• Mense met AA het ’n kort aandagspan en as hul aandag afgelei word, sukkel hulle om weer “terug te kom.” Maar dis nie waar dat hulle glad nie kan fokus nie. Wanneer iets hulle boei, kan hulle in ’n staat van hiperfokus beland. Dit verklaar hoekom iemand met AA briljant skaak kan speel maar sukkel om ’n brief te formuleer. Wat ander soms nie verstaan nie, is dat hulle die mate van fokus nie na willekeur kan beheer nie. En wanneer hulle op iets konsentreer, moet hulle nie onderbreek word nie. Dit skep erge frustrasie omdat hulle werklik sukkel om weer aan die gang te kom.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }• Hierdie mense volg opdragte en aanwysings met moeite – hulle is haastig om by die “punt” uit te kom, en vind dit veeleisend om na iemand te luister. Hul aandag kan selfs tydens seks afgelei word.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }• Impulsiwiteit veroorsaak dat hulle die verkeerde ding op ’n vergadering kan kwytraak, onverantwoordelik geld kan bestee, verkeersoortredings begaan, of sommer hul werk bedank. Hulle is gedurig in die moeilikheid en kan noodleuentjies vertel of iets “leen” sonder om dit terug te besorg – soos ’n kollega se pen as hul eie soek is.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }• Alledaagse takies oorweldig hulle. Hulle is chronies laat, of altyd aan die jaag. Finansiële beplanning kan ’n slagveld wees. Omdat hulle net by tye toegang tot die funksionele deel van die brein het, kan hulle ondoeltreffend wees by die werk en langer ure moet werk.
• Angstigheid, oordrewe kommer, ’n gevoel van naderende onheil, gemoedswisselings, hooploosheid en negatiwiteit kom algemeen voor.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }• Verhoudings kan ’n uitdaging wees. Afgesien daarvan dat hulle gewoon vergeet om die skottelgoed te was, kan hulle selfgesentreerd en onvolwasse voorkom, dit moeilik vind om verhoudings aan die gang te hou, swak kommunikeer, konflik uitlok of histeries raak. Hulle het dikwels probleme met gesag en vermy groepsaktiwiteite.
• Hulle funksioneer baie keer in crisis mode. In normale omstandighede sukkel hulle om uit die blokke te kom. As hulle ’n taak tot op die laaste uitstel en die spanning hoog begin loop, het hulle genoeg energie om te kan fokus.
• Hulle is baie kreatief, maar vind die uitvoering van roetinetake sieldodend. As hulle die regte mense kry om hierdie take namens hulle te hanteer, kan hulle uiters suksesvolle sakelui wees.
• Daar is verskeie ander simptome. Onthou dat ons almal in ’n mate met hierdie simptome kan identifiseer en nie noodwendig die toestand het nie. Aan die ander kant toon alle mense met AA of AA-HA nie al die simptome nie.
Ons leef in ’n samelewing waar orde en doeltreffendheid hoog aangeskryf word. Swak tydsbestuur, ontoereikende
beplanning, vergeetagtigheid en onvoorspelbare gedrag laat die wenkbroue lig. Voeg daarby ’n onvermoë om stil te sit of ander deurgaans met sosiale finesse te behandel, en jy sit met moeilikheid. Dit terwyl talle volwassenes se breinsamestelling onfeilbare “logiese linkerbreinoptrede” onmoontlik maak. Aandagafleibaarheid – wat dui op ’n gebrekkige vermoë om te fokus en/of te konsentreer – en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit, wat gebrekkige fokus sowel as fisieke ooraktiwiteit behels, is ’n deeglik nagevorste psigiatriese toestand, sê die Pretoriase sielkundige dr. Karen van Niekerk.
“Anders as vroeër, sluit die nuwe DSM5 – die diagnostiese handleiding wat wêreldwyd gebruik word – nou ook aandagafleibaarheid (AA) en aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit (AA-HA) onder volwássenes in. Wetenskaplikes kan verklaar wat in die brein verkeerd loop, maar die presiese oorsake is nog onduidelik. Daar is wel aanduidings van ’n genetiese kompoment, en dit kan met goeie gevolg behandel word.” ’n Volwassene wat skielik met gebrekkige konsentrasie, fokus en/of impulsiwiteit sukkel, voldoen nie aan die kriteria vir volwasse aandagafleibaarheidsgebreksindroom nie.
“’n Formele diagnose word slegs gemaak wanneer die intensiteit van die simptome die persoon se funksionering negatief raak, simptome gelyktydig oor ’n lang tydperk aan en af voorkom, en dit sy of haar lewensgehalte op meer as een gebied belemmer – byvoorbeeld hul verhoudings én werksprestasie.
“’n Diagnose word met behulp van vraelyste en kliniese waarneming gemaak, gewoonlik deur psigiaters, algemene praktisyns of sielkundiges. Ander kundiges soos arbeidsterapeute kan dit ook optel. Behandeling behels primêr medikasie en sekondêr kognitiewe gedragsterapie. Navorsing wys mense wat nie net op medikasie steun nie, maak die beste vordering. Die emosionele uitwerking van AA of AA- HA moenie onderskat word nie.
“Hierdie mense is gewoonlik baie intelligent en worstel met die pynlike besef dat hulle nie hul potensiaal uitleef nie, en dat ander dit weet. Hulle sukkel in ’n mindere of meerdere mate om sosiaal en by die gangbare manier van doen aan te pas. Dit kan aanleiding gee tot die ontwikkeling van sekondêre psigiatriese toestande. Onder volwassenes met AA of AA-HA wat nie gediagnoseer en behandel word nie, ontwikkel 59% angsstoornisse soos obsessief kompulsiewe versteuring, 45% gemoedsversteurings soos depressie, 69% probleme met impulsbeheer en 88% psigiatriese afwykings. Substansmisbruik kom by 35% voor.
“Begrip vir die toestand word bemoeilik deur die feit dat hulle nie konsekwent toegang het tot die funksionele deel van die brein nie. Soms werk dit wel. Dit kan ander die indruk gee dat hulle lui of ongemotiveerd is, of net nie omgee nie. Dis ver van die waarheid.” Aan die wortel van AA of AA-HA lê die ontoereikende funksie van neuro-oordragstowwe wat boodskappe in die brein oordra. “By hierdie mense is die heropname van neuro-oordragstowwe drie keer meer. Die stowwe, wat veronderstel is om boodskappe van een breinsel na ’n volgende oor te dra, beweeg nie oor die sinaps tussen die twee breinselle nie en word weer deur die oorspronklike sel opgeneem. Ek verduidelik dit so: ’n taxi moet mense van een stasie na ’n ander neem. Pleks van hulle by die tweede stasie af te laai, word hulle na die wegspringplek teruggebring.
“Medikasie help die neuro-oordragstowwe om behoorlik te funksioneer. Mense wonder soms hoe ’n stimulant iemand wat ‘hiperaktief’ is kan help, maar dit help hulle juis om die nodige energie te vervaardig sodat die oordragstowwe kan werk.”
Energiek & suksesvol
Dirk Agenbag (23), ’n digitale kopieskrywer by 140 BBDO in Kaapstad, is einde verlede jaar as die beste digitale “creative” aangewys in ’n Google Africa-kompetisie waaraan 14 agentskappe deelgeneem het – en dit slegs vier maande nadat hy begin werk het. Sy prys was die bywoning van die toonaangewende Cannes Lions International Festival of Creativity in Cannes, Frankryk.
“Van ek klein was, het my ouers geweet ek’s mal,” skerts Dirk. “Ek het oral geteken en op my arms gekrap, en ek was gek na baseball en kitaar speel.” Aandagafleibaarheid en ’n mate van hiperaktiwiteit is op kunsskool by hom gediagnoseer maar hy wou nie medikasie neem nie. “Op 13 was ek rebels! Teen die tyd wat ek gaan swot het, was ek al ouer en ernstiger. Ek is na die AAA School of Advertising en het net Concerta of Ritalin geneem as ek take moes doen of régtig moes swot. Dit gee my struktuur. Dan was dit soos ’n rush en ek het gekyk hoe baie ek kon leer. Dit het ’n game geword.
“Die medikasie help my om te konsentreer en om klaar te maak wat ek begin, maar as ek dit neem, verloor ek my spark. Ek hou daarvan om die lewe op my manier te ervaar – wild en mal. Ek dink ek hou daarvan om deurmekaar te wees. Maar ek dra die medikasie by my; partykeer sê die mense by die werk dis tyd dat ek bedaar!” Dirk sê hy het die werk gekry wat vir hom bedoel is.
“Baie mense in die advertensiewese het ADD, en ons creative director sê hy hou van ons energie en dryfkrag. Ek is ’n creative en werk selde direk met ons kliënte – ek sou hulle mal maak! Die kliëntediensafdeling skakel met hulle en brief dan die creatives.
“Ek is regtig gelukkig om in elke aspek van die lewe iemand te hê wat my help. Ek het eers ’n woonstel met ’n goeie vriend gedeel, maar ons het die vreemdste goed versamel, eers die skottelgoed gewas as álles vuil was en gereeld uit elektrisiteit geraak. Nou is my woonstelmaat ’n vriendin wat die struktuur verskaf. Ná ’n rowwe dag geniet sy dit weer as ek haar toast in die vorm van ’n eendjie sny.
“My ma is ook op my case en sal laat weet ek moet kalmeer as ek in die middel van die aand see toe wil gaan! My girlfriend is ook crazy, maar sy het nie ADD nie. Sy sorg dat ek kos in die yskas het.”
Mense met AA “vorm te vinnig opinies en voel dan verlore. Ek raak ook baie vinnig verveeld – ek kort heeltyd ’n nuwe challenge. Mense haat dit as ek die onderwerp bly verander terwyl ons gesels. Ek doen maklik impulsiewe dinge soos om ’n klomp kouewatervisse te koop. Nou sit ek met ’n vistenk so groot soos ’n lessenaar.” Dirk slaap min en werk meestal laat. “Ek ken my vriende al jare lank, maar ek ontmoet gedurig nuwe mense op Twitter. Ek hou baie van dinner parties en nooi graag mense oor vir nachos. “My nuuskierigheid en drive maak die lewe opwindend, en dit maak my uniek. Ek voel ek word embrace vir my weirdness.”
Die rol van terapie
Karen glo dat AA of AA-HA begryp en bestuur kan word om die betrokkenes optimale lewensgehalte te gee.
“Maar dis nie ’n pad van kitsoplossings en terugsit nie. Dit verg commitment en vasbyt. Mense met AA en AA-HA kan hul toestand in baie situasies as ’n verskoning gebruik, maar die gevolg gaan steeds ’n minder bevredigende lewenservaring wees. Die keuse om volle verantwoordelikheid vir jouself te neem, kan geweldige groei meebring.”
Karen spreek mense privaat, maar besef dis ’n duur opsie. “Daarom bied ek ’n vaardigheidsopleidingsprogram aan wat ’n groep van ses tot agt mense in 12 weke deurloop. Die weeklikse sessies duur sowat ’n uur en ’n half. Niemand hoef hulle bloot te stel deur persoonlike inligting te verskaf nie; dis ’n praktiese program.
“Hoewel hierdie mense gewoonlik nie gek is na groepe nie, geniet hulle die opset omdat almal in dieselfde bootjie is. Hulle gaan kreatief met die program om, lag baie en ondersteun mekaar. Die dinamika in die groepe is wonderlik.
“Die program is gemik op die aanleer van gedrags- en kognitiewe vaardighede wat in verskillende lewensituasies gebruik kan word: by die werk, in verhoudings, as jy studeer, en so meer. Die sleutel is bewustheid – van die toestand, hoe dit jou daaglikse lewe beïnvloed, en hoe om dit te bestuur: to start thinking about your own thinking. Die doel is om jou lewe, jou kop en jou gevoelens in ’n struktuur te kry sodat daar meer voorspelbaarheid is.”
Die program konsentreer op die volgende aspekte
• Maak vrede met jou diagnose en verbind jou tot groei
• Oorkom emosionele struikelblokke en bou selfvertroue
• Tydsbestuur: tydsbewustheid en skedulering; maak take hanteerbaar en beloon jouself; prioritisering en doenlysies; aktivering en motivering
• Raak georganiseerd: stel ’n organisatoriese stelsel op; implementeer ’n organisatoriese stelsel; onderhou ’n organisatoriese stelsel
• Beplan ’n projek en kry dit gedoen!
• Projekbeplanning: implementering “Ons werk sáám met die toestand en nie daarteen nie,” beklemtoon Karen. “Die eienskappe wat die probleme veroorsaak, is immers ook die eienskappe wat mense met AA of AA-HA help om ’n vars bydrae te lewer. Dis wat hulle maak tiek.”
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
Hierdie webwerf gebruik koekies.