Die lewe is ’n wonderlike plek. Ek is mal oor my werk, al is ek nog nie ’n faktor in die advokaatvoedselketting nie. Ek dra my toga soos ’n egte pelsjas, my beffie soos ’n diamanthalssnoer, betree die sypaadjies van die Pretoriase middestad asof dit die rooi tapyt by ’n Oscar-aand in die jare dertig is. Ek is ’n regte stralerjakker, Kaap toe vir die mooiste halfmaraton in die wêreld, bene rek op Jongensfontein, dán Parys à la Vrystaat, ’n bietjie ontlaai in die Bosveld, dán ’n opskop in die Boland, terug in Pretoria vir ’n geleentheid saam met my uitgewers om daarna gereed te maak vir ’n makietie in die Diamantveld.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Die dae tussen my reise word aanmekaargestik met stories skryf en braai en kuiers en pizza-aande met wyn. Nou en dan is daar darem ’n tydjie vir koffie saam met ’n vriendin of ’n fliek. Die lug ruik soos jasmyn wanneer ek vroegoggend draf.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Stelselmatig skuif die son op my drafpad totdat ek my tekkies in ’n skemergroute aantrek en dit al helder dag is wanneer ek in die stort spring. Die seisoen draai, dit word lente, waarsku my sintuie, maar ek neem bloot waar, die besef sink nie in nie, die lewe is ’n wonderlike plek. Maar ek ken myself. Ek raak lekker meegesleur met die stroom tot eendag, dan spoel ek sommer teen ’n kraaines vas. Dit word lente, waarsku die belowende gerammel van donderweer. Dit word lente, waarsku die avokado’s wat nou weer van Spanje ingevoer word en die vye, binnekort goedkoop, wat verleidelik en rooi oopbars as ek daaraan hap. Ek weet die kraaines kom nader, ek weet ek moes rus, winter is nie die stralerjakker-seisoen nie. Almal het gehiberneer, nie ek nie. Gaan die lente my tot stilstand dwing? Kan enigiets my tot stilstand dwing? Ek is nog nie reg nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Die lewe was te lank laas so ’n wonderlike plek. Selfs eksamens dwing my nie in ’n pajamabroek en ’n roetine nie. Ek is goed met balanseertoertjies, kom ek agter, dit lyk gevaarliker as wat dit is. Jy moet net nie ophou nie. Swot en hardloop en dans en werk en vergaderings en vriende. Altyd een in die hand, ’n paar in die lug. Ek begin die toepassing van die Reg stuk-stuk beter verstaan. Ek raak daaraan gewoond om my eie baas te wees, dit is mos wat ek wou hê. Ek voel fiks en gesond, die lewe is ’n wonderlike plek. En toe kom die kraaines: my eerste egskeidingsaak. Ek is nie juis bekommerd nie, my voete het mos vlerke vanjaar, die lewe het my gemaal en gekou en my uitgespoeg en nou is dit weer ’n wonderlike plek.
Pleks ek geluister het, saam met die winter rustig geword het, ’n bietjie later geslaap het, ’n bietjie meer gevoel en ’n bietjie minder gedoen het. Nee wat, redeneer ek, ’n wit bloes, swart sykouse, blinkleerhofskoene, ’n potloodromp, ’n beffie en ’n toga is genoeg om my verby die kraaines te dra. Vanjaar is anders, die lewe is weer ’n wonderlike plek. Ek word voorgestel aan die regter, die hoflêer word in my hand gestop en ek roep in ’n dun stemmetjie na Mevrou X.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Ons ontmoet mekaar nou, hier, voor hof 2C vir die eerste keer. Sy huil. Want sy skei vandag. Die lewe is nie altyd ’n wonderlike plek nie. Ek kry die vrae gevra, die bevel word gegee, Mevrou X is geskei. Mooi Bernette, welgedaan, hardloop na die volgende plek, die volgende ding wat jou roep, iewers weg van die brandmaer vrou in trane wat nou net vir die regter verduidelik het dat dit beter is as die kinders by hul pa bly.
My kraaines het aangebreek, en soos altyd as ek by ’n kraaines kom, kom die vraag: Waaroor gaan dit alles dan? Ek hardloop nie op die rooi tapyt uit nie, ek trek my pelsjas wat ’n swart toga van dienlike materiaal geword het, half verslae uit. Ek vra wat is haar naam, waar kom sy vandaan en hoe het dit dan gebeur dat sy vandag hier is? Die beffie waai, ek knoop die ellendige ou bloes se twee knopies oop en rol die moue op. Ons stap saam uit op die sypaadjie. Sy draai regs, sy moet die bus Atteridgeville toe haal, ek draai links, chambers toe. Waaroor gaan alles dan? Wat bly oor ná Parys en die Boland en die Bosveld en die Kaap? Is ek ooit op pad iewers heen? Ek raak verstrik in die kraaines, byna histeries. En toe doen ek ’n vreemde ding, ek gaan lees die laaste boek in die Bybel. Gewoonlik nie die mees gerusstellende boodskap nie, maar skielik maak dit sin. En ek weet, môre het ek al weer vergeet, maar vir ’n heilige oomblik verstaan ek presies. Ons is op pad iewers heen. Dít is waaroor alles gaan. En tot dan is die lewe ’n wonderlike plek.
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Lewer sowat 9 kranse Bestanddele 100 g (160 ml) koekmeel 175 ml water…
Genoeg vir 4. Bestanddele 6 aartappels, in wiggies gesny sout en gemaalde swartpeper…
Genoeg vir 4. Bestanddele 500 g vars pasta, soos tagliatelle of spaghetti 250 ml…
Hierdie webwerf gebruik koekies.