My man het ’n ernstige siekte deur Mariette Snyman
My man het ’n ernstige siekte
Min lewensgebeure werp ’n paartjie se bestaan so dramaties omver soos die Groot K. Kanker.
Doktersbesoeke, mediese prosedures en ingrypende besluite word oornag deel van hul lewe. Die siekte het werks-, finansiële en praktiese implikasies, om nie eens van die emosionele en liggaamlike aspekte te praat nie. En oor alles hang daar ’n donker wolk van onsekerheid.
Prostaatkanker is in Januarie 2016 by *Chrisna se man, *Roux, gediagnoseer nadat sy jaarlikse ondersoek ’n vergrote prostaat en kommerwekkend hoë PSA-telling aangedui het. “Dit was graad drie kanker wat nege op die Gleason-skaal gemeet het – báie hoog.
“Die nuus het ons onkant betrap. Roux (60) was getrou met die gereelde ondersoeke, en niemand in sy familie het ooit kanker gehad nie. Wanneer ek ’n skok kry, onderdruk ek gewoonlik my gevoelens sodat ek tot aksie kan oorgaan. Aanvanklik het ek my emosies op die agtergrond geskuif sodat ek Roux kon help om syne te hanteer.
“Ons was in daardie stadium juis met vakansie by familielede – albei mediese dokters – en ons het baie oor sy diagnose gepraat. Hy het die nuus maklik met sy broer en susters gedeel, maar ons
het mooi gedink oor hoe ons dit vir ons volwasse kinders en vriende wou verwoord. Ons was nie skaam nie, maar ons wou nie onnodig drama skep of vrese opjaag nie.
“Ons het albei oor prostaatkanker begin nalees. Roux stel in die mediese wêreld belang en het gevoel hy kon ’n aktiewe rol in sy genesingsproses speel deur homself met kennis te bemagtig. Hy sou ook minder soos ’n slagoffer voel. Sommige mense dink wanneer jy bykomende inligting inwin, kan dit jou verwar, maar in ons geval het dit meestal gestrook met wat die dokters gesê het en ons vertroue in hulle versterk.
Lees ook: Twee aanvullers wat elke man moet neem
In Maart daardie jaar het Roux ’n volledige retropubiese prostatektomie ondergaan. Die spesialis het met die operasie vasgestel dat die kanker na die limfnodes in die bekken versprei het. Ons was geskok, maar die uroloog en onkoloog se woorde was dat dit ernstig was, maar geen doodsvonnis nie. Deur middel van hormoononttrekking met die hulp van medikasie wat testosteroon onderdruk, asook chemoterapie, kon hy hopelik steeds ’n normale lewensverwagting hê.
“Ná ’n hersteltydperk van ses weke is Roux terug werk toe. Die chemoterapiesessies het terselfdertyd begin. Die chemo en testosteroononderdrukking het hom soos ’n zombie laat voel. Dit het sy korttermyngeheue en konsentrasievermoë aangetas – hy was ontsettend moeg, en hy het soms by die werk op sy arms gelê en slaap.
“Gelukkig was die mense by sy werkplek tegemoetkomend – hy was reeds twee dekades daar en hulle het respek vir hom en sy werk gehad. Die situasie het nietemin sy selfbeeld geskaad. Hy het nutteloos gevoel en gereken dat sy aandeel in daardie stadium te gering was.”
In Desember 2016 het ’n volledige MRI-skandering aangedui dat Roux se liggaam ‘skoon’ is, hoewel hy nie in remissie was nie. Ná die chemoterapie het sy PSA-telling stelselmatig begin klim en in Junie 2017 het ’n skandering ’n gewas in sy prostaatbed getoon. Hy moes 28 bestralingsessies in ’n tydperk van ses weke kry.
Lees ook: 30 maklike dinge wat jy nou kan doen om jou lewe te verbeter
“Hierdie verwikkeling het ons uiteraard sleg getref, maar ons het oor bestraling begin nalees en toe die tyd kom, was ons albei redelik rustig. Die newe-effekte was, helaas, nie aangenaam nie.
“Hierna was die PSA laag genoeg om die res van die chemo-behandeling tot pilvorm te beperk. Die pille het nietemin Roux se lewensgehalte beïnvloed weens die konstante laegraadse naarheid, spierswakheid en gloede wat daarmee saamgegaan het. Die gepaardgaande medikasie het ook sy borsweefsel laat groei.
“Ons is steeds in ’n posisie waar die skanderings skoon bly, terwyl gereelde PSA-toetse toenemend op aktiewe kankerselle dui. In die stadium drink Roux steeds die chemo- en ander pille tot die onkoloog besluit dis tyd om weer op te tree. Dit bly vir ons ’n uitdaging om niks meer te kan doen as ‘wag en kyk’ nie … ”
Lees ook: Herstel na ’n hartaanval: Hoe help jy jou man?
Sy pynlikste emosionele kwessies is seker sy worsteling met sterflikheid en sy manlikheid
Sterflikheid en manlikheid
“Ek het van die begin af die behoefte gehad om te weet wat in Roux se kop en hart leef en hy praat gelukkig openlik oor sy ervaring. Die pynlikste emosionele kwessies is seker sy worsteling met sterflikheid en sy manlikheid.
Lees ook: Testosteroonaanvullings vir mans – is dit iets wat hy moet oorweeg?
“Niemand kan die dood systap nie – dit sluimer waarskynlik maar in elke mens se agterkop. Maar nou het die diagnose die illusie weggeruk dat Roux nog onbepaald gaan leef. Hierdie werklikheid staar hom voortdurend in die gesig en dit het tot ’n mate van depressie gelei.
Lees ook: Seks en kanker – alles wat jy moet weet
“Die verlies van sy manlikheid was vir hom nóg moeiliker om te hanteer. Omdat die kanker na die senubondels buite die prostaat versprei het, is die senuwees wat ’n ereksie moontlik maak ook in die operasie verwyder. Vir baie mans is ’n ereksie die simbool van manlikheid. Dis in ’n man se aard om sy geliefdes te beskerm, en Roux het gevoel hy kon my nie meer beskerm nie. Hierdie dubbele rouproses, saam met die uitwerking van die testosteroon-onderdrukking, het hom baie broos en kwetsbaar gelaat.
Lees ook: Die oorsaak van lae libido in mans
“Ek het uiteraard sy reaksie begryp, maar vir my het die prostatektomie allermins Roux se manlikheid aangetas. Ek het dit eerder as ’n lewensreddende prosedure gesien en sy gebrek aan ereksie soos die verlies van ’n ledemaat. Hy is steeds die man wat ek liefgekry het.
Omdat ek ook in my menopouse is, is die seksuele nie voorop in my gedagtes nie. Ek het besluit om dit nie meer as ’n prioriteit te beskou nie. Vir my is dit genoeg dat Roux lééf.
Lees ook: Menopouse en seks – alles wat jy moet weet
“Ons maak die beste van elke dag. Ons praat oor ons ongelooflike lewensgehalte en fokus daarop om dankbaar te bly. Ons sê gereeld hoeveel ons mekaar waardeer.
“Ek en Roux het ’n bewuste besluit geneem om ’n slagoffermentaliteit in die kiem te smoor. Ons mag soms maar ’n bietjie jammer vir onsself voel, maar ons durf ons nie daaraan oorgee nie. Ons leef nie in ontkenning nie – die kanker is ’n daaglikse deel van ons bestaan – maar ons laat nie toe dat dit die oorhand kry nie.
“Ons kies om voluit te leef, al hang daar ’n swaard oor ons kop. Ons kan steeds die goeie geniet en pret hê!”
Lees ook: Wat jy moet weet oor erektiele disfunksie
*skuilname
Chrisna se strategieë
- Ek ondersteun my man deur ingelig te bly. Ek lees na, gaan saam dokter toe en bespreek alles met hom. Ek glo ’n groot deel van die verwerkingsproses gebeur in
oop kommunikasie. - Ons deel ons vrese en dra mekaar om die beurt. Interessant genoeg tref ons nooit gelyktydig ’n laagte-punt nie. Die siekte het ’n intense beskermingsdrang in my wakker gemaak, en dis vir my ’n voorreg om soms die sterker een te kan wees. Ek het ook geleer om hom toe te laat om agter te kom wanneer ek broos voel. Hy voel goed oor homself wanneer hy my ’n
bietjie kan “oplig”. - Omdat Roux emosioneel so kwetsbaar was, het hy enige kritiek of meningsverskil as verwerping beleef. Daarom het ek aanvanklik die verhoudings- en ander kwessies wat my gepla het, verswyg, maar ek het mettertyd besef dit doen meer kwaad as goed. Wanneer ek my ware gevoelens en behoeftes begrawe, dryf ons weg van mekaar. Intimiteit verg eerlikheid. Ek moes leer om sake met sensitiwiteit uit te praat, al is daar ’n kans dat die gesprek hom sal ontstel.
- Wanneer ek merk dat die vrees opvlam dat hy nie meer ‘mans genoeg’ vir my is nie, sê ek: ‘Die toekoms sal jou leer ek gaan jou nie los net oor jy nie meer voel soos die man wat jy vroeër was nie.’ Ek hou aan om hom gerus te stel.
- Vriende vra waardeur ons seks vervang het. Ons het spontaan ander vlakke van intimiteit binne ons samesyn ontwikkel. Ek wil steeds vir hom mooi en vroulik lyk. Ons verhouding is nou baie meer sensueel as seksueel: ons vat, voel, flankeer en vry.
Lees ook: Die dieper betekenis van seks
- Roux is ’n ekstrovert en hou daarvan om tussen mense te wees. Wanneer hy hom in sy grot terugtrek, oorreed ek hom om ’n koppie koffie in ’n mooi omgewing te gaan drink, of ek nooi mense na ons huis toe – en nie noodwendig vir lang kuiers nie.
- Ná sy laaste chemosessie het ons ’n postchemopartytjie gehou om sy liggaam se goeie reaksie daarop te vier. Mense wat ons met hul liefde en vriendskap ondersteun het, het van heinde en ver die geleentheid bygewoon.
- ’n Sin vir humor het ons al deur die moeilikste situasies gedra. Ons deel ’n stout streep – ons sien die komiese in die tragiese raak. Jy kan ’n ligtheid van gemoed kweek deur byvoorbeeld in die chemosessies saam met die ander pasiënte te skerts en lag, of soos Roux te grap dat hy saam met my en my vriendinne behoort te kuier, want hy “kry ook gloede en is dus een van die girls”!
- Ek sorg dat Roux gesond eet, genoeg rus en lekker ontspan. Ons luister na mooi musiek, of kyk na ’n fliek. Hy speel graag gholf wanneer sy fisieke toestand dit toelaat.
- Ek probeer om myself ook in ag te neem. Roux het onlangs afgetree, en dit het my bewegingsvryheid en kuiers met vriendinne ingeperk. Ek het skielik met ’n semi-siek man tuis gesit. Ek moet drie maal per dag aan maaltye dink en my ritte rondom sy behoeftes beplan. Sy depressie laat my skuldig voel wanneer ek hom alleen los, maar ek moet ook herlaai word sodat ek daar
kan wees vir hom. - Ek probeer positief bly en herinner my daaraan dat ek al erger dinge moes hanteer. Dis my lewensingesteldheid om te aanvaar wat die lewe voor my neersit, die minimum weerstand te bied, en nie toe te laat dat vrees my oorweldig nie. Ek doen my bes om ontvanklik te bly en soveel moontlik te leer.
Lees ook: Depressie en seks
Roux se wenke vir verhoudingsmaats
- Die belangrikste is waarskynlik dat jou vrou in álle opsigte volkome in die prentjie moet wees. Sy gaan saam wanneer die behandeling dit toelaat. Sy sit by wanneer die dokter die mediese toestand verduidelik. Sy moet die implikasies van die siekte en newe-effekte van die be-handeling verstaan sodat sy jou op die regte tyd of geleentheid kan aanmoedig, of met ’n simpatieke oor na jou kan luister.
- Sy moenie net altyd die sogenaamde “regte” ding wil doen nie. Die feel good-faktor is bitter belangrik. Sy moet probeer vasstel wat dit is en dit versigtig in die tuisbehandeling inbring. Ons het byvoorbeeld elke keer kort voor ek ’n chemo-afspraak gehad het, die steak, chips en uieringe met rooiwyn-ding gaan doen. Daar kan baie ander sulke goed wees, maar dis belangrik om die roetine van stres oor jou lot met lekker dinge te onderbreek – nie noodwendig gesondes nie!
- Sy moet jou aanspoor om ondanks jou siekte steeds positief te wees. Diep binne is jy maar bang, en positiewe aktiwiteite en denke stoot die bang weg. ’n Halfvol glas wen ’n halfleë glas.
- Sy moet die vryheid hê om hierdie goed te kan doen en nie ingeperk te voel deur ou Jannie Jammergat nie. Daar kom soms moeilike tye en sy moet ook haar energie gaan aanvul op ’n plek waar dit vir haar lekker en veilig is. So, die “ou sieke” moet dus ook sy vrou ondersteun.
- Kry alle administrasie reg sodat sy weet wat om finansieel te wagte te wees wanneer die tyd aanbreek. Belangrik: jou testament!
Lees ook: Hoe jou sintuie jou sekslewe beïnvloed