-
Skok
Kanker wat ’n kind tref, kom altyd “uit die bloute”. Hoe kan daar ’n kwaadaardige gewas in jou gesonde, gelukkige kind groei? Baie ouers voel afgestomp en sukkel om helder te dink, of te onthou wat die dokter gesê het. Die skok verminder mettertyd, maar intussen is dit wys om die steun van vriende en familie te aanvaar. Praat die saak met ’n verstandige persoon deur, en vra iemand om saam te gaan na doktersafsprake en dan notas te neem.
-
Ongeloof en ontkenning
Soms dink ouers daar was ’n fout en dat die uitslae onmoontlik met hul kind verband kan hou. Dis belangrik dat behandeling nie uitgestel word omdat ouers sukkel om die nuus te verwerk nie. Aan die ander kant kan ’n tweede opinie help om twyfel te bekamp. Naleeswerk oor die soort kanker kan ook ’n kind se diagnose belig, maar bronne moet oordeelkundig hanteer word – alles is nie geloofwaardig nie.
-
Vrees en angstigheid
Onsekerheid kenmerk hierdie uitdagende situasie. Selfs ouers wat al met kanker te make gehad het, ervaar dit as ’n reis die onbekende in; elke diagnose en proses is eiesoortig. Hoewel dit mag voel of die aarde tot stilstand gekom het, is werksdruk, die behoeftes van jou ander kinders en finansiële spanning weens hoë mediese kostes ’n werklikheid.
Onthou dat angstigheid met negatiewe selfspraak verband kan hou. Gaskoeldrank, geprosesseerde kos en kaffeïen kan angs aanhelp, veral tydens lang ure in die hospitaal. Probeer elke dag ligte oefening en genoeg slaap kry.
-
Skuldgevoelens
Dis normaal dat ouers wonder waar dinge verkeerd geloop het en bekommer dat hulle te min aandag aan vroeë simptome gegee het. Ma’s mag hulle verwyt oor hul dieet en leefstyl tydens swangerskap. Dit is belangrik om te verstaan dat skuldgevoelens ’n poging is om sin te maak van die situasie. Hou by die feite en voorkom so innerlike en gesinskonflik. Besef ook dat skuldgevoelens jou energie steel – energie wat jy nodig het om op belangrike take en besluite te fokus.
-
Depressie
Baie ouers beleef ’n kind as ’n verlengstuk van hulself. Jou drome vir jou toekoms vind weerklank in jou drome vir jou kind se toekoms. Hierdie drome word nou bedreig en die donkerte van depressie kan jou oorweldig. Vind maniere om jou gevoelens uit te druk: in terapie, deur die neerskryf van jou emosies, of deur met ’n oordeelkundige vriend te gesels.
-
Woede en frustrasie
“Hoekom ek? Hoekom my kind?” Vir hierdie soort vrae is daar geen antwoorde nie. ’n Komplekse mediese stelsel of familielede wat skynbaar nie genoeg steun bied nie kan ook tot frustrasie en woede bydra. Dis belangrik om ’n manier te vind om van hierdie gevoelens ontslae te raak. Oefening of meditasie kan hier van hulp wees.
Die belangrikste is dat jy besef jy is nie alleen nie en dat jy normaal reageer in ’n buitengewoon stremmende situasie. Fokus op selfsorg – fisiek, spiritueel en emosioneel. Gebruik al die bronne tot jou beskikking, want hoe beter jy na jouself omsien, hoe beskikbaarder is jy vir jou kind en jou nabymense.
Inligting verskaf deur Emily Gray, wie se linkerbeen op 11 jaar by die heup geamputeer is weens ’n kankergewas. Daarna het sy Suid-Afrika by drie Paralimpiese Spele verteenwoordig. Emily help kankerpasiënte en mense met amputasies met hul herstel en aanpassing by die gemeenskap. Facebook: Emily Anne Gray