Ná ’n nag waarin ek lepellê met ’n ou handdoek wat gaandeweg natter word van waterige bloed, is ek haastig om by James se spreekkamer uit te kom. Maar eers is daar die kwessie van wat ek gaan aantrek. Mens wil darem stigtelik en ordentlik by jou dokter uitkom. Old school, ek weet. Ek het nou al afstand gedoen van die wintie idee dat ek koel, kalm en in beheer gaan voorkom gedurende hierdie ervaring. Daar is soveel meer as wat ek gedink het aan dié ding van ’n nuwe boobie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Daar is ’n paar goed wat in ag geneem moet word, besef ek gou. Die eerste is Tweedledum en (die waarskynlik oorlede) Tweedledee. Hulle werk heel goed saam met slaapklere, maar dié is buite die kwessie so in die openbaar, maak nie saak wat Jaun sê nie. Dan is daar die probleem van die asimmetriese borskas. ’n Bra, dus. Verkieslik maar my getroue ou swart mastektomie bra, maar ek sal op my tande moet byt. Die wonde op my bors, my rug en onder my arm is vrek seer.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Jaun help my om my hare oor die bad te was, maar dis so seer as ek vooroor buig dat ons die storie staak voor my hare behoorlik afgespoel is. Die gevolg is dus hare soos stokkies – elkeen wat vol statiese elektrisiteit in sy eie windrigting staan. Jaun raas met my en vertel my niemand gee om hoe ek lyk nie. Ek weet, maar tog … Ek verlaat nooit die huis sonder grimering nie, maar op hierdie dag wil nie eens die grimering saamwerk nie. Alles is af gesweet van inspanning teen die tyd wat ek die kar bereik. Die rit hospitaal toe help ook nie. Elke hobbeltjie in die pad laat vars sweet oral oor my lyf uitslaan. Hierdie ding is beslis nie vir sissies nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }James hou nog langnaweek, maar die suster by sy praktyk is beskikbaar. Terwyl ek sit en wag, beskou ek die tweeling op die grond langs my. Tweedledum het net so oor die tweehonderd milliliter bloed opgesuig. Tweedledee is leeg. Ek is nou nie ’n medikus nie, maar ek sweer ek gaan vandag vir Tweedledee groet.
Dit is toe ook so. Hy hang aan ’n lelletjie, sê die suster en woeps, uit is Tweedledee. “Dokter gaan nie baie beïndruk wees nie,” waarsku sy my. Asof ek nie genoeg het om oor te worry nie. Tweedledum kan ook nie inbly nie, word daar vir my gesê. Die moontlikheid van infeksie is net te groot. Voordat ek nog oor die suster se woorde kan nadink, voel ek hoe die dik pyp sonder seremonie uit my borskas getrek word. Schloep. Eina, man. Jissie. Die pleisters op my bors word afgetrek.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
My volgende afspraak by James sal die Woensdag wees. Ek gaan raas kry, so ek sien nie juis daarna uit nie. Ek weeklaag by Jaun oor dit alles. En sommer ook oor my lang beenhare en die naellak op my tone wat afskilfer. Ek kan nie vooroor buig om iets daaromtrent te doen nie, so ek voel harig en onversorg.
Vyf minute later sit ek soos die koningin van Skeba op die sagte sitkamerbank met my voete in ’n skotteltjie terwyl Jaun suid van my doenig is met sy skeerroom en my skeermes. Dis net beenhare wat waai. My man werk met groot konsentrasie en toe hy klaar is, is my bene gladder as wat dit ooit is wanneer ek dit in die stort skeer. My hart voel soos marshmallow. Toe gaan haal hy die nael-goeters uit die slaapkamer en help my om ’n skakering te kies. Hy konsentreer só om nét my toonnaels te verf dat hy nie eens agterkom dat ek ’n foto van hom neem en vir ons familiegroepie stuur nie. Al die vroue op die groepie is dit eens: hulle wil vir Jaun dood druk.
My wonde moet twee maal per dag skoongemaak word en Jaun is die nurse wat dit sal moet doen. Daardie aand, voor ek op die bed gaan lê vir die skoonmakery, kyk ek na my nuwe bors in die lang spieël. Al het ek dit verwag, is dit wat ek sien vir my verskriklik. Die groot, elliptiese stuk vel wat uit my rug verwyder is, is ’n ander kleur as die omringende vel, die letsels donker en lelik. Frankensister.
Voordat ek my slaapbaadjie vir my man oopknoop, waarsku ek hom oor die lelik. Ek wil nie hê hy moet ’n model se bors verwag en dít sien nie. Hy vee my hande weg.
Sy oë versag toe hy na my bors kyk. “Dis ongelóóflik wat hierdie mense kan doen, is dit nie?” vra hy en hy neem die gaas en die bottel soutwater op.
Sy glimlag spreek van tevredenheid en liefde.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.