Maar, hoe gemaak as jy ’n huisvrou is met ’n vryskutinkomste wat met tye meer seldsaam is as ’n reënbui in die Wes-Kaap?
Jy pak kaste reg! Of, eintlik voer jy ’n strategiese skattejag uit in die hoop om op enigiets bruikbaars af te kom wat jy vir kontant kan ruil.
Maar, laat ek begin by die begin van die week.
Na ’n Moedersdag wat net so kort duskant doller as kopaf gaan draai het by Ongevalle met ’n kind wat haar kop oopgeval het, onthou ek Maandag ewe skielik weer dat dié einste kind se pa oor minder as ’n week verjaar.
En, ek en ons kroos het nog nie eers ’n halwe gedagte wat ons as presente wil koop en hoe ons die oukêrel kan bederf nie.
Ek het gewapen met my klererekeningkaarte die mall van hoek tot kant deurgedraf en omdat ek self nie eintlik ’n voorstander is van “sakdoeke en sokkies” in geskenksakkies nie, het ek half moedeloos teruggekeer huis toe.
Intussen het ’n ander plan in my kop gevorm: Ons het só lanklaas met vriende gekuier… So, wat van ’n verrassingspartytjie?
Die praktiese ventjie op my een skouer het egter gefluister: Jy het reeds nie geld vir ’n present nie, hoe op aarde wil jy nog eet- en drinkgoed bekostig?
Op die ander skouer: Al partytjies waarop ons deesdae kom, is kinderpartytjies. So, dit is sowaar hoogtyd vir ’n grootmenskuier…!
Ek bel ’n bekende wat ’n gewilde restaurant op die dorp het. Verduidelik my penarie en vra of dit geweldig en vreeslik onbeskof en onverskoonbaar sal wees van my om ’n tafel te bespreek vir ’n paar vriende en dan te verwag dat hulle ’n paar pizzas sal moet deel?
Nee wat, seg hy. Mense doen dit gereeld.
Verlig dat ek nie die groeiende lysie gaste op ’n driegangmaaltyd sal moet trakteer nie, hoop ek heimlik die man dink nie ek is ’n cheapskate toe ek nog vra oor kurkfooi ook nie.
Want, sien, as ek dalk ’n paar bottels wyn op my Woolworthsrekening kan koop en net in die restaurant kan laat ontkurk, kan dit my ook ’n paar sente spaar (of ten minste die drinkgoed maandeliks laat afbetaal).
Aangevuur deur vriende wat via selfoonboodskappe laat weet dat hulle solank Vrydagaand oophou vir die beplande verrassingskuier, nooi ek sommer nog ’n paar.
Dis nie net brandewyn wat nie brieke het nie – ’n huisvrou met ’n kop vol planne se handrem is toetentaal gebreek.
Met die twee fluisterende knape weerskante op my skouers, het ek dus die kaste in die gastekamer begin fynkam vir nuttige items wat dalk en hopelik hulle gewig in goud werd sal wees.
Ons mikrogolfoond wat in ’n steeds werkende toestand plek gemaak het vir ’n mikrogolfoond wat ons geëerf het, is ’n moontlikheid.
Selfoonfoto. Wag, delete foto. Eerder een sonder die flash neem – dalk lyk die mikrogolf nuwer. Wie het gesê filters is net op menseselfies van toepassing?
Volgende is ’n suedetipe baadjie van die jare voor kinders my uit my mediumgrootte klere laat groei het. Selfoonfoto.
Ah! My krukke van twee jaar gelede se gebreekte voet. Die lopery met krukke daardie Kersfees was so ’n seer en ongemaklike gedoente, die krukke is feitlik ongebruik. Ek huiwer egter ’n oomblik want toe ek verlede jaar die krukke op ons dorp se koop-en-verkoop-blad adverteer het, was ’n gebreekte kleintoontjie minder as ’n week later my voorland. Mens tart nie die noodlot nie, maar, hei, geld is geld.
Google hoeveel ’n nuwe stel krukke kos. Laai die foto en ’n bedrag vir ’n derde van die prys van ’n nuwe stel op die koop-en-verkoop-blad.
Nou moet ek net wag.
En ek wag toe.
En ek wag toe nog ure.
Groot was my blydskap toe daar sowat agt ure later ’n boodskap van iemand wat ek ken kom wat dalk belangstel in die mikrogolfoond. Maar, sy sal weer laat weet. So, ek wag steeds.
Nog ’n paar ure later kry ek ’n boodskap van iemand wie se kind die krukke sal kan gebruik na ’n operasie. Die volgende oggend is daardie transaksie beklink en ek moes net pasop om nie nog ’n toon te breek in my huppelende blydskap nie.
Die verrassingsfonds was al sowat drie pizzas sterk. Ons maak vordering.
Die foon lui en ’n vriendin wil hê ek moet haar binnekort ontmoet om weer te gesels oor die bemarking van haar gastehuise. Ons raak aan die gesels en ek vertel van my knoeiplanne om die verjaardagkêrel te verras. Sy spot en sê sy sal vir my van hulle landgoed se wyne bring as ek haar afslag gee op die skryfwerk.
Ek en my reeds oorgewig Woolieskaart slaak verlig ’n sug. Viva, die dopstelsel. Ek wonder hoe “werk vir wyn” op my C.V. sal lyk.
Terwyl ek steeds wag dat die foon moontlik weer piep met iemand wat die baadjie of mikrogolf wil ruil vir kontant, bespied ek steeds in elke vertrek wat daar moontlik te verkope is.
Na ’n kaalvoetontmoeting met ’n verdwaalde Lego-blokkie, wonder ek hoeveel terapie dit in die toekoms sal verg vir die 10-jarige se trauma sou sy wrede ma sommer die hele krat vol Lego’s verkwansel.
Sy agtjarige sussie het ook nou al aangebied om by die mall se ingang te gaan staan en sing vir ’n geldjie as ek net sal ophou na haar poppe kyk só asof ek pryse op hulle koppe plak.
Arme kinders, dink ek. Maar, hei. Dis vir ’n goeie doel.
Met nog net 24 uur oor voor die verjaardagverrassing, kon ek darem nog ’n paar sent uit my uitasem kredietkaart wurg en aangesien niemand (oud, maar veral jonk) nog tot dusver uitgepraat het (waarvan ek weet nie) en ek betyds die WhatsApp-uitnodiging kon onderskep voor ek dit ingedagte aan my man ook stuur, is alles gereël vir die groot verrassing.
Dit is táf op ’n konkelende, bankrot huisvrou se reeds oorwerkte breinselle om ’n verrassing te reël en dit dan boonop ook ’n verrassing te hóú …