Hoekom sit daardie kinders pouses so eenkant?” wou Topaz tien jaar gelede by ’n skool in Soweto weet. “Hulle het nie kosblikke nie en wil nie kyk hoe die ander kinders eet nie,” het die antwoord gekom. Dié antwoord het dié beeldskone top- Suid-Afrikaanse model, wat deesdae in New York woon, geïnspireer om in 2005 The Lunchbox Fund te stig.
“Daardie antwoord het my destyds soos ’n ton stene getref. Daar is elke dag miljoene kinders wat sonder kos skool toe gaan. My eerste gedagte was: Dis waansinnig. Ons moet daardie kinders kos gee!”
Sy wou aanvanklik elke honger kind in die land begin voer, maar gesonde verstand en goeie beplanning het geseëvier: Sy het met die honderd armste kinders in daardie skool begin en vir haarself mikpunte gestel. En hulle bereik. Vandag verskaf die Lunchbox Fund 2,6 miljoen voedsame maaltye per jaar aan kinders in Suid-Afrika. Daar is al sowat 13 000 kinders in 135 skole landwyd, veral in afgeleë landelike gebiede, wat elke dag ’n bord kos kry, maar Topaz het reeds haar volgende teiken gestel: ’n daaglikse, gebalanseerde en gefortifiseerde maaltyd vir 50 000 kinders.
Dis ’n reuse uitdaging as jy na die syfers kyk: 12 miljoen kinders in Suid-Afrika leef onder die armoedsgrens. Die regering kan deur die Nasionale Skoolvoedingsprogram sowat agt miljoen van hulle kos gee. Dit beteken daar is daagliks vier miljoen honger kinders by skole. En dit is dié gaping wat die Lunchbox Fund probeer oorbrug.
Die kos by skole het ook ’n byvoordeel wat deurslaggewend is: Desperate ouers wat nie hul kinders kan voed nie, maak seker die kinders gaan skool toe sodat hulle minstens een ordentlike ete per dag kan kry. En dit beteken die kinders het ’n beter kans om hul skoolopleiding te voltooi.
“’n Leë maag het nie ore nie. Honger kinders kan nie leer nie.”
Topaz se passie is tasbaar wanneer sy oor hierdie projek praat. Maar hoe het ’n mooi model van Suid-Afrika daarin geslaag om so ’n liefdadigheidsorganisasie op die been te bring en te laat groei? Op die koop toe met groot name in Hollywood en die vermaaklikheidsbedryf, soos Salman Rushdie, Joaquin Phoenix, Hugh Masekela en Francois Pienaar op haar adviesraad en onder die beskermheerskap van emeritus aartsbiskop Desmond Tutu.
Beroemdes soos Maggie Gyllenhaal, Liv Tyler, Naomi Campbell, Olivia Wilde, Sting en Beyoncé is ook aktief by die jaarlike geldinsamelingsgala in New York betrokke.“Dit help as julle in dieselfde buurt in New York woon en gereeld in koffiewinkels in mense vasloop,” praat sy die feit weg dat sy gereeld saam met beroemdes en bekendes kuier.
“En ek aanvaar nie ‘nee’ as ’n antwoord nie,” sê sy laggend. ’n Bietjie Google-speurwerk vertel meer: Phoenix is ’n gewese kêrel, so ook Rushdie. Dus: Eintlik is Topaz ’n teësinnige celeb wat haar lewenspassie gevind het in die werk wat sy hier in Suid-Afrika doen en waarin sy haar met hart en siel stort.
Hoe kry sy die geld vir haar organisasie? Dié kry immers geen bydrae van die Suid-Afrikaanse regering nie? Met toegewyde geldinsameling en volgehoue harde werk, vertel sy. En met tegnologie ook. “Ons is ’n baie klein span met streng dissipline en ’n kultuur van aanspreeklikheid. Geen geld word op onnodighede gemors nie – dit kom by die mense uit wat dit moet kry. Ons samel die meeste van die geld in Amerika in. Wanneer ek verduidelik wat die vlak van armoede in townships, informele nedersettings en plakkerskampe is, gaan Amerikaners se hande en harte oop.”
En eintlik vra sy nie veel nie: Dit kos slegs R2,50 per dag om een kind kos te gee met die kospakkies wat vroue in die gemeenskap by die skole voorberei. Of dink so daaraan: Jóú skenking van R500 kan een kind ’n jaar lank kos gee …
Wat is in die kosblik? Hoe smaak die kos wat hulle verskaf ? “Kos moet ’n vreugde wees, ’n ervaring om na uit te sien. Dit is ’n hartsding, dit gaan nie net oor eet nie. Dit moenie soos ’n rantsoen voel nie. Ons verskaf elke dag van die week ’n ander warm, gekookte maaltyd sodat daar variasie is. Ons moedig die vroue wat die kos by die skole voorberei aan om kreatief te wees wanneer hulle kook.”
Gelukkig is daar ’n wêreldwye neiging na filantropie – mense wíl gee. Dis ’n soort teenreaksie op die buitensporigheid van die hedendaagse verbruikerskultuur, asook die vermorsing en vernietiging van die aarde se hulpbronne, sê Topaz. Mense se waardes is besig om te verander.
“Dit het cool geword om te gee.”
Die beheptheid met die sosiale media werk ook in haar guns: In Amerika, en nou ook in Suid-Afrika, vorm restaurante vennootskappe met die fonds met behulp van ’n app genaamd “Feedie” wat mense op hul selfone kan laai. Die treflyn van die Feedie-app is “Take a picture and feed a child”. Almal neem mos deesdae obsessief foto’s van hul kos en van hulself in restaurante. Sit dit via Feedie op Instagram en die restaurant kry gratis blootstelling en publisiteit. Vir dié voorreg betaal restaurante ledegeld van sowat 500 dollar (sowat R7 000 ) per jaar aan die fonds, en volgens Topaz is Amerikaanse restaurante dol daarop.
In Suid-Afrika is verskeie restaurante ook reeds aan boord. “Kos en kookkuns is deesdae die in-ding. Ek beskou die Feedie–veldtog as die filantropie van kos.”
Maar wat van “donor fatigue”? Is mense nie deesdae baie skepties en sinies oor liefdadigheidsorganisasies wat hul sakke vol stop en niks doen vir die mense wat hulle voorgee om te help nie? Topaz se groen oë blits sommer briesend:
“Ons is ’n lean and mean fighting machine en ons gaan nie jou geld mors nie! Ons kan presies wys waarheen die geld gaan. Ons trustees betaal ons koste, soos salarisse. Al die geld wat geskenk word, gaan vir die lewering van kos vir die kinders. Doen gewoon jou huiswerk as jy liefdadigheid wil ondersteun – moenie ’n verskoning soek om nie te gee of te help nie! As jy net die slegste wil glo, is dit bloot omdat jy nie wíl gee nie.”
Hulle besef maar te goed dat die publiek ’n weerstand kan opbou teen liefdadigheid wat as ’n fasade vir gierigheid en skelmstreke kan dien en daarom is verantwoordbaarheid die basis waarop hulle bou. “Ons praat elke enkele dag daaroor en trek dit deur na elke aspek van ons werk – van produksie, aflewering, seleksie en monitering van die kospakke; elke enkele punt en stap van die proses het ’n stel reëls waarby ons onwrikbaar hou.”
Ofskoon sy in New York woon en van waar sy onvermoeid werk om geld in te samel, is haar hart in Suid-Afrika en sy is baie gereeld hier. Haar klein span in Suid-Afrika deel haar passie en sin vir verantwoordbaarheid. “Hulle is toegewyde, lojale en passievolle mense en leef, eet en adem die fonds net soveel soos ek. Hulle is in hierdie saak om die regte redes.
“Ek is gedrewe om meer te doen.”
Sy glo die wesenlike karaktereienskappe wat haar dryf, is waagmoed, durf, dapperheid, sterkte en ’n diep sin vir jou bestemming op aarde. “Die wêreld kan oorweldigend wees as jy nie weet waarvoor jy hier is en wat jy moet doen nie. Vir my was daardie dag in die Soweto-skool die weerligstraal-oomblik wat my laat besef het ek kan ’n verskil maak, al is dit ook net een mondvol op ’n slag. Ek wil nooit stop nie. Dit is wat my soggens laat opstaan, wat my bedags dryf en wat my snags wakker hou.”
“Dit laat elke sel in my liggaam tintel en lewe – dit voel asof dit ’n lig in my aanskakel, dit maak my gelukkig en stralend en laat my vibreer van lewenslus en lewensvreugde. En dit is wat die wêreld nou nodig het, pleks van apatie en die soeke na iets wat jou miserabel en onbeduidend sal laat voel.”
Vir meer inligting besoek gerus die Lunchbox Fund-webtuiste