Om agter tralies te sit sonder dat iemand tot haar redding kom, moes soos die uiterste vorm van verwerping gevoel het. Wreed. Nie haar familie of haar man David* was bereid om die R500 borgtog te betaal nie. Nee, het haar geliefdes besluit. Tough Love is die enigste uitweg om haar tot haar sinne te ruk nadat sy vyf jaar lank haar lyf op straat verkoop het om haar heroïengebruik te onderhou.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Twee jaar later sit Michelle Mbua (38) oorkant my by The Cradle of Hope, ’n huis in Krugersdorp-Wes, waar meer as dertig weggooivroue en kinders tydelik woon en bemagtig word om op eie bene te staan voor hulle weer die lewe kan aandurf. Van die vroue was haweloos of mishandel; ander was prostitute en dwelmslawe.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Die eerste 18 maande van Daniella se lewe was Michelle in so ’n dwelmbeswyming dat sy skaars van haar bestaan bewus was, maar die afgelope 18 maande is haar kind die spil waarom haar lewe draai. Michelle sit regop en praat padlangs. Hierdie traumatiese gebeure toe haar geliefdes hul rug na haar gedraai het, vertel sy, was Goddelike ingryping. Dit het haar uiteindelik gered.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Michelle is welsprekend en goed versorg. Sy dra vir die onderhoud ’n kraakvars wit hemp en netjiese swart langbroek. Dis moeilik om te glo dat sy die wêreld se oudste beroep beoefen het – veral as jy boonop hoor dat sy ’n leier op skool was wat selfs ’n onderskeiding in matriek behaal het en daarna ’n sielkundige wou word.
“Ek was eintlik ’n bleeksiel. Skamerig en glad nie losbandig nie.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Hoewel sy in ’n pastorie grootgeword het, het ontwrigting haar kinderjare gekenmerk. Sy kan nie eens onthou hoeveel keer hul gesin getrek het nie – elke keer wanneer haar pa ’n nuwe beroep gekry het. Sy is in Bulawayo, in die ou Rhodesië gebore en onthou die wye ruimtes, die onafhanklikheidsoorlog en haar vrees as kind om vermoor te word.
Hul gesinslewe was gemaklik en koloniaal. Hulle het talle werkers gehad – van ’n sjef tot ’n tuinier en ’n huishoudster. Sy was sewe toe die gesin (sy het twee jonger broers) Suid-Afrika toe verhuis het. Haar pa het teologie begin studeer terwyl haar ma – wat noodgewonge die broodwinner moes wees – altyd gewerk het.
Menige verhuising het gevolg – na Grabouw, na Goodwood, na Table View. “Dit het gevoel asof daar geen bestendigheid in my lewe was nie. Ek het dinge ook nie vir my makliker gemaak nie, want dit was nie maklik om van my te hou nie. Ek was ernstig, hoogs gefokus en beslis nie cool nie.”
Ondanks haar teruggetrokkenheid was Michelle gek na sang en toneelspel. Sy het op skool aan talle opvoerings deelgeneem. Dit was ook my groot ambisie om hoofmeisie te word. Ek was baie toegewyd en was goed in alles wat ek aangepak het.” Toe sê sy onbeskroomd: “En toe word ek ’n uitstekende prostituut en toegewyde dwelmslaaf.”
Michelle behou deurentyd oogkontak. Sy kyk nooit weg nie. Ondanks haar omstrede lewe beskou sy haarself as ’n unieke mens: iemand wat aan ander kan vertel dat daar altyd hoop is. As jongmeisie het sy die geleentheid gehad om as ’n Rotariër-uitruilstudent Amerika toe te gaan, maar het besluit om nie die aanbod te aanvaar nie. Sy het in daardie stadium ’n beheptheid met haar gewig ontwikkel en dié program was die laaste ding wat sy wou doen:
“Ek het gesien hoe vet al die uitruilstudente daar geword het en ek wou nie vet wees nie.
Anoreksie is ’n emosionele siekte. Dit gaan oor pyn en selfverwerping. Ek het my uitgehonger en gedaan geoefen – in so ’n mate dat ek verskeie kere ineengestort het.” Sy het nogtans daarin geslaag om met manipulasie dieetpille op voorskrif te kry. Toe sy twee weke lank nie kon slaap nie, is kalmeerpille ook voorgeskryf.
“Ek dink ek het te veel emosionele probleme gehad. Ek het te hard gewerk en ek was nie deel van die studentelewe op RAU nie. Daar was geen balans in my lewe nie. Ek het ’n maagseer ontwikkel, al my medikasie tegelyk afgesluk en in die hospitaal beland. Hulle het my maag uitgepomp en ek onthou ook dat ek in daardie warboel besef het ek nie wil sterf nie. Ná hierdie voorval het ek nie kans gesien om verder te studeer nie.”
Michelle het daarna as kelnerin in ’n restaurant gewerk, in ’n orkes gespeel en ’n aantal kursusse in rekenaarvaardigheid voltooi. Maar haar gemoedstoestand was donker; die swart hond van depressie op haar hakke. Verskeie mislukte verhoudings en twee huwelike het gevolg.
“Ian* was my ridder op ’n wit perd met wie ek vier jaar lank ’n verhouding gehad het, maar hy het my later aangerand. Ek het hande vol dieetpille afgesluk. Dit het my wel goed laat lyk, maar die pille het my aaklig laat voel,” vertel sy. “In my binneste het ek leeg gevoel.”
Toe ontmoet sy vir Sieg*. Hy was ’n beeld van ’n man met ’n Mnr. Noordwes-titel agter die blad – tall, dark and handsome. “Dit was soos ’n droom. Ons het ons eerste huis gekoop en dit het voor die wind met sy onderneming gegaan. Maar toe begin ek wild en wakker geld blaas – op vetuitsuiging, duur ontwerpersklere en nog vele. Intussen was my ouers besig om te skei en ek is Oos-Londen toe om hulle by te staan. My my pa het uit die bediening getree. Daarna het my huwelik ook op die rotse beland. Ek het ’n goeie skikking gekry. Sieg was die een wat kaal uitgeloop het.”
Michelle het daarna heen en weer tussen haar ouers getrek. ’n Bose kringloop van middelmisbruik het ontstaan – oor-die-toonbank dieetpille, gevolg deur kalmeermiddels, medikasie teen hardlywigheid en daarna weer middels om waterretensie hok te slaan. Nog ’n ineenstorting het gevolg en sy is weer in ’n rehabilitasiesentrum be-handel, maar daar was te veel reëls na haar sin en sy het besluit om weg te loop. Dinge het van kwaad na erger gegaan.
“Ek het begin om heroïen, wat hoogs verslawend is, te misbruik. Daar is ’n gesegde dat ’n mens jou ma vir hierdie dwelm sal verkoop. Glo my, om dit slegs een keer te gebruik, is een keer te veel. Dit laat jou op ’n vreemde manier gekoester maar ook afgestomp voel.”
Daar was gou weer ’n man in haar lewe.
“Ons was nie werklik verlief op mekaar nie. Ons was verlief op heroïen. Hy het tot die wiele van sy motor verkoop om die dwelm in die hande te kry. Die gevolg was dat hy nie by die werk kon kom nie en sy werk verloor het.” Sy is nog male sonder tal in rehabilitasiesentrums opgeneem.
“Die onttrekkingsimptome het my ellendig laat voel, so asof ek beheer oor alles verloor het. Die naarheid is so erg dat jy nie kan eet of drink nie. Dan dink jy dit is soveel makliker om maar net weer voor heroïen te swig as om deur hierdie hel te gaan.”
Michelle het later saam met twee bruin mans ’n swerwers-bestaan in Kaapstad gevoer voor ’n dwelmhandelaar van Kameroen vir haar blyplek in sy Seepunt-woonstel aangebied het. ’n Week lank was sy sy meisie.
“Dit is ’n vreemde wêreld waarin prostitute hulle bevind. Jou koppelaar is dikwels ook jou kêrel. Ja, ek weet dit klink waansinnig maar jou werk en private lewe word geskei. Ek het nie ’n dooie duit omgegee hoe ek geld verdien het nie. Die man het my aan Fatimah – sy ‘werkende meisie’ voorgestel. Sy sou my in die wêreld se oudste beroep onderrig. My eerste kliënt was ’n dwelmbaas. Ek het genoeg verdien om dwelms te koop en om my huisbaas gelukkig te hou.
“Prostitusie is ’n gevaarlike beroep”, sê Michelle. “Kondome bars dikwels en ek het menige keer naalde gedeel. ’n Mens voer ’n onwaardige bestaan. Ek het my voet ernstig beseer toe ek van ’n vragmotor afgespring het om weg te kom van iemand wat geld by my wou steel. Die wond het septies geword maar ek het nietemin nog drie jaar lank met prostitusie voortgegaan. Ek was bekend as die prostituut wat my voet onder ’n lang rok weggesteek het. Die een wat kruppel geloop het.”
Baie van haar kliënte was getroude mans. En haar prys? R100 per kliënt – tot tien per dag. “Jy voel soos ’n bedrieër in dié beroep. En dis ligjare verwyder van die geromantiseerde fliek Pretty Woman met Julia Roberts in die hoofrol. “Mans moet ook besef dat prostitute nooit werklik in hulle belang stel nie. Dis net ’n kil saketransaksie.”
Vyf jaar gelede het Michelle haar tweede man, ook ’n Kameroener, ontmoet. “Ek het in ’n kroeg gesit waar hy die uitsmyter was. Hoewel David* twaalf jaar jonger as ek is, het ons dadelik gekliek. Hy is saggeaard en het altyd my wense in ag geneem. Hy het dit verpes om te sien wat heroïen aan my doen.”
Hulle is getroud en Michelle het swanger geraak maar nogtans haar beroep en dwelmmisbruik voortgesit. “David was bekommerd maar ek kon nie sonder die dwelms leef nie. Moederskap was boonop vir my ondenkbaar. My hele wese het daarteen in opstand gekom. Tog het ek nooit aborsie oorweeg nie. Ek kon dit nie oor my hart kry nie. Iets het my net weerhou om so ver te gaan. Natuurlik was daar mense wat skepties oor ons huwelik was. Hulle het gedink David wil my net gebruik om Suid-Afrikaanse burgerskap te kry. Ons is nou vervreem maar hy bly ’n goeie pa.”
Daniella se geboorte op 29 weke is vir haar soos ’n vae hersen-skim. Sy onthou net hoe sy in die kraamproses na dwelms gehunker het. En hoe sy alles aan die hospitaalpersoneel uitgeblaker het.
“Ek was doodbang dat sy iets sou oorkom. Weens my dwelmmisbruik moes sy nog ses weke ná haar geboorte vir dwelmonttrekking en ontgifting in die hospitaal behandel word. Ná haar geboorte het die maatskaplike werker gesê my baba sal van my af weggeneem word. David het toe ’n vrou en haar dogter na die hospitaal gebring en voorgegee dat dit sy familie is en dat hulle na haar sou omsien. Daniella het later huis toe gekom, maar dit was ’n ramp.”
Michelle was steeds ’n dwelmslaaf en sy was nie in staat om haar kind te versorg nie. “Ek het nie eens geweet hoe om ’n doek aan te sit nie. Hoewel ons onder dieselfde dak gewoon het, was ek nie teenwoordig nie.” Sy het haar verwoestende leefwyse voortgesit en weer op straat gaan werk. Michelle se pa en sy tweede vrou het in daardie stadium na Daniella omgesien.
Michelle is intussen in Parow weens prostitusie gearresteer. “Vandag besef ek dit was Goddelike ingryping, want die polisie het beter dinge om te doen as om prostitute in hegtenis te neem. Die polisie het voorgegee dat hulle kliënte is en ek is met gemerkte geld gevang.” Haar stemtoon daal.
“Die drie maande wat ek in die Pollsmoor-gevangenis verhoorafwagtend was, was onhoudbaar. Louter hel. Ek sal nooit weer tronk toe gaan nie. Ons was sewentig vroue in ’n sel vir veertig en ons moes beddens met vreemdelinge deel. Die landdros wou weet hoekom niemand bereid was om vir my borg te betaal nie. My mense wou my ’n les leer, het ek gesê. Ek was eerlik. Toe sê hy hy wil my ook ’n les leer. Vandag besef ek dit was alles ten goede. Ek was veiliger in die tronk. Buite sou die dwelms my dood-gemaak het.”
Intussen het haar onttrekkingshel en cold turkey-proses begin. Die hofsaak teen haar is toe ook op onverklaarbare wyse teruggetrek. Sy het besef dat sy uit die Kaap moes wegkom. Daar was te veel slegte herinneringe; te veel versoekings. David het vir haar ’n vliegkaartjie Noorde toe gekoop sodat sy vir haar pa kon gaan kuier. Sy het op ’n dag in ’n winkelsentrum toevallig gehoor van The Cradle of Hope – ’n plek waar hawelose en stukkende vroue tydelik tuisgaan en toegerus word om weer die lewe aan te durf. Sy en Daniella het daar ‘n heenkome gekry.
Melodie van Brakel, stigter van The Cradle of Hope, vertel dat sy met hul eerste ontmoeting besef het Michelle is “óf baie opreg óf baie slim. Maar vandag besef ek Michelle – sy is ons bemarkings-bestuurder – verdien ’n tweede kans.”
Michelle sê sy is ’n nuwe mens en sy is al twee en half jaar “skoon.” Sy beskou dit as ’n wonderwerk dat sy nie MIV/vigs het nie en dat Daniella normaal is.
“Ek het my gewete wat deur dwelms vernietig is, teruggekry. Danksy die lewensafrigting en die opheffingsprogramme wat ek by The Cradle of Hope gekry het, voel ek spiritueel en emosioneel vervuld. Ek soek nie meer ’n quick fix nie. Ek het my emosionele pyn verwerk en myself bemagtig. En ek het geleer hoe om ’n goeie ma te wees. Ek het besef dat God my liefhet. Nou is dit my hartsbegeerte om vir ander ’n getuienis en inspirasie te wees.
* Skuilname is gebruik.
Michelle het intussen saam met haar pa en dogter in ’n tweeslaapkamermeenthuis in ’n goeie woonbuurt in Krugersdorp ingetrek. Sy is Cradle of Hope se bemarkingsbestuurder, het ’n motivering-spreker geword en is nou ook ’n opgeleide dwelmberader wat ander verslaafdes help. Sy het onlangs 1 500 vroue saam met medespreker Sonja Herholdt toegespreek
Meer inligting oor The Cradle of Hope of motiveringspraatjies by 011 660 4623, melodie@thecradleofhope.org of besoek www.thecradleofhope.org
Dit het soos soveel suksesverhale klein begin, maar die droom was groot: begin ’n TV-kanaal…
Volgens 'n amptelike verklaring wat Vrydagoggend deur die Mej. Suid-Afrika-organisasie vrygestel is, het die huidige…
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
Hierdie webwerf gebruik koekies.