kategorieë: Lees

’n Hoekie van Zambië

’n Hoekie van Zambië

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Mbala is ’n klein dorpie in die noorde van Zambië, net 33 kilometer van die Tanzaniese grens af. Dit is ’n tydelike verblyf, maar het ’n permanente plekkie in my hart gekry. My man se projek om toesig te hou oor die opgradering van die hawe op die suidpunt van die Tanganjikameer is lankal verby, maar die dorpie en sy mense spook steeds by my. Die rooibaksteengeboue met hul gewels uit die tyd van die Britse kolonialisme is opvallend verwaarloos. Ek steek my arm deur die krake in die klipmure van die eens bekoorlike kerk en loer deur ruitlose vensters na die donker, verrote houtbanke. Die dorpie was in die sestigerjare van die vorige eeu die middelpunt van ’n reuseprojek om die rooisprinkaan te beheer. ’n Massiewe kantoorkompleks met sierlike gewels en skuifraamvensters is vir die doel gebou. Vandag is dit ’n plakkersgemors met stinkende rioolafval en krioelende kinders wat mielies op oop vure braai. Die menslike pogings om die sprinkaanplaag te beheer was toe nodeloos, want, so vertel hulle, ’n groot vloed het die natuurlike broeiplek van die sprinkane uitgewis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die probleem was eensklaps opgelos en van al die wetenskaplike en humanitêre pogings het weinig oorgebly – net vervalle geboue, strate vol slaggate en troppe aggressiewe, honger honde. My stappery soggens word my verbindingsaar met die mense van die dorp. Ek pas my roete gereeld aan om die honger hondetroppe te vermy, maar die staptogte neem my verby die goed georganiseerde dorpsmark, die polisiekantoor waar die erf en sypaadjie vol mielies geplant is tot by Chilameer, die meertjie aan die kant van die dorp. Die stewige geboue wat hier staan, is oorblyfsels van ’n eertydse gholf- en seiljagklub. ’n Paar vasbyters speel steeds gholf, hoewel die gras ’n meter hoog op die gholfbaan staan. Maar die kroeg floreer. By die brug ’n paar honderd meter buite die dorp draai ek om veiligheidsredes om.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek wil so graag met die mense gesels, hulle leer ken, maar Bemba en Lungu, die streektale, is bo my vuurmaakplek. Buitendien skree die kindertjies “Mzunga, Mzunga!” as hulle die wit vrou sien en klou vreesbevange aan die ma’s se chitengas vas. Ek glimlag vriendelik op die algemene groet van “How are you?” en al stappende verken ek die dorp en kry terselfdertyd my daaglikse oefening in by gebrek aan ’n gimnasium. Gimnasium? Drie eetserviese? Sjerrieglase? My lewe in die pragtige Stellenbosch lyk skielik so effens onsinnig hier waar die son genadeloos op die mielielande neerbrand, mense by die dosyne sterf en ander onverstoord voortgaan in dié amper vergete hoekie van Afrika. Daagliks besef ek dat ek en die dorpenaars vastelande van mekaar verwyder is, selfs al deel ons tydelik dieselfde ruimte. Dit is juis my stappery wat my tot dié gevolgtrekking laat kom. Stap vir oefening? Stap vir die vreugde van ’n vroegoggend? Stap sonder ’n bestemming of einddoel? Dit gaan die praktiese Zambiërs se verstand te bowe. Enkele inwoners het ’n beperkte Engelse woordeskat en huiwer nie om hul verbasing en verwarring te verwoord nie: “Where you going?” As jy stap, moet jy tog vanselfsprekend iewers heen gaan. Waarom stap jy dan? Hoe verduidelik ek dat ek nie juis iewers heen op pad is nie, maar tog oral heen? Hoe druk ek my verwondering uit oor die dorpsmark met sy afdelings vir varsprodukte, klere en vis? In elk van die tientalle eenderse stalletjies staan netjiese piramides tamaties, en aartappels; daarnaas die stalletjies met tweedehandse klere, wat spotgoedkoop, steeds bo die vermoë van die gemiddelde inwoner is. Skynbaar kom die groot voorraad tweedehandse klere – waarin flink handel gedryf word – van goedgelowige Europeërs en Amerikaners wat hul ou klere vir liefdadigheid skenk. Ek het ’n geel syhemp, ’n staatmaker, daar vir die ekwivalent van twee rand gekoop. En dan die hoogtepunt van die Afrikamark: die vismark. Soms is daar vars vis, maar meestal word gedroogde vis in elke vorm en geur hier aangebied.

Die lang gebou met betontafels teen die mure en in die middel af het gelukkig oop luike onder die dak vir ’n broodnodige trek. Massas vis word op die betontafels uitgepak en dit gons van mense en vlieë. Die vismark laat my aan die lewe in ’n oerwoud dink. Daar is ’n lewe op die bosvloer en ’n heel ander ekologie in die boomtoppe. Hier word handel gedryf op die betontafels, maar so tien sentimeter hoër is ’n heel ander lewe: miljoene vlieë wat gons en maal. Ons sluit by die Zambian Reformed Church aan wat besig is om kerk te bou: rou kleistene, geen vensters, vloer of plafon nie. Ons sit op planke gestut op klippe. As ’n swaar mamma in die twee tot drie uur lange diens op een punt opstaan, val diegene op die ander punt bloot af. Die mans sit regs in ’n blok, vroue links en die kinders in die middel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ons word genooi om by die ouderlinge te sit, maar omdat ek ontuis voel tussen die mans, maak ons ons in die kinderblok tuis. Ná ’n paar Sondae aanvaar die gemeente die aardigheid dat man en vrou tussen die kinders bymekaar sit. In die reëntyd skuil man, vrou en kind kort-kort in die hoek by die preekstoel teen die strome water. Eers as die storm verby is en die oorverdowende aanslag op die sinkdak afneem, kan ons weer die predikant hoor. Ek is Sondag na Sondag vreeslik ontsteld: dogtertjies sonder broekies, ’n voorskoolse kind met ’n skooljurk vir 12 tot 14- jariges, ’n ander met ’n volwassene se gesmokte nylonnagrok. Op ’n dag pak ons die moordende donga-en-slaggat-pad van twee honderd kilometer na die naaste dorp, Kasama, aan en koop meters en meters materiaal.

Die plaaslike sendeling se vrou leen vir my haar naaimasjien en ek maak tientalle rokkies en broekies. Ek spesifiseer keer op keer: die een met die nagrok moet ’n rokkie kry, maar die volgende Sondag is die nagrok weer in die kinderblok. Ná die derde Sondag verstaan mevrou Banda uiteindelik my ontsteltenis en verduidelik. Daar is ’n hele klomp dogtertjies in die gesin en net een geskikte (nag)rok vir kerk. As een dus ’n rokkie kry, kan daar die volgende Sondag nog ’n dogtertjie kerk toe kom – in die nagrok! Ek onthou toe die groepie kerkvroue in my kombuis met die sementvloer en sonder ingeboude kaste vir die gemeentelede koekies gebak het. Die telefoon lui en by my terugkoms kry ek ’n luidrugtige groepie in my spens. Eers dink ek daar moet ’n kobra opgekrul wees in ’n hoek, so kwetter dit. Maar hulle is verstom oor die hoeveelheid kos daar bymekaar. Ek is op my beurt verslae oor hul verwondering. Ek het net die vorige aand gedink ons sal die dongas en slaggate moet aanpak na die naaste winkel. My spens is dan dolleeg. Ek leer in Mbala dat jy oor taal-, kultuur en opvoedingsvlakke heen kan kommunikeer. Ek gee bekers rooibostee as die begrafnisstoet onder die bome voor my huis rus voordat die lyk weer opgeneem word, soms in ’n kis, maar meestal in ou chitengas toegedraai. Ek sien opregte dankbaarheid op vermoeide gesigte, kry ’n hand vol appelliefies present. Ons verstaan mekaar nie, maar ’n beker rooibostee en ’n hand vol appelliefies praat ’n universele taal, ’n taal van omgee. Miskien was die grootste les daar op die noordgrens van Zambië, om deur ander se oë na jouself te kyk, om ander weer raak te sien, om weer te leer omgee.

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson
Tags: Verhaal

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

2 days Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

3 days Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

3 days Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

3 days Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

3 days Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.