Dis nog donker toe ons op die bus klim. Ek kyk vinnig op my slimfoon wat die weervoorspelling vir die dag inhou. Digte mis en reën, gevolg deur ’n groot, geel uitroepteken! Kan die ongeluk mens nou so tref? Die enigste dag wat ons het om die poskaart-mooi Geelberge in China te besoek en nul persent kans vir ’n uitsig. Wel, ons is nou reeds hier. Kom ons geniet dit in elk geval.
Daar aangekom, verstaan ek waarom mense ons daarteen gewaarsku het om hierdie tyd van die jaar te kom. Dis langnaweek, vakansietyd en die besigste toeristetyd van die jaar. Tog glo mens dit nie tot jy dit met jou eie oë sien nie.
Ons het voorspel dat dit gaan besig wees, maar só ’n skare het ons nie sien kom nie! Die aanvanklike idee was om met die kabelkarretjie op te gaan, en terug te stap. Maar die idee om drie ure in ’n ry te wag, staan ons glad nie aan nie. So ons besluit om op te stap.
Die voetpaadjie is gepak met mense, maar daar is verskeie paadjies en uitsigpunte om van te kies, en stelselmatig raak dit stiller soos wat almal hul eie roetes volg.
Na ’n paar vaste weke in die stad is dit heerlik om in die natuur te wees. Hier en daar waai die wind die mis stilletjies weg en klein boompies op berghange maak stadig maar seker hul verskyning. ’n Prentjie so reg uit ’n Asië-poskaart.
Ons stop twee keer by uitsigpunte, maar die sigbaarheid bly maar sleg. Die wolke bly ’n gordyn – toegetrek voor ’n wonderbaarlike uitsig wat só naby maar onbereikbaar is.
En toe gebeur daar ’n wonderwerk – by die laaste uitkykpunt. ’n Lekker sterk wind steek op en trek die digte gordyn reg voor ons oop: berge wat volg op berge en nog berge! Oneindige spitskoppies wat styf teen mekaar lê. Geen wonder Avatar is hier geskiet nie. Dis beautiful! Ek pluk gou my kamera uit en vang die prentjie vas voor hy weer verdwyn. Die paar minute met hierdie wonderbaarlike uitsig is een van daardie oomblikke waar niks anders saak maak nie. Dit hou nie lank nie, maar dit is so asem-snak mooi dat mens vir ’n klein rukkie heeltemal van al die mense om jou vergeet en dit wat jy voor jou sien geweldig waardeer.
Teen die tyd dat ons die kabelkarretjie terugneem (die ry darem toe heelwat korter) is die rit gevul met pragtige misterieuse uitsigte. Terugkom gaan ek terugkom, dis vir seker. Vandag was die voorprent – maar ek smag na ’n dag vol van daardie paar minute op die berg wat ek nie sommer gou sal vergeet nie.