my ma op die regte tyd na my toe te stuur. Sy kon sien iets is baie verkeerd en sy het my aangemoedig om die dokter te gaan sien.
Die bekentenis
Ek moes daardie aand vir my man sê dat ek swaarkry, dat ek so besig was om aan hom en ons baba en almal rondom ons te dink dat ek totaal en al van myself vergeet het. Ek was skaam om te erken dat ek hulp nodig het. Ek het ’n ongelooflike ondersteuningsnetwerk gehad – my man, ouers, skoonouers, familie, vriendinne en ginekoloog.
Toe ek na my man toe gaan, het hy my vasgedruk en gesê dis oukei. Ek het daardie dag uit my man en ouers se monde gehoor dat hulle trots was op my. Ek het medikasie begin gebruik.
Ek het hulp ingeroep toe ek weer moes begin werk. Dit gaan nou beter. Ek voel meer in beheer van my emosies en kan my baba met haar emosies help. Ek kan weer ’n vrou wees vir my man. Ek kan weer my ritme kry sonder om myself êrens te verloor. Ek geniet my baba en elke nuwe fase. Sy bly maar net ’n baba.
Ek voel steeds soms asof ek nie mooi weet wat om te doen nie. Maar een ding is seker: nageboorte-depressie is ’n werklikheid. Dis niks om oor skaam te wees nie. Dit kan met enigiemand gebeur.
Dit is seer. Dit is verwarrend. Dit is oorweldigend, maar daar is hulp. Ek eer die Here vir die pad wat ek moes stap en vir die mense wat my goed genoeg geken het om te kon sien ek kry swaar. Maar bo alles eer ek Hom vir my perfekte, gesonde, sterkwillige en pragtige babadogtertjie.
Lees ook: Nageboorte-depressie: Toets jouself