Toe sy klein was, wou Rachel Carson ’n skrywer word. Om ’n wêreld deur woorde weer te gee was haar droom. Maar toe sy op universiteit die lieflikheid van die natuur deur ’n mikroskoop ontdek, was haar studierigting en loopbaan vir haar uitgestippel. Sy het ’n toegewyde marinebioloog geword wat uiteindelik deur gevoelige prosa haar wetenskaplike kennis en haar kommer oor die verwoesting van die natuur en sy fyn ekologiese samehang met die mensdom kon deel.
Rachel het in haar bekendste boek, die blitsverkoper, Silent Spring, wat in 1962 verskyn het, die eerste keer feitelik oor die natuurvernietigende gevolge van die wye gebruik van insek- en onkruiddoders geskryf. ’n Presidensiële kommissie wat op grond van dié boek aangestel is, het haar bevindings oor die beskadiging van die omgewing beaam en stappe gedoen om die ongebreidelde aanwending van chemikalieë in toom te hou.
Carson kan met reg beskou word as die grondlegger van die moderne bewustheid van omgewingsbewaring.
Die skugter, saggeaarde Rachel Louise Carson is op 27 Mei 1907 in Springdale, Pennsilvanië in die VSA gebore. Sy is nooit getroud nie en was die enigste onder die kinders in haar gesin wat universiteitsopleiding gekry het.
Die Carsons het ’n plasie gehad en Rachel het gereeld die omgewing verken. Sy was heelwat jonger as haar broer en suster en meestal alleen, maar sy was nooit eensaam nie. Die diere, voëls, plante en insekte het haar geselskap gehou. Rachel se ma, Maria, was ’n onderwyseres en ’n natuurliefhebber. Sy het haar liefde en respek vir die natuur met haar dogter gedeel. Rachel het later onthou hoe haar ma nie insekte in die huis doodgemaak het nie, maar hulle uitgedra het buite toe. Daar was nie eens ’n vlieëplak in hul huis nie.
Hoewel hul plasie ver van die see af was, het Rachel ’n brandende begeerte gehad om die see te sien. In hul huis was ’n groot trompetskulp wat sy dikwels teen haar oor gehou het om die verbeelde geluide van die oseaan te hoor. Sy het daarvan gedroom om op die strand te staan, die slag van die golwe te hoor en die fyn sand oor haar voete te voel spoel.
Die impetus vir haar belangstelling in die see was waarskynlik haar toevallige ontdekking van ’n fossiel in ’n klip in die veld. Sy het vir haar ma gaan wys en saam het hulle dit in ’n boek nageslaan. Dit was die fossiel van ’n seediertjie. Miljoene jare gelede was hul stukkie plaas deel van die oseaan! Rachel was gefassineer.
Naas die see was Rachel se grootste droom om ’n skrywer te word. Sy was lief vir lees en het gereeld saam met haar pa dorp toe gegaan om boeke by die biblioteek uit te neem. Op skool het sy goed presteer. Sy was ’n skugter, hardwerkende kind wat gereeld A-simbole gekry het.
Daar was geen twyfel dat Rachel ná skool kollege toe moes gaan nie. Gelukkig het haar goeie skoolresultate vir haar die pad na ’n beurs toe oopgemaak en kon sy by die Pennsilvanië-kollege vir vroue in Pittsburg gaan studeer. Sy het vir ’n kursus in Engelse letterkunde en skryfkunde ingeskryf omdat sy ’n skrywer wou word maar ’n wetenskapkursus was ook ’n vereiste vir haar studierigting en in die biologieklas het sy meegevoer na ’n klein, eensellige organisme onder die mikroskoop gekyk. Die patrone van reëndruppels en wolke was daarin vervat en in dié eenvoudige organisme het sy die kompleksiteit van die heelal raakgesien.
In ’n gedig het Rachel ’n reël raakgelees wat haar finaal laat besluit het om van studierigting te verander. Dié reël was: “For the mighty wind arises, roaring seaward, and I go”.
Gefassineerd het sy die oseaan en die lewe in die water begin bestudeer en later ’n meestersgraad in haar vakgebied aan die Johns Hopkins-universiteit behaal, in daardie tyd ’n besondere prestasie deur ’n vrou. In 1936 het sy aan die Maryland-universiteit begin klasgee en daarna ’n pos by die vis- en wildlewediens van die VSA aanvaar, ’n pos wat sy lank beklee het.
Op al haar ekskursies langs die see af en in die veld het sy ’n notaboek met haar saamgedra. Om te skryf was steeds ’n droom en haar navorsing sou haar daartoe in staat stel. Uiteindelik het sy vier boeke gepubliseer, almal oor die see en die natuur.
In 1941 het Under the Sea Wind verskyn. In helder, verstaanbare taal het sy die geheime van die onderwaterse seewêreld met haar lesers gedeel. Die boek het goeie resensies gekry, maar was nie ’n groot verkoper nie, want ’n maand ná die publikasie het Amerika tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree. Niemand het belang gestel in ’n boek oor die see nie.
Haar tweede boek, The Sea Around Us, het in 1951 verskyn en was ’n topverkoper. Dit het twee pryse gewen en is in 28 tale vertaal. In die boek het sy onder meer die konsep van ekologiese samehang, iets waarvan min mense nog geweet het, beskryf. Sy was skielik in groot aanvraag as ’n spreker. Die skaam, terughoudende mens was nie gemaklik met openbare optrede nie, maar sy het dit gedoen omdat sy vasbeslote was dat mense meer moes leer van die omgewing en die gevare wat dit bedreig.
Die sukses van hierdie boek het haar laat besluit om haar eerste boek te laat herdruk en dié keer was Under the Sea-Wind ’n reuse-sukses. Rachel se finansiële swaarkrydae was uiteindelik agter die rug. In 1952 het sy haar werk bedank en haar net op skryfwerk toegespits.
Sy het saam met haar ma duisende kilometers langs die kus af gereis om die plante en seelewe in verskillende omgewings te ondersoek en nuwe temas te kry om oor te skryf, en in 1955 het haar derde boek, The Edge of the Sea, verskyn – weer eens ’n blitsverkoper. Rachel Carson was nou so bekend dat mense haar in die openbaar herken en lastig geval het.
Sy het baie navorsing gedoen oor die effek wat besoedeling op die wêreld het. Die storting van nywerheidsafval in strome en riviere wat uiteindelik in die see beland, het haar ontstel. Boonop het Amerika in die jare vyftig uitgebreide programme gehad waardeur insekdoders uit vliegtuie op plantasies en katoenlande gespuit is.
Op ’n dag het Rachel ’n brief van ’n vriendin ontvang. Dié het haar vertel hoe baie rooiborsies in haar erf dood is weens vergiftiging deur insekdoders wat veronderstel was om muskiete te beheer. Dit het Rachel se volgende navorsingstema geword en in 1962 het haar belangrikste boek, Silent Spring, verskyn. Die titel het verwys na die aanbreek van ’n lente sonder voëls weens plaagdoders. Rachel was ontsteld oor die bedreiging wat die chemikalieë vir insekte, voëls, diere, plantlewe én mense ingehou het.
In Silent Spring het sy verduidelik dat dit honderde miljoene jare geneem het om lewe op die aarde voort te bring soos dit vandag daar uitsien. Prosesse van aanpassing het oor eeue der eeue plaasgevind. Daar was van die begin af vyande van lewe, maar ’n balans is gevind omdat die prosesse oor ’n geweldige lang tyd plaasgevind het terwyl dit in die moderne wêreld gestu word deur die haas en impulsiewe optrede van die mens en nie meer deur die vaste gang van die natuur nie. Chemikalieë waarby lewe moet aanpas, bestaan nie meer net uit minerale wat natuurlik aanwesig is nie, maar ook ’n nimmereindigende stroom mensgemaakte chemikalieë.
Carson het met talle voorbeelde uit die omgewing uitgewys dat insekdoders soos DDT, dieldrin, aldrien en onkruiddoders ’n vernietigende uitwerking op die ekologiese samehang gehad het. Die interaksie tussen water, plante, insekte en diere, asook die mens, het tot onberekenbare gevolge gelei. Voëls is uitgeroei deurdat hulle vergiftigde insekte eet, of anders het hulle steriel geraak en hul eiers het nie uitgebroei nie. Dieselfde lot het hele visbevolkings in strome en riviere getref, die blare en bas van plante is met ’n dodelike gifbolaag bedek en die gif het in die grond agtergebly.
Silent Spring was ’n topverkoper. ’n Program oor die boek is ook op TV aangebied en tien miljoen mense het daarna gekyk. Die publiek het kennis geneem van die gevare en druk begin uitoefen teen die ongetemperde gebruik van die gifstowwe.
So oorweldigend was die reaksie op die boek dat die regering van president J.F. Kennedy ’n kommissie van ondersoek na die saak ingestel het. Die kommissie se verslag van 1963 het Rachel se gevolgtrekkings beaam. Nuwe wette is deurgevoer en stappe is gedoen om die gebruik van die middels in te kort. Die gebruik van DDT is later heeltemal verbied. Daar is ook meer navorsing gedoen oor die biologiese pleks van die chemiese bestryding van plae.
Rachel Carson was fisiek nooit ’n baie sterk mens nie en in die jare waarin sy navorsing vir Silent Spring gedoen het, het haar gesondheid erg agteruit gegaan. In 1960 is kanker by haar gediagnoseer. Sy het deur haar pyn en siekte vasgebyt, haar boek voltooi en lank genoeg geleef om die volslae sukses daarvan te beleef. Sy is in 1964 op die ouderdom van net 56 in Maryland oorlede.
Hierdie artikel het oorspronklik in die rooi rose Julie 2016 uitgawe verskyn.
Bronne: Boeke: Rachel Carson, Silent Spring, E-boekformaat; Amy Ehrlich, The Story of Rachel Carson, E-boekformaat; Sarah Fabiny, Who was Rachel Carson? E-boekformaat.
Internet: Bob McDonald, “Silent Spring Still Relevant, 50 Years Later” (www.cbc.ca/newsblogs/technology/quirks-quarks-blog/2012/09/silent-spring-still-relevant-50-years-later.html); “Is Rachel Carson’s Thesis in Silent Spring Still Relevant Today? (www.enotes.com/homework-help/rachel-carsons-thesis-silent-spring-still-398973); Obituary: “Rachel Carson Dies of Cancer” (www.nytimes.com/learning/general/onthisday/bday/0527.html).