Onlangs deel iemand die volgende aanhaling met my: “The ability to speak several languages is an asset, but the ability to keep your mouth shut in any language is priceless.”
Vir my met ’n voorliefde vir tale en die geskrewe en gesproke woord, maar met die vermoë om soms my groot linkervoet dwars in my mond te sit, was hierdie aanhaling ’n kolskoot.
Reeds as kleuter het my ma dikwels vermaan: “As mens nie iets moois kan sê nie, bly jy eerder stil.”
Op skool het ons gehoor: “’n Toe mond is ’n heel mond.” En ook: “Dit is beter om jou mond te hou en te lyk asof jy dom is, as wat jy jou mond oopmaak en alle twyfel uit die weg ruim.”
Die oomblik as ek myself verspreek of presies die verkeerde ding op die regte tyd kwytraak, het ek al gewens mense dink eerder ek is dom as ongevoelig.
So, wat veroorsaak dat mens se tongspier dikwels vinniger is as jou brein, dat mens onvanpaste en onbedagsame dinge sê en taktloos optree? En hoekom het sommige bome eenvoudig nie ’n enkele empatiese tak(t) nie?
Volgens Mandy Kloppers, ’n sielkundige, berader, skrywer en lewensafrigter, is daar ’n paar redes hoekom mense taktloos optree. Die persoon het ’n gebrek aan empatie en kan hom- of haarself nie in ’n ander se skoene indink en besef dat wat hy of sy sê, kan ontstig of ontstel of seermaak nie. Só ’n persoon se “taktfilter is gebreek” sê Mandy en dit kan wees weens vorige ervarings of aangeleerde gedrag.
Goed en wel. Dit is soms regtig moeilik om simpatie en empatie te hê met ’n gebreekte taktfilter as dit jou selfbeeld onverwags ’n haakhou gee. Veral op ’n dag dat die selfbeeld met die verkeerde, brose voet uit die bed opgestaan het.
Ek onthou ’n keer toe die ma van ’n klasmaatjie van my dogtertjie vir my kliphard voor die kleuterskoolklas vol ouers en kinders gevra het hoe ver ek dan swanger is. Toe ek dit blosend aflag as “’n winterbaba” menende dat dit al die lekker winterbredies en suikerryke warm drankies is, was haar opvolghou sowaar: “Haai, maar ek kan nie glo iemand kan só vinnig sóveel gewig optel sonder om swanger te wees nie. Jy moet dalk maar ’n toetsie gaan koop?” Straaik twee.
Ek en my pokkelpensie het maar so gou moontlik spore gemaak.
Volgens Mandy moet mens sulke tipe opmerkings en kommentaar maar vat van wie dit kom. Die einste moedertjie met die swangerskapraad is berug vir haar gebrek aan takt. Sy het onder andere al vir ’n vriendin wat kort tevore haar man onverwags aan die dood moes afstaan, met ’n glimlag gesê: “Maar jy het mos dan nou vir moeilikheid gesoek om so ’n ou man te trou!”
Daarna het daar ’n swanger stilte om die kuiertafel geheers totdat iemand weer die ys met ditjies en datjies gebreek het.
’n Vriendin met ’n outistiese seuntjie wat homself met moeite en soms met vloermoere uitdruk, het al moedeloos vertel hoe die ongevraagde kommentaar van ou tannies in winkelsentrums haar al bykans in ’n kluisenaar laat verander het. “As ek nog één keer moet hoor dat al wat hy nodig het, ’n goeie pak slae is, gaan ek begin slae uitdeel,” sug sy.
Hoekom voel soveel mense dit is hulle reg en medemenslike plig om ongevraagde kommentaar as “goedbedoelde raad” aan ander op te dis?
’n Ouer dame het eenmaal nadat my swangerskap in ’n miskraam op 12 weke uitgedraai het, aan my gesê: “Ten minste weet jy nou jy kán swanger raak. Julle moet net bietjie harder oefen om dit reg te kry!” Dié ou grappie het my amper die telefoon saam met my trane laat sluk.
Daar is ’n tyd en plek vir alles. Maar sommige grappies en gedagtes moet eerder nie hardop gedeel word nie.
’n Universiteitskêrel wie se ma ek eers ontmoet het lánk nadat ons begin uitgaan het, se heeleerste woorde aan my was: “My jinne, ek het gedink (Kêrel) sal vir hom ’n mooi donkerkop meisie kies.” Net dit.
My blondekop kon gelukkig nie op daardie oomblik aan iets pittig of venynig dink om daarop te antwoord nie en ek het verstaan hoekom Kêrel só lank geneem het om my voor te stel – hy het my moontlik teen die vuurtong probeer beskerm.
Maak wat jy wil, met party mense het jy meer as ’n harde huid nodig. En uit ervaring weet ek dit is maar soms beter vir die vel én gemoed om draaie om sulke mense te loop.
Gepraat van draaie loop. Toe ek nog vroeg in die laerskool was, was een van my gunstelinguitstappies om saam met my pa Vrydagmiddae of weeksaande gou biblioteek toe te gaan om boeke uit te neem of inligting vir ’n skooltaak te kry.
Die dorpsbiblioteek op my grootworddorp het ’n groot tuin met geplaveide paadjies en dit was hoeka een laatmiddag op een van hierdie paadjies op pad motor toe, dat ek vol bewondering – maar weliswaar heeltemal té hard – vir my pa gefluister het om vir die “vrééslike vet omie hier voor ons” te kyk.
Die omie was niemand anders nie as die swaargewig-bokser Mike Schutte wat in daardie stadium kort-kort die nuus gehaal het weens sy humeur. Nodeloos om te sê: Toe ek omdraai om te kyk waar my pa dan is, was hy skoonveld. Hasepad gekies en agter ’n pilaar gaan skuil.
Klein boompies moet dikwels nog tak(t)ke groei en ek het self al met ’n rooi gesig gesit oor die dinge wat die Genade-kroos kwytraak.
Soos die keer toe ons genooi is vir koffie by iemand en my seuntjie sommer met die intrapslag vir die gasvrou sê hy sal sy koeldrank “in ’n ‘takeaway cup’ vat, Tannie, want Mamma het gesê ons gaan beslis nie lank by júlle mense bly nie”.
Ek het gewens ek kon my rooi gesig in ’n wegneemkardoes pak en dadelik spore maak.
My sosiale vlindertjie (tans 6) knoop baie graag joviale geselsies met mense in winkeltoue aan. Sy het al onder andere vir ’n Moslemdame wat ten volle geklee was in haar swart abaya, gesê: “Tannie se ninja-klere is móói!”
Sy het ook die supermarkkassier gelukgewens met “al die tandjies wat Tannie gewissel het” en gevra hoeveel die Tandemuis vir haar gebring het.
Sulke onskuld sorg vir in-die-mou-giggel-oomblikke en dis waar die verskil lê tussen iets effe onvanpas kwytraak, maar uit kinderlike onskuld en met ’n goeie bedoeling – en iets goor en simpel aan iemand sê bloot omdat jy nie maniere of ’n filter het nie. Erger dan ook om daarna met ’n stroopsoet glimlag te sê: “Ag, ek het net ’n ou grappietjie gemaak!”
As jy nie iets moois kan sê nie, is dit eenvoudig: Móénie jou mond oopmaak nie. En as iemand keer op keer iets nie-moois-nie vir jou en oor jou uitblaker, is dit effe moeiliker, maar eweneens eenvoudig: Móénie luister nie.
Party bome het nou maar eenmaal nie ’n enkele empatiese tak(t) nie.
* * *
Mandy Kloppers se blog: http://thoughtsonliveandlove.com
Lees ook: Nuwe grense: Wanneer ouers en hul volwasse kinders saamwoon