Dit is -6°C buite. Die bergtoppe in die verte, skraal bome en houthuisies lê weggesteek onder ’n spierwit sneeukombers. Ek het grootgeword in sonnige Durban, en as ’n volwassene vir die eerste keer sneeu ervaar. Dit bly vir my betowerend om te sien hoe die die vlokkies sonder waarskuwing hul verskyning maak, en eers speel-speel in die lug wals voor hulle veertjielig op my jas kom lê.
Vir my is die sneeu verfrissend, ek sien dit nie gereeld nie. Maar op hierdie spesifieke plek woon daar ’n spesie wat jaar in en jaar uit die lang, ysige winters moet deurstaan. Die Japanse sneeu-apies.
Uniek aangepas tot hul weersomstandighede, is hierdie spesie die mees noordelik-woonagtige ape in die wêreld. ’n Kort vlug en drie treinritte later is ek is hier in Nagano, Japan, om hulle te bewonder.
Die stap na die apies is ’n onvergeetlike ervaring. Dis nie net die sneeu nie, maar alles wat daarmee gepaard gaan wat dit so ‘n besonderse avontuur maak. Die koue het eers binne-in my stapskoene geklouter, en later deur my snoesige wolkouse geklim. My vingerpunte is ysblokkies, my hele lyf styfgespan en saamgetrek in ’n poging om hitte te probeer behou. Hoe dieper ek die berge in stap, hoe digter raak die sneeu en hoe meer indrukwekkend raak die uitsigte.
Oor ’n houtbruggie, en nog ’n kronkelpaadjie, en dan is ek daar. Voor my is ’n prentjie identies aan ’n foto wat ek drie jaar gelede in ’n koffietafelboek gesien het. Daardie einste foto was die hoofbron van inspirasie vir my besoek aan Japan.
Dis ’n toneel uit ’n David Attenborough-natuurreeks. Iets so wonderbaarlik dat ek vir ’n oomblik geheel en al van my vriesende tone vergeet. Hierdie gedeelte van Japan is bekend vir sy natuurlike warmwaterbronne (onsens), en die apies het ’n manier gevind om die koue winters meer aangenaam te maak.
Rooigesig apies – grotes en kleintjies – sit in ’n stomende waterpoel in die middel van die berge omring deur ’n spierwit landskap, en ontspan asof dit hul laaste dag op aarde is!
Dit lyk soos Spa Land* vir ape. Dis kostelik! Die manier hoe hulle heel nonchalant so sit en ontspan, uitklim, en dan weer kom sit. Geen teken van ’n greintjie bekommernis in die wêreld nie.
Ek hou ’n groterige een dop. Luilekker leun hy agteroor teen die klippe, en soos Oupa op sy stoel, begin sy kop stadig maar seker sak. Net daar verslap hy in ’n rustige middagslapie! Van die ander is meer produktief en is druk besig om mekaar te versorg en liefkoos, bosluise te verwyder en mekaar se hare te streel.
Van die kleintjies het drie-drie, vier-vier in groepies saamgebondel, en sit soos ingerygde sardientjies styf teen mekaar op die klippe. Moederliefde, maar dis oulik!
Hoe slim is hulle nie, sit ek en dink. In hierdie yskoue weer (dit kan tot -14°C word) het die apies ’n manier gevind om dit vir hulself aangenaam te maak. Net soos mense, het hulle ook ekstra hitte, liefde en prettige aktiwiteite nodig om die lang, koue winters te deurstaan. Al wat in hierdie prentjie kort, is ’n beker warm sjokolade.
*Spa Land is een van die grootste spa’s in Suid-Korea. Dit is geleë in Centum City, Busan, en ’n populêre bymekaarkomplek vir Koreane gedurende die koue wintermaande.