Die hittegolwe dans op die aanloopbaan van die hoofstad, Zagreb, toe ons land en ek verstom my oor die kleinerige lughawe en -gebou waar reisigers van reg oor die wêreld daagliks die perfekte toeristebestemming binnestroom. Die kwaai doeanebeampte blaai haar kuif regop in my paspoort en toe sy uiteindelik die visum raaksien, is sy kennelik teleurgesteld.
In die middestad blom al wat sypaadjie is in alle kombinasies van die reënboog. Ons hotel is reg in die middel van die mooiste deel van die ou stad met ‘n uitsig op die belangrikste plein, die Ban Jelacic. Dis ‘n toeris se droom, want alles wat indrukwekkend en besienswaardig is, is om die plein ingepas. Daar is straatkafees en klein spesialiteitswinkels om elke hoek en draai, asook die varsproduktemark wat jy nie kan misloop nie. Alles wat vars, lekker en besonders is, ding mee om jou aandag te trek: rooiwanggranate, vars en droë vye (smokva), druiwe, watertandkase, blommerangskikkings en tuisgemaakte pelinkovak (kruiewitblits) wat ‘n ou, geplooide tannie in swart rustig sit en smous …
Ons het laatmiddag in die bekende St. Markus-katedraal stilte gaan soek. Ook maar goed so, want die koor het later geoefen en ‘n gratis konsert is nooit te versmaai nie!
Varazdin in die noorde, byna op die grens tussen Slowenië en Hongarye, is die ideale plek vir ‘n daguitstappie. Dis sowat 80 km buite Zagreb op ‘n pad wat deur die heuwels van die Kaprina- Zargojeje-streek kronkel. Varazdin se barok-argitektuur en die eg-Hongaarse spyskaarte in die restaurante weerspieël die steeds noue band tussen die lande. As dit nie was vir die Kroatiese priester wat my in ‘n geskenkwinkel met sy gebedsnoer geseën het nie, het ek sowaar gedink ek het per ongeluk ‘n grens of twee oorgesteek.
Meer as net mere Suidweswaarts van Zagreb is ‘n natuurwonder, die Plitvieka-Jezera Nasionale Park, Kroasië se eie “Lake District” met sy twintigtal mere waarvan 16 met mekaar verbind is. Die houtpaadjie om die waters is niks minder as ‘n verbysterende roete nie. Jy verwag enige oomblik dat ‘n feetjie tussen die blare vir jou gaan glimlag, of ‘n kabouter wat onder sy sampioenhuis aan’t spit is.
By ‘n nabygeleë restaurant ontdek ons een van die land se tradisionele geregte: Peka – ‘n soort platboompot met ‘n koepeldeksel waarin skaapvleis (of, as jy gelukkig is, wildevark) met uie, wilde kruie en aartappels drie tot vyf uur lank op die kole gestowe word. Al is Kroasië skaars groter as die Boland, is dit nie ‘n landjie waardeur jy net kan jaag nie. ‘n Deel van die aantrekkingskrag van hierdie land van vele gesigte is die na-aan-die-aarde mentaliteit en onopgesmukte leefwyse van sy mense. Daar is een snelweg wat van Zagreb na die kus loop, maar die breë en vinnige weg ontneem jou van die vele vreugdes van klein dorpies met omies wat voor die café sit en koffie drink, vroue wat langs die pad vars kersies verkoop of die tannie sonder tande wat vir jou middagete in haar huis maak, al het jy eintlik net die pad kom vra.
Asemrowende Adriatiese kus
Digby die kus, sowat 30 km van die stad Split af, lê die dorpie Trogir op ‘n klein eiland tussen die vasteland en ‘n ander eiland, Ciovo. Wanneer jy deur die groot, swaar stadsdeure loer, is dit ‘n verrassing om skielik aan die ander kant die sjarmante, geskiedkundige deel van die plekkie te sien. Dié deel van die stad is een van die sewe plekke in die land wat UNESCO-Wêrelderfenis-status het en klein kobbelsteenstraatjies (ver)lei jou na skoenwinkels en roomystoonbanke. Natuurlik wen die roomys elke keer, want geen mens kan die tuisgemaakte verskeidenheid met heel vrugte, stukke sjokolade, kaneel en klapper weerstaan nie.
Laatmiddag slenter ons al langs die Riva (waterfront) en vergaap ons aan luukse jagte met die bemanningslede in uniform en olyfbruin blondines wat langbeen op die dek aan skemerdrankies teug. Jou boude skuur sommer aspris teen mekaar om jou te herinner hoe ver verwyder jy van hierdie lewe van weelde, pamperlang en dun sonbruinbene is. Op my reisplan het die antieke stad Split slegs halfdagbesoek-status gehad en skaars meer as ‘n split-sekonde was dit toe, al word dit dikwels “die mooiste stad in die wêreld” genoem. Behalwe vir die pragtige waterkant en nóg kronkelstraatjies, was ‘n vinnige deurstap van die paleis wat die Romeinse keiser Diokletianus in 305 n.C. daar laat bou het, genoeg kultuur vir een dag!
Split het ook een van die sentrale hawens vanwaar ‘n wye netwerk busse en veerbote na enige plek in die land vertrek. Kry so gou moontlik by die veerbootmaatskappy Jadrolinija ‘n rooster om seker te maak jou planne pas by hul skedule in. Kroasië het meer as duisend eilande waarvan sowat 65 bewoon is. Hulle dryf soos opdrifsels al langs die kus, maar om die hele kus met al sy dorpies, eilande en geheime baaitjies in een vakansie te besoek, is onmoontlik. Ek het op Hvar-eiland, Peljesak-skiereiland, Korkoela en Doebrofnik en omgewing besluit.
Eilande in die son
Stari Grad op die Hvar-eiland is net ‘n veerbootrit ver. Hvar is al talle kere deur die internasionale reistydskrif Condé Nast as een van die vyf mooiste eilande in die wêreld aangewys. Dit is groen, bergagtig en sowat 70 km lank en 6 km breed. Stari Grad is die oudste dorpie op die eiland én in Kroasië. Soggens beier die St. Stefanus-kerk se klokke jou wakker en die Pekara Paris-bakery se vars gebakte sjokolade-croissants gaan goed af saam met eerste koffie van die dag. Hier hou die kelner jou verlore beursie tot die volgende dag, tamaties is net in seisoen beskikbaar en die burgemeester is ook die hawemeester en hoofsanger van die dorpie se klapa (mannekoor). Laatmiddag stap jy water langs tot by die dowe oom se vino (wynwinkeltjie) en op die houtbankie voor die deur drink jy prosek (soet rosyntjiewyn) en tel die menigte seiljagte wat die een ná die ander vasmeer . In die stad Hvar, sowat 20 km van Stari Grad, meng jy met die “rich & famous” van oor die wêreld. Prins Harry het hier al met klere en al in ‘n hotel se swembad gespring; Beyoncé het die eerste keer haar boepie by die Carpe Diem Bar/Lounge gewys en haar dogtertjie, Blue Ivy, vernoem na ‘n rankplant-blom wat sy hier gesien het; Tom Cruise het onlangs hier gekuier en saam met die burgemeester, ‘n kelner en vele vissermanne vir foto’s geposeer. Die naglewe gons en die langbeenmeisies van Oos-Europa sweef in bling van een klub na die ander.
Ons reis neem ons weer eens van die een uiterste tot die ander. Van die bling van Hvar tot die Peljesak-skiereiland waar die pad na Doebrofnik verby talle vrugtepadstalle, piepklein wynkelders en talle wynlandgoedere kronkel. Ons stop terstond om madirazza-wyn te proe. Dis ‘n bekende druifsoort in Kroasië en herinner baie aan ons sauvignon blanc – die kleur ‘n bietjie geler, maar dis tipies vanweë die baie son wat die druiwe kry.
Kroasië het meer as sy deel van skilderagtige dorpies. Ston, op ons pad na Doebrofnik, is een van hulle. ‘n Eeue oue klipmuur seil vir 5,5 km teen ‘n koppie uit. Dit word beskou as een van die min “oorlewende” beskermingsmure ter wêreld – ‘n kortkop agter die Groot Muur van China. Ons stop langs die stadspoorte – ja, letterlik ‘n poort waardeur jy moet stap. Buite die poort lê oestervelde, asook die bekende soutpanne van die Dalmatiese kus. Binne wag die klipstraatjies, winkeltjies en seekosrestaurante, kompleet met foto’s om jou met jou keuse te help. Daar word besluit op 12 oesters, vispatee met geroosterde broodjies, verouderde Dalmatiese ham (przut) en seekat (die kleintjies met die pootjies nog aan). Volgens tradisie word die kos nie bedien voor jy ‘n knertsie grappa of soetwyn op die huis geniet het nie.
Korkoela is die geboorteplek van Marco Polo en met die aan wal gaan verstaan jy dat so ‘n skilderagtige eiland ‘n mens tot groot dinge kan inspireer, soos om die wêreld te gaan verken! Die dorpie Korkoela het my hart gesteel met sy hoë stadsmuur op die rand van die oseaan waarop die restaurante ingeryg sit. Die plek het ‘n aura van onverganklikheid en ook hier ry klipstraatjies wipplank op en af. Laatmiddag se opklim in een van die ou stadsmuurtorings bring ons by ‘n skemerkelkiekroeg en toe die boera (warm wind) deur my hare speel, knipoog die eerste liggies van die oorkantste baai na ons kant toe. Doebrofnikdae Doebrofnik se ou stad lê soos ‘n brosjure-foto uitgestal toe ons die laaste kronkeldraaitjie vat. Daar is geen hysers of roltrappe in die ou stad nie en as jou verblyf in die ou deel is, beteken dit honderde trappe wat oor restauranttafeltjies tot by jou voordeur tuimel. Onder die vele private verblyfplekke in die ou stad, was my gunsteling een van die talle gastekamers (sobe) of woonstelle in Ploce – sowat tien minute se stap van die Pile-hek en ou stadskern. Die woonbuurt leun teen die hange van die berg en het die mooiste uitsig oor rooi kleidakke, die ou hawe van Doebrofnik en die nabygeleë eilandjie Mljet in die turkooisblou oseaan. Op ‘n dag sien ons selfs ‘n seilskip wat soos die VOC-modelle van ouds lyk. Maak te wille van die uitsig seker jou blyplek het ‘n balkon.
Aandete in een van die talle restaurante in die ou stad kan enigiets van pizza, pasta tot skaapvleis of visgeregte wees, maar wees gewaarsku – ‘n vol maag en te veel wyn maak van die terugtog teen die steil trappe op ‘n oefening in oorlewing. Ons verdwaal doelbewus deur die strate van die stad, al langs die ou hawemuur en deur die doolhof van straatjies waar elke hoekie as restaurant ingespan word. In die verte hoor ons mansstemme, mandoliens en kitare. Al agter ons ore aan loop ons tot ons op ‘n groep netjies geklede mans afkom. Dis ‘n bekende klapa (mannekoor) wat by ‘n restaurant kuier. Ons staan nader en hulle sing spesiaal vir ons “My Bonnie lies over the Ocean”, maar toe hulle agterkom ons kom van Suid-Afrika af, wil hulle ‘n Afrikaanse liedjie hoor. Ek trek los met “As Oktobermaand weer hier is” – ‘n liedjie wat my ma altyd vir my gesing het. Daar klink die Afrikaanse note toe in ‘n ou stad op, tussen die antieke mure en nuwe dakke van ‘n stad wat die Serwiërs twintig jaar gelede amper platgeskiet het.
Nuttige wenke:
- Hoe kom ek daar?
- Die Turkse lugdiens en Emirates het voor ons vertrek die beste vlugpryse na Zagreb gehad.
- Jy kan vanaf Londen (Easijet), München, Amsterdam en Parys direk na Split of Doebrofnik vlieg.
- In die somer kan jy gewoonlik maklik met ‘n veerboot vanaf Italië (via Bari of Ancona) na Kroasië vaar. Besoek www.jadrolinija.hr vir die internasionale vlugrooster.
- Zagreb kan per trein vanaf Boedapest (4 uur) of Wene (6 uur) bereik word.
*Visumvereistes
- Vanaf 1 Julie vanjaar is die land deel van die Europese Unie en ‘n Schengen-visum is ‘n vereiste.
- Vervoer in Kroasië:
- Uitstekende openbare busvervoer op die vasteland maar op die eilande is die busse minder gereeld en dit is soms beter om ‘n motor te huur.
- Motorhuur is duur – bespreek liefs aanlyn. www.rentalcargroup.com bied goedkoper, maar betroubare opsies.
- Besoek www.jadrolinija.hr vir tye en roetes van veerbote.
- Die hoofpaaie is goedversorg, maar enkelbane maak jou reistyd langer.
- Waarmee betaal ek?
- Die geldeenheid is tans Kuna, maar dit is nog onseker of die land ná Julie 2013 Euro of Kuna gaan gebruik. Maak seker voor jy vertrek.
- Selfs die kleinste dorpie het kitsbanke en ten minste een bank. Jy kan ‘n Visa Passportkaart,gewone debiet- of kredietkaart gebruik. Meeste restaurante verkies kontant – moet dus nie op jou kredietkaart staatmaak nie. Winkels aanvaar wel kaarte.
- Water, kos en koop?
- Die land is baie trots op sy gesonde kraanwater.
- Kroatiese Cuisine is ‘n mengsel van die Italiaanse, Hongaarse en Oostenrykse invloed: pasta, pizzas, skaapvleis, biefstuk en volop seekosgeregte. Nagereg is nie ‘n sterk punt nie – beperkte verskeidenheid .
- Volop vars groente en vrugte en tuisgemaakte grappa of huiswyn.
- Gedroogde laventel, laventelolie, olyfolie en oorspronklike kuns is oral te vind.