En skielik is dit 2014. In ’n oogwink is die Desember-vakansie waaroor ek sedert Augustus kwyl verby, die stapeltjie boeke langs my spierwit vakansiebed het gekrimp, my geduld (en my middellyf) het gerek. Daar’s weer plek vir planne in my kop; ek het gerus.
Braaf blaker vrinne en kennisse hul planne op Facebook en Twitter uit. Luid. Beslis. Uitdagend. Daar’s die gewone minder-eet-meer-oefen-lysies, dié wat nuwe loopbane wil soek, ’n paar wat dringend ’n trouman moet vang, ander wat dit duidelik maak dat hulle ’n boyfriend (en nie ’n trouman nie, want daar’s ’n verskil) in die visier het. En dan dié wat die jaar planloos pak.
Ek bekyk die spulletjie, trek ywerig ’n nuwe notaboek nader. Besef gou dat die vakansiefeë geen towerstaf oor my dagtaak geswaai het nie – die lys is langer, lywiger en dringender as drie weke gelede.
Ek voel die paniek in my pols, staan op en gaan soek troos in ’n koppie koffie en ’n laaste stuk van Ma se vrugtekoek. Ja, dink ek, jy het die vakansie soos ’n stuk vrugtekoek verorber; dit was soet, ryk en deurdrenk van alles wat verleidelik, goed en lekker is.
Nou is daar net krummels in die bak. Dis 2014 en tyd om iets nuuts te maak, ’n nuwe resep te beproef.
Ek trek die notaboek weer nader; my oog vang ’n nota oor ’n man wie se lewensverhaal my dié vakansie opnuut verwonderd gelaat het:
Franciscus, waarom loopt iedereen achter jou aan? Hoe komt dat toch?
Je bent niet groot van stuk; je bent niet mooi en je bent niet geleerd.
Toch loopt heel de wereld achter je aan.
Hoe krijg je dat voor elkaar?
St. Franciscus van Assisi was ’n merkwaardige man, een wat in die dertiende eeu hom vir barmhartigheid beywer het. Sy fokus voortdurend weg van sy eie lysies, maar gerig op dié van ander.
Dan weet ek, my lysie vir 2014 lees so:
Here,
maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar oortredings is, vergifnis,
waar daar twyfel is, geloof,
waar daar wanhoop is, hoop.
waar daar duisternis is, lig,
waar daar droefheid is, vreugde.
O, Heilige Meester, gee dat ek,
in plaas daarvan om vertroosting te soek, ander sal vertroos;
om begrip te soek, andere sal verstaan;
om liefde te soek, andere sal bemin.
Want dit is deur te gee, dat ek ontvang;
deur te vergewe, dat ek vergewe word.
En dit is deur te sterwe,
dat ek die ewige lewe beërwe.
Amen.
(Uit: ’n Gebed van St. Franciscus van Assisi)
Tot volgende week,
Marí
www.incontext.co.za