Ek is ‘n verslaafde. Daar, ek het dit gesê. Ek is ook nie van plan om enige aksie te neem nie, daarvoor geniet ek my verslawing te veel. Jy sien, daar is niks so hemels soos die reuk van ‘n nuwe boek as jy hom vir die eerste maal oopbuig nie. Daar is niks so bevrydend soos om weggevoer te raak in ‘n parallelle wêreld waar jy duisende lewens op een slag kan leef nie.
Ek lees dikwels fiksie en jy moet ook. Maar voordat ek gestenig word deur al wat ‘n akademikus is, laat my verduidelik hoekom.
Fiksie is die sterkste van alle leesverslawings: stories boei jou om verder te lees, om spanningsvol die bladsye om te draai, tot op die laaste bladsy. En in hierdie proses leer jy verskillende dinge: beter taalgebruik, empatie vir die slagoffers (ons wêreld kan doen met meer empatie) en dat lees eintlik lekker is. Fiksie bied jou ontvlugting van jou gejaagde wêreld en voed jou emosioneel.
En kom ons wees eerlik, daar is nie werklik goeie en slegte stories nie. Dis snert. ‘n Storie kry lewe in ons verbeelding, dus sal geen twee mense een storie dieselfde ervaar nie. En dit is die lekker daarvan- dit word jou storie, jou unieke reis van ontvlugting.
Ek is seker daarvan dat ons tronke minder vol sou wees as meer kinders lief was vir lees. Hoekom sal jy op 13 deel van ‘n bende wil wees, of hawelose mense vermoor, as jy op jou bed kan lê en lees? Dit maak net geen sin nie.
Lees kos ook nie ‘n fortuin nie. Nie soos DSTV nie. Plaaslike biblioteke het meestal ‘n fantastiese verskeidenheid boeke wat jy gratis kan uitneem. En oor die algemeen is die biblioteektannies heel vriendelik (solank jy net jou boeke betyds terugbring).
Met die feesseisoen wat al nader kruip, is dit nou die ideale tyd om weer te begin lees. Dit is immers minder traumaties om swaardgevegte met seerowers te hê as om Kersinkopies in Menlyn te doen.