An’ker s.nw. I (-s) 1. Swaar ystervoorwerp met arms en kloue aan ‘n skag, wat gebruik word om ’n skip vas te lê: Voor anker lê, die anker lig, optrek, laat sak. 2. Toestel om iets aan die grond of aan ander voorwerpe vas te heg; ankervormige voorwerp, bv. ’n muurhaak: ’n Plant wat ankers afgee in die grond. Die anker van ‘n uurwerk. 3. (fig.) Iets wat ‘n mens steun gee en jou veilig laat voel: ’n Anker is die sinnebeeld van die hoop. Vertroue op God is my anker in die lewe. II ww. (geanker). Die anker laat val; met, aan ‘n anker vaslê: ‘n Hoekpaal met draad en klippe anker. Ook fig. Hy het hom daar goed geanker, gevestig.
Soms, as iets my pla, haal ek die ou, swaar Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, oftewel die HAT, van die rak. ’n 1988-uitgawe, die jaar voor ek matriek geskryf het. En soms, daar tussen die effens vergeelde bladsye van die 27-jarige boek op my rak, kry ek wat ek soek. Vandag weer.
Hul pryk dié week op die voorblad van al wat koerant is. Die Springbok-wenspan van die 1995 Wêreldrugbytoernooi wat hul 20-jaar-reünie op Ellispark gevier het.
Ek was ’n doelgerigte, dromerige 24. Min geweet van rugby, maar alles van Francois Pienaar, Balie Swart, James Small, Kobus Wiese, André Joubert, Japie Mulder, Hennie le Roux, Chester Williams, Joel Stransky, Hannes Strydom, Joost van der Westhuizen, Mark Andrews, Os du Randt, Chris Rossouw en Ruben Kruger.
Ek’t gedroom van ’n wasige trourok met Francois (en soms Joost, soms Ruben) aan my sy, maar was ook meer realisties: dalk is die effens stewiger Chris of Os meer die man vir my. Of dalk Mark, die lang man met die groot glimlag en verleidelike klein gaping tussen die voortande.
Ek was 24.
Die jaar toe Suid-Afrika kon anker gooi.
Iemand plak hierdie week joernalis Dana Snyman se woorde op ’n Facebook-muur: “Die spanne draf op. Die wedstryd is in ’n asemteug verby. Springbokke: 12, All Blacks 12. Nou is dit ekstra tyd. Later is daar net sewe minute oor. Skrum naby die All Blacks se 10 m-lyn. Balie kry Quintus se regterskouer. Joost tel die bal op. Stransky het hom, Stransky skepskop, en die bal klim en klim die lug in, en ons knieë kom weer met ons regop in ons sitplekke, en ons dra daardie bal, ons dra daardie bal met ons geheime gebede en desperate drome dra ons daardie bal, hoog tussen die pale deur. En toe is niks meer dieselfde nie.”
Ja, Dana. Niks.
Iets wat ’n mens steun gee en jou veilig laat voel. ’n Anker is die sinnebeeld van die hoop. Dís wat dit was. ’n Span en ’n skop word ’n swaar, ystervoorwerp wat Suid-Afrika aan die wêreld heg, wat ons aan mekaar anker.
En as dit nie so gebeur het nie? Wonder ek.
Ek weet steeds gevaarlik min van rugby. Francois, Mark, Chris en Os se lewe het ‘n ander koers gekies. Ruben s’n is te vroeg kortgeknip. Joost? Joost . . . Maar ek weet genoeg om te kan sê: ‘n span en ’n skop het ons geanker. Steun gegee en veilig laat voel, soos bitter min die afgelope twintig jaar.
’n Span en ’n skop bly ons sinnebeeld van hoop.
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za