Die seile van die restaurant waar ek Johan Malan* ontmoet, flap onrustig. ’n Behoorlike donderstorm dreig. Daar is ’n tasbare afwagting, ’n broeiende energie in die lug. Dit is asof die elemente die gemoedstemming eggo van die man wat oorkant my sit. Ons bestel iets om te drink. Toe die kelner buite hoorafstand verdwyn, leun Johan vorentoe. Vir ’n hele ruk sit hy net só. Geboë, elmboë op sy knieë en hande saamgevou. Toe hy begin praat, is sy stem aanvanklik skor. ”Asseblief, ek wil nie hê mense moet weet wie ek is nie,” pleit hy vir die soveelste keer ondanks my belofte om sy storie anoniem te vertel. Sy moed het hom drie keer begewe voordat hy uiteindelik volstaan het daarby om dié onderhoud te doen.
Johan bly senuagtig rondkyk en sy oë soek deur die strepe mense wat verbystroom. Ons ontmoet mekaar juis by ’n kuierplek ver van sy woonplek af. Vir my is dit ook vreemde waters – soos die meeste mense is ek meer vertroud met vroue wat deur hul mans aangerand word. Johan ontspan effens toe ons bestelling kom. Toe begin hy sy verhaal vertel. “Evette* was die mooiste girl wat ooit met my uitgegaan het,” onthou hy hul universiteitsdae. “Sy was vol energie en uitgesproke, en ek was mal daaroor!” Hulle is vier maande later getroud. Evette was swanger. “Soos jy kan dink, was ons ouers nie gelukkig nie, maar ons was verlief.” Hy drink ingedagte uit die glas voor hom. “’n Regte shotgun wedding, as jy daardie term wil gebruik – in meer as een opsig.” Hy sug diep. “Ek dink die laaste tyd baie oor hoe vreesloos jy is as jy jonk is. Ek meen, daar was ons aan die vooraand van ’n nuwe lewe met ’n bába aan die kom en ek het gedink alles gaan wonderlik uitwerk, vir ewig en altyd.” Hy wil glimlag, maar toe val sy gesig en hy fluister meer vir homself as vir my: “Ons was so bleddie stupid.” Hy vryf oor sy kop met die netjiese geskeerde hare.
Johan en Evette se wittebroodfase het nie die einde van die swangerskap gehaal nie. “Die krake het binne die eerste ses weke begin wys. Ons kon net ’n klein woonstelletjie bekostig. Aanvanklik het sy net goed rondgegooi. Weliswaar gemik in my rigting, maar nie fisieke kontak nie.” Hy maak ’n geluid deur sy neus. “Ons hét net drie borde gehad en hulle is almal in een aand gebreek,” vertel hy in ’n poging tot humor. “Hoe langer ons saam was, hoe duideliker het dit geword dat sy haar nie in toom kon hou nie. Dit was asof sy twee verskillende mense was. Sy het ’n algehele transformasie ondergaan – tot haar gesig het anders gelyk. Sy was in daardie tye vir my ’n volslae vreemdeling.” Evette het altyd rede gekry om Johan die skuldige party te maak. “Sy het nie net fisiek nie, maar ook verbaal beter as ek ‘baklei’. Ek kom uit ’n baie rustige gesin waar ons nie dié soort konflik ken nie. Ek was heeltemal onbevoeg om haar te hanteer.” Een aand het sy in ’n woedebui die rusbank se kussings met ’n mes oopgekerf. “Ek was meer as geskok – ek was bekommerd.”
Hy het die volgende dag raad gevra by hul huisdokter wat hom laggend verseker het dis net Evette se geskommelde hormone – dinge sou wel rustiger word sodra die baba gebore is. Maar dit was nie die geval nie … “Die situasie het toenemend … moeiliker … geword,” struikel hy oor sy woorde. Die netjiese man lyk weerloos terwyl hy sy storie vertel. Hy sukkel. Die skaamte lê telkemale vlak in sy oë. Die fisieke aanrandings het begin kort nadat Evette uit die hospitaal ontslaan is. “Sy het wel vir ’n tydperk medisyne gedrink – die ginekoloog was bekommerd oor nageboortelike depressie. Ek was genadiglik die eerste drie maande by die huis terwyl ek my studie oor die pos voltooi het. Ek het ons babaseun alleen versorg. Evette het geen band met die baba gehad nie. Sy het hom nie gekoester of in hom belang gestel nie.” Hy skud sy kop. “Aanvanklik was dit klappe en krappe, ’n vuishou of twee, eers op die boarms, maar later in die maag en veral op meer sensitiewe plekke. Daarna die sirkel wat voltooi word met die onvermydelike verwyt en spyt. Ek was verward en het haar ginekoloog en ons huisdokter gebel. Haar gedrag was net eenvoudig nie vir my normaal nie. Hulle het my tergend verseker dat sy weldra sal kalmeer en weer haar gewone self sal word.”
Dit was juis die knipoog en grappende wyse waarop sy probleem aangehoor is wat Johan lugtig gemaak het om hulp te soek – en hom steeds baie geïsoleer laat voel. Met sy studie suksesvol agter die rug, het hy ’n gesogte aanstelling gekry by ’n firma waar ’n blink toekoms op hom gewag het – mits hy sy gewig ingooi. Al kon hulle dit nie regtig bekostig nie, het Johan ’n voltydse huishulp aangestel. “As dit nie vir die dierbare Anna Kekana was nie, weet ek nie wat van ons sou word nie. Ek kon Danie* nie bedags alleen by Evette los nie. Ek het geen vertroue in haar as ma gehad nie. Wat as sy haar woede op hom sou uithaal?” Sy werk het gou gesorg vir ’n gerieflike woonhuis.
Johan het gehoop hul verbeterde finansiële posisie sou ’n positiewe uitwerking op sy wispelturige vrou hê. Alles behalwe … Hy kyk na die donker wolke wat saamtrek en sy oë is onleesbaar. Toe rol hy in ’n dapper oomblik sy hempsmou op. Ek trek my asem diep in ten aanskoue van die veelvuldige snyplekke. “Evette is lief vir haar knipmes,” verduidelik hy bitter. “Dit is tans haar vlymskerp, nuwe tool of choice.” Skielik is dit asof die ontbloting vir hom te vinnig en te veel is. Hy trek terug in sy dop terwyl hy opsigtelik probeer om beheer oor sy gevoelens te kry. Ek bestel vir ons nog iets en praat oor die nuus van die dag. Geleidelik ontspan hy, sy gesig bleek teen die donker kringe onder sy neutbruin oë. “Ek slaap nie goed nie, want dit is wanneer Evette my gewoonlik aanrand.”
Sy vrou slaan hom meestal eers met ’n bottel of iets soortgelyks teen die kop om hom grotendeels buite aksie te stel. Dan vra sy vrae en as hy nie gou genoeg of bevredigend genoeg antwoord nie, sny sy hom met die knipmes. Voorheen het sy hom herhaaldelik met ’n sigaret gebrand en sy het hom ook al met ’n tang geknyp. “Die een keer wat ek haar fisiek probeer afweer het deur haar polse vas te gryp, het sy haar pa histeries gebel en gesê ek is hardhandig met haar.” Dit is asof die fut skielik uit hom is. “Sy is klein en fyn gebou. Niemand sal glo dat sy die een is wat my aanrand nie. Haar pa het my duidelik laat verstaan dat hy stappe sal doen as sy ooit weer by hom kla.” Hy kyk reguit in my oë. “Jy dink seker ook ek is ’n swakkeling omdat ek niks aan die situasie doen nie.” Hy lag humorloos. “Dis net Anna wat werklik weet wat aangaan. Sy woon in. Dis onmoontlik om die geskree te ignoreer, wat nog te sê van die bloed op die lakens.” Hy vertel hoeveel keer Anna hom gehelp het om die wonde te ontsmet wat hy nie kon bykom nie; hoeveel trane sy saam met hom gestort het, en hoeveel aande die kleine Danie by haar in die kamer geslaap het as dinge erg lelik geraak het. “As daar een vraag is wat jy my nié moet vra nie, is dit hoekom ek bly,” waarsku hy skielik. “Dit is die logiese vraag, maar as ek ’n antwoord gehad het, was ek nie hier nie.” Hy probeer verduidelik hoe die skok van die gebeure jou in ’n groot mate verlam. “Eers kan jy nie glo dit gebeur nie, en as jy nog die skok verwerk, gaan sy in haar dierbare fase in en voor jy jou oë uitvee, is daar ’n patroon en jy is vasgevang.”
Hy lyk moeg. Evette dreig gereeld om Danie “seer te maak” as Johan haar aan die kaak sou stel. Johan is verbitterd teenoor haar ouers oor die rol wat hulle in die verloop van dinge gespeel het. Of beter gestel, nié gespeel het nie. Die twee kere wat Johan desperaat om hulp gaan vra het, het hulle dit as onsin afgemaak. “Hulle vryf sout in my wonde. My skoonpa glo ek probeer Evette kwalik neem vir iets waaraan ek skuldig is. Hy het die vermetelheid gehad om vir my te sê: ‘Jy’s die man, Johan. Skaam jou om ’n weerlose vrou van so iets te beskuldig. Sies.’” Johan se ervaring met hulp soek, is glad nie positief nie. Noem ek die woord “berader”, reageer hy duidelik geïrriteerd. “Weet jy hoe moeilik is dit juis vir my as ’n man om vir iemand te vertel my vrou verniel my?” En toe dam die trane in sy oë op. “Hoe het ek hiér gekom?” vra hy na die tafeldoek se kant toe en snuif hard. “Daar is dae wat ek reeds aan die huil is wanneer ek wakker word. Ek haat dit om so emosioneel te wees. Ek voel permanent leeg en beangs en niks kan die gat vul nie.” Hy lig sy wenkbroue en voeg by: “Kyk, sy kan baie nice wees. Dis nie altyd sleg nie. Daar’s goeie tye ook. En daar is die sprankie hoop dat dit sal verander … ” Hy snuif weer en verskoon hom vir ’n wyle. Ek is verlig toe hy terugkom. “Dit is waar ek is.” Hy lig sy hande in ’n vat-dit-soos-dit-is gebaar. “Jy weet, almal by haar werk is mal oor haar. Niemand sal my glo nie – ék is mos die mán … ” Hy lag bitter, maar gou bly net moedeloosheid oor. “Ek kan jou dit sê: ek sal iéts moet doen.” Hy kyk ver. “Die reëls van my manlikheid is in ’n sekere mate herskryf.” “Waar begin jy? Ek het nie die emosionele energie daarvoor nie. Alles wat ek hét, gaan daarin om dinge bymekaar te hou.” Hy vryf oor sy kop – soos hy telkens maak as hy voel sy woorde is ontoereikend. Dit begin reën. Oorverdowende harde druppels wat pandemonium veroorsaak by diegene wat nie onder skuiling is nie. ’n Reddeloosheid kom lê in sy oë. “Hoe beweeg jy aan? Maak ek ’n fout deur te bly? Is my apatiese houding onverskoonbaar?” Hy skud sy kop in antwoord. “Ek het al hoeveel keer gedink ek wil net nie meer deel van dié wêreld wees nie,” sê hy so sag dat ek moet nader leun om beter te hoor. “Maar wat van my kind?” *Skuilname is gebruik
Wat sê ’n kenner
Dr. Ria van Niekerk bevestig dat baie meer mans deur hul vroue aangerand word as wat algemeen bekend is. “Dit druis in teen die tradisionele rolverdeling van die geslagte,” verduidelik sy die belangrikste rede hiervoor. Die meeste mense, en veral mans, se reaksie sou wees om te vra hoekom die man dan nie terugslaan of -baklei nie? “Die eenvoudige antwoord is dat dit nie dié man se manier is om die probleem op te los nie,” gesels sy ernstig. “Hierdie gaan oor meer as net ’n manier om konflik te hanteer – dit behels ’n algemene lewensuitkyk en persoonlikheidstipe. Baie mans is Ria verduidelik dat hierdie soort vrou geen verantwoordelikheid vir haar optrede sal aanvaar nie. “Sy is ’n uitmuntende manipuleerder. So ’n vrou sal sonder uitsondering die man kwalik neem omdat hy haar kwansuis ‘dwing’ om so op te tree deur iets waarmee hy te kort skiet,” verklaar sy. “Dit help ook nie om op eiers te loop nie. Sy sal wel rede kry om hom weer aan te rand.” Die implisiete boodskap met hierdie gedrag is dat die fout geheel en al by die man lê. “En baie mans glo dit – dit is hoekom hulle aanbly.” Tradisioneel is die man veronderstel om meer aggressief en doelgerig te wees as die vrou. Sy rol is dié van beskermer en voorsiener. In sy oë vererger hierdie situasie die skande: “In die oë van ander mans gaan hy ‘swak’ wees,” sê Ria, “en daarom bewaar hy die geheim. Hy is diep skaam.” Nuus oor Johan en klein Danie Ná afloop van dié onderhoud was Johan so verlig omdat hy vir die eerste keer die volle verhaal vertel het, dat hy hulp gaan soek het. Johan en Danie het onlangs uitgetrek en woon nou by sy ouers tot tyd en wyl die skeisaak afgehandel is. Aanvanklik het Evette gepleit dat hulle moet terugkom, maar nou dreig sy om Danie van hom af weg te neem. Johan se regspan voorsien dat hy geen probleem sal hê om volle beheer en toesig oor die seuntjie te verkry nie. |