Nagrokkie, tandeborsel en skoon broekie vir oorslaap.
Oupa se Bybel en sy Woordeboek.
Vliegtuigkaartjies van waar my krummels hul al oral bevind het.
En nou – ’n groen satyn nagjurkie, sigarette, aansteker, asbakkie en gebuigde foto’s vol vingermerke. ’n Blikkie met al haar blinkgoed – bykans geen van waarde.
My nuutste onthou – die onomkeerbare verlies van my Ma.
Die lewe neem sy loop en diep binne bid jy vir die onverganklikheid vir die kosbaarstes in jou kring. Op 52 is die naelstring finaal geknip.
Die laaste drie weke van haar lewe het sy in ’n beskutte sonnige kamer in die hospitaal gelê. Gestroop van waardigheid en onthou. Ure aaneen het ek haar gunsteling liedjies oor en oor vir haar gesing. “Please release me,” en “I just called to say I love you.”
“Hallo Mamma – Hallo my kind…” Hierdie refrein was eie aan ons hegtheid. My Ma was klein en broos, met die hart van ’n leeu. Haar kinders was haar alles. Ons kon laatnag die foon optel as die lewe ons ’n dwarsklap gee. Ma kon altyd raad gee. En ons, haar kinders, was altyd en sonder uitsondering reg. Sy het ’n blindelingse liefde vir haar welpies gehad en oogklappe gedra vir ons mees opsigtelike foute.
Ek en my sus se verhouding met haar het verskil. Sus was die verstandige een wat altyd oordeelkundige besluite geneem het. En ek, ek was haar wildeloot kind. Die stroomop een met haar kop in die wolke. Die beneukte een. Maar die een wat altyd kon jammer sê.
Ek maak Ma se klerekas oop. Ek ruik aan die malvapienk jassie waarvoor sy so lief was. Ek streel oor die truie wat met soveel presisie gepak is. Wit by wit, en swart by swart. My oog vang die blinker as blink fop juwele waarvoor sy so lief was. Bont krale en groot oorgeblaasde, baldadige goue oorbelle. Vir Ma was “less never more.” Hoe blinker hoe beter.
Langs haar bed staan haar geliefkoosde Impulse sproei. Dit maak nie saak hoeveel ontwerpersparfuum ons aangedra het nie – dit was altyd die pienk bottel Impulse wat geseëvier het. Sy kon dit spuit dat dit soos ’n wolk om haar hang. Die drie identiese botteltjies staan soos soldaatjies in ’n ry.
Onder in haar kas ontdek ek ’n doos vol sigarette. Ma was altyd bang die rookgoedjies raak op. Haar gunsteling was sulke lang dun sigarette in ’n rooi en goue pakkie. Maar sy was ’n lady. Ma het nooit op straat gerook of met ’n sigaret in die hand gestap nie – al het sy lekker by die basaar een voor die dominee aangesteek. By navraag van een die die susters van die gemeente oor hoe sy voor die herder kon rook, was haar altyd eerlike en skerp antwoord: “Maar ek rook dan voor die Here.”
My Ma het die lewe beleef en deurleef met ’n passie wat alle verstand te bowe gaan. Daar was nie plek vir voorgee nie. Soos wat sy was, het sy geleef – eerlik tot die punt van ongemaklikheid.
Ma het elke rooi rose waarin ek geskryf het, soos ’n klein nood bewaar. En net ingeval een van die dorpenaars nie my talent raakgesien het nie, vir hulle ’n afgerolde artikel in die hand gestop. Pa kon net sy kop skud en tot agter sy ore bloos.
Ek en Ma het elke aand na afloop van Sewende Laan dieselfde gesprek oor en oor gehad. Soms was ek geïrriteerd met Ma se konstante herhaling van gister en eergister se stories, en tog sal ek vandag berge versit om daardie telefoon nog net een keer te hoor lui.
“Hallo Ma, Hallo Ma se kind …”