’n Kaasbordjie
Ingredients
- Roosmaryn-beskuitjies
- 310 ml (1¼ k) koekmeel
- 125 ml (½ k) gemaalde amandels of okkerneute
- 8 ml (½ e) roosmaryn, fyngekap
- knypie sout
- 125 ml (½ k) sagte botter
- 60 ml (¼ k) sagte bruinsuiker
- 60 ml (¼ k) suiker
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- hand vol droë vye, in die lengte middeldeur gesny
- Hartjiekaas
- Ons het ’n hartjievorm gebruik om die kaas te vorm, maar jy kan ook ’n ronde bakkie of teekoppie gebruik.
- 50 g sagte droë appelkose
- 15 ml (1 e) sjerrie
- 15 ml (1 e) kookwater
- 250 g (1 houer) gladde roomkaas
- 1 x 125 g sagte bloukaas soos Simonzola
- 60 ml (¼ k) room
- 50 g (½ pakkie) heel amandels
Instructions
Roosmaryn-beskuitjies
Voorverhit die oond tot 150 °C. Voer ’n bakplaat uit met Silpad of bakpapier wat met kleefwerende kossproei gespuit is.
1 Meng die meel, neute, roosmaryn en sout.
2 Klop die botter, suikers en vanielje saam tot lig en romerig. Voeg die meelmengsel by en meng tot die deeg bymekaar kom. Bedek met kleefplastiek en sit vir 30 min. in die yskas.
3 Rol die deeg 5 mm dik uit op ’n meelbestrooide werkvlak. Druk met verskillende grootte koekiedrukkers hartjies uit die deeg.
4 Pak op die bakplaat en bak vir 15-18 min. Laat op draadrakkies afkoel.
5 Druk die vye sodat hulle soos hartjies lyk en pak saam met die roosmarynkoekies en hartjiekaas uit.
Hartjiekaas
1 Meng die appelkose, sjerrie en kookwater en laat staan vir 10 min.
2 Meng die roomkaas, bloukaas en room saam tot glad. Voer ’n hartjiehouer of bakkie met ’n inhoudsmaat van 250 ml met ’n klam moeseliendoek uit en skep die helfte van die kaasmengsel daarin.
3 Dreineer die appelkose, voeg die amandels by en pak op die kaasmengsel. Skep die res van die kaasmengsel bo-op en sit vir minstens ’n uur in die yskas.
4 Keer op ’n mooi bord om.