“Dit lyk asof julle ’n heerlike tyd oor die water gehad het?” hoor ek vir die soveelste keer vandat ons teruggekeer het van ’n warrelwind week-en-’n-bietjie in Italië en Spanje.
Aangesien my kop steeds draai oor alles wat ek gesien en beleef het, glimlag ek net weer eens skaapagtig en antwoord dat dit baie lekker was.
Eufemisme van die eeu. Maar, hóé beskryf ’n mens aan iemand hoe ongelooflik baie jy gesien en ervaar het in ’n skamele 11 dae weg van die huis as jy self nog nie teruggekom het aarde toe nie?
Dit was nie my eerste keer in Europa nie. So, ek het geweet dat ’n mengelmoes van eeuoue geboue en kulture en moderne mense, winkels en maniere op my wag.
Maar, presies hóé die belewenis van dit alles my grootoog gelaat, my hart vol gemaak en my siel aangeraak en verryk het, is moeilik om te verwoord.
Natuurlik het daar ’n groot deel van my hart op my tuisdorp agtergebly in die vorm van ’n elfjarige, ’n negejarige, ’n spanjoel en twee katte en elke wakker oomblik van elke dag doer ver, was ’n mengsel van dankbaarheid dat ek is waar ek is, maar ook bekommernis dat die kinders regkom en niks oorkom nie.
Twee dae nadat die vliegtuig in Italië geland het, is dit toe dan ook só: Die elfjarige kla via die wifi-oproep dat sy hoofpyn en lyfseer van die afgelope dag en ’n half net al hoe erger word. Toe hy boonop sê sy nek voel styf en sy koors is nog nie gemeet nie, het ek amper summier op die hotel se besem geklim en teruggevlieg Suid-Afrika toe.
Hy het terug laat weet dat sy koors digby 40 grade C draai. Ongehoord vir hom – hy kry nie sommer koors nie. Op die Sondagaand skuins voor 20:00, moes Oupa en Ouma dus noodgedwonge op aanbeveling van die pediater wat ek gelukkig vanuit die hotelkamer in Padova in die hande kon kry, die elfjarige Ongevalle toe neem. Ek het op eiers sit en wag vir nuus en die verligting toe ons hoor dat ’n oorontsteking gediagnoseer is en sover niks erger nie, was yslik.
Natuurlik het dié ma daardie nag nie ’n oog toegemaak nie. My hart was heelnag by my koorskind en ek het só sleg gevoel dat ek nie die volgende dag daar kon wees toe hy volgens doktersvoorskrif nie skool toe is nie. Dit het darem gehelp toe ek later die oggend met hom gesels en hy weer sy ouself klink al was die ou lyfie nog seer.
Kleinsus was ook heeltemal buite haar aard tranerig elke keer as ons oor die foon gesels en haar teksboodskappe wat soos outomatiese masjiengeweervuur deurkom die oomblik dat ons in ’n wifi-gebied kom, het ook nie gehelp vir my onrustige, ontstemde moederhart nie.
Die verskil tussen mawees en pawees is ook weens ’n vol dagprogram op die spits gedryf. My man was elke dag heeldag op aanlegbesoeke en in werksvergaderings terwyl ek en sy baas se vrou die stede te voet verken het en ek kort-kort probeer het om via wifi seker te maak alles is oraait by die huis. Wanneer ons ons saans moes haas op pad na ’n werksete met sakekennisse wanneer ek nog eintlik gou eers wou huis toe bel, het ons happerig geraak.
Maar, soggens, nog boepens na die vorige aand se kulinêre fees en gasvryheid van ons gashere, was ek dankbaar oor elke teksboodskap van die huis af wat die kinders reeds ’n uur vantevore weens die tydsverskil gestuur het.
Danksy die kollega se vrou wat wyd berese en belese en ook ’n bok vir sports is, was daar op elke dag se program ’n klomp doendinge. Behalwe vir Rome en Venesië wat ek die voorafgaande naweek saam met my man deurgedraf het (ons het so gemiddeld 10 km per dag te voet afgelê om alles te siene te kry wat ons wou), het ek en die nuwe vriendin Padova, Verona, Florence, Ravenna en Bologne in Italië in vier dae deurgedraf én ons was saans nog betyds en op ons pos vir die werksetes.
Ons het uitgewerk dat ons daagliks so tussen 15 en 25 kilometer te voet in dié stede afgelê het om by al die besienswaardighede en inkopies uit te kom waarby ons graag wou.
Die Donderdagaand is ons vlug vanaf Bologne na Madrid weens ’n staking deur Italiaanse of Spaanse (of albei) vervoerwerkers met bykans ’n uur en ’n half vertraag. Ek het nog te midde van die Europese euforie wat my stewig in sy greep gehad het, gedink dat elke land maar sy probleme het. Hoe meer mense en plekke verskil, hoe meer is hulle eintlik maar dieselfde.
Die aand het ons danksy ’n vernuftige Spaanse taxidrywer, ondanks ’n vroue-optog voor ons hotel en meer as ’n kilometer se draf agter ons gasheer aan, net-net om 22:30 betyds kon aansit vir ’n Flamenco-vertoning en tapas-ete.
Daardie nag het ons weer eens eers amper 02:00 gaan slaap.
Die Vrydagoggend het ek en die vriendin besluit om dit bietjie rustiger te vat in Madrid weens die reën en ons oorwerkte, seer maermêrries en voetsole. Op die ou end, vermoed ek, het ons steeds digby 10 km afgelê in ons kort draaitjie deur dié asemrowende stad. ’n Groot deel van dié afstand het ek weliswaar onderdak afgelê, want daar moes nog presente en snuisterye gekoop word vir ’n paar mense by die huis. Ek het gedog dat Florence met sy leermark ’n inkopiebelewenis is, maar Madrid het nie ’n tree teruggestaan nie danksy sy hordes souvenir-winkeltjies.
In die sewe dae in Italië en twee dae in Spanje, het dit om selfoonfoto’s op ’n drafstap te neem en in rustydjies in’n wifi-gebied op Facebook te laai sodat die kinders by die huis kan sien, tweede natuur geword. (Eers na ons terugkoms sou die kinders vertel dat hulle nog nie die foto’s gesien het nie, want die skool- en na-uurse program het die grootouers glo té besig gehou!)
My kubermaats was egter ’n waarderende gehoor vir die hordes foto’s wat ek daagliks op sosiale media gelaai het – van besienswaardighede, pragtige bouwerk, dinge wat my oog gevang het en ongewone ervarings en avonture.
Pas terug na ’n vlug van ses ure en nog nege ure, het ek onwillekeurig die geboue van my tuisdorp bekyk en, asof instinktief, na my selfoonkamera gereik.
Die eerste dag terug, het ek ook ingedagte by ons plaaslike winkelsentrum verkeerdom om ’n sirkel gery – onverklaarbaar, want ek het nie eens self bestuur in Italië of Spanje nie…!
Van die dinge wat my bybly oor die Italianers, is die modes. Selfs in die kleiner dorpies het vroue en mans, oud en jonk, aandag getrek met hulle modieuse, elegante drag. Nêrens het ek iemand in oefendrag of tekkies gewaar nie, behalwe op ’n treinstasie met ’n groot tas op sleeptou – duidelik ’n toeris. Die plaaslike bevolking van Italië se stede en dorpe hou van stylvol aantrek en doen dit met onderskeiding.
Iets wat my wel twee keer laat kyk het, was die mode van stukkende jeans waaronder vroue én mans helderkleurige sykouse dra. Ek wonder of hierdie laatwinter-/vroeglentemode sal deurspoel na ons land en die Boland…?
Italianers is ook glád nie mal oor melk nie. In die luukse hotelle waarin ons danksy ons gashere gebly het, was daar meestal nêrens melk by die koffieskinkbord te bespeur nie. In een hotel was daar wel ’n klein koevertjie melkpoeier wat ek en my man kon deel, maar vir die daaropeenvolgende twee dae was daar nie weer ’n pakkie poeier nie.
Italiaanse wenkbroue lig ook as jy cappuccino ná 10:00 soggens bestel. ’n Kabouterkoppie vol sterk, swart koffie is die norm en jy bestel ook nie so ’n doppie woema en waag dit om te gaan sit om dit te drink nie – dit word doelgerig afgesluk by die delitoonbank.
Ons Italiaanse gasheer het dikwels teenoor ons Afrikaners met ons boeretroosgewoontes opgemerk: “Will you be taking the day off for that…?”
Pronto! Presto! In Italië sluk jy daai koffietjie in een teug af, want die dag wag.
Oral waar ons met inwoners te doen gekry het, het dit my opgeval hoeveel klem op familie- en vriendskapsbande in Italië gelê word. In een van my gunsteling klerewinkels (nie elke brat wat kan sê sy het ’n gunsteling kettingwinkel in Italië nie, of hoe?), OVS, het ek my ’n kwartier lank buite ’n aanpaskamer staan en vergaap aan ’n hele middejarige vriendekring wat buite (en binne) die een aanpashokkie saamgedrom het om een van die vroue te help aanpas. Hoewel ek nie verstaan het presies wát gesê is nie, was dit duidelik dat sy met soveel kommentaar en menings, beslis nie by die winkel sou uitstap met ’n kledingstuk wat nie álmal se goedkeuring wegdra en nommerpas is nie. Dit is beter as om jou eie kleremaker te hê!
Hoewel ek die Italianers nooit as styf ervaar het nie, was dit in Madrid vir my opvallend dat die Spanjaarde meer ontspanne en gemoedelik en ook minder getraak oor opdress is. In hierdie stad was daar ook opmerklik meer bedelaars langs die strate. In Venesië en omringende stede het ons nooit iemand sien bedel nie en volgens ons Italiaanse gasheer is dit omdat daar geen werkloosheid in die Noorde van Italië is nie. Hoe wonderlik?
Die Saterdagaand op Madrid se lughawe voor ons vlug Kaap toe via Dubai, kuier ons vir oulaas saam met my man se baas en sy vrou. Ek merk op dat ek nog deur al my foto’s wil werk om te kyk wat uitgedruk kan word, want ek dink “van die duisend of wat, het ek seker net so 200 foto’s op Facebook gelaai”. Die vriendin kyk my met so ’n sardoniese glimlag aan en sê: “Gaan kyk weer…”
553 foto’s in my “Italië”-album later, voel ek dan of ek maar nog net ’n baie klein, kosbare deeltjie van my kyk-en-beleef oor die water gedeel het?
Met die wrede werklikheid van ’n huishouding en ’n graad 4- en 6-toetsreeks op hande, kon ek egter nog nie weer veel aandag gee aan die fotoherinneringe van my Europese avontuur nie. Maar, die onthoutonele wat gereeld in my kop afspeel, hou my aan die glimlag.
Want, vir bietjie meer as ’n week kon ek uit my benoude boksiebestaan klim en ten spyte van ’n gejaagde program en my moedersinstink wat my hart kort-kort huis toe laat hunker het, my oorgee aan “la vita bella”. Dié lewe was voorwaar móói.