Ouers sal vir jou sê: As dit net met my kinders goed gaan, gaan dit met my ook goed, want min dinge mergel ’n ouer meer uit as die besef dat daar groot fout in sy kind se lewe is. Dit bring slapelose nagte, ’n warboel emosies wat wissel tussen hartseer, woede, teleurstelling, vrees en kommer. Asook die pynlike, selfverwytende vraag: Wat het ons verkeerd gedoen?
Dis vir baie ouers moeilik om perspektief te behou en reg op te tree wanneer hul drome en verwagtinge vir ’n gelukkige, gedissiplineerde en presterende kind verkrummel.
Of dit nou jou pragtige tienerdogter is wat swanger is, jou sewejarige wat sy maatjies by die skool vloek, jou tienerseun wat iets in ’n winkel gesteel het, rook, drink of dwelms gebruik, jou universiteitskind wat niks deurkom nie, of ’n volwasse kind wat ’n verkeerde lewensmaat kies, of nie ’n werk kan hou nie – dis dinge wat ’n ouer se hart breek.
Kinders doen om baie redes verkeerde dinge: ’n soeke na opwinding, verveeldheid, nuuskierigheid, impulsiwiteit, onvolwassenheid of groepsdruk. Daar kan ook dieperliggende redes wees: ’n soeke na aandag en aanvaarding; om iewers in te pas; ’n rebellie teen te veel ouerlike beheer; uit wraak vir verwerping; of uit magteloosheid omdat hy net nie aan julle verwagtinge voldoen nie. Dié gedrag kan later ’n patroon of verslawing word.
Skok laat ouers aanvanklik só reageer: Hoe moet ek my kind hiervoor straf? Die skande! Hoe kan ek voorkom dat ek of hy sleg lyk? Vermyding werk nie, ook nie straf wat nie deel van ’n oplossing is nie. Dit help dikwels om liewer te probeer bepaal wat agter die kind se gedrag lê.
Die kind se volgehoue wangedrag is gewoonlik ’n simptoom van iets diepers.
Gedrag het meestal ’n doel of ’n psigiatriese rede. Die kind het werklik óf nie beheer nie, óf hy kry iets daar- uit wat belangriker as die moontlike gevolge is. Fokus die ouer slegs daarop om die kind se gedrag te verander of te beheer, is verandering selde blywend, veral wanneer die gevolge net emosionele konsekwensies soos woede, preke en raas inhou. Daar is ’n groter kans op verandering wanneer die kind presies vooraf weet wat die grense en die gevolge sal wees en dit elke keer konsekwent gebeur.
Kinders wat die pad werklik byster raak, het gewoonlik ’n paar dinge gemeen: hulle het nie goeie selfbeelde nie; hulle het reekse vorige ervarings van mislukkings en teleurstellings en het nie oop, gemaklike en goeie verhoudings met van die belangrikste mense in hul lewe nie; hulle maak of hulle nie omgee nie, maar dikwels is dit net ’n masker om hul seer en swaarkry oor ander dinge weg te steek.
Kinders is meer as net ’n produk van ouerskap.
Alle ouers doen baie goed reg én maak foute in die opvoeding van hul kinders. Alles wat kinders doen, wys nie vingers na hul ouers nie, hoewel ouers hulself moet afvra of hul optrede die situasie verbeter en toekomstige probleme sal voorkom. Daar is meestal min fout met ouers se bedoelings en liefde te vind.
Kinders is nie marionette wat ouers kan beheer nie. Baie ouers koester uit ware liefde te hoë verwagtings van hul kinders. Hulle gee en doen veral kleintyd te veel en beheer te veel om die verwagtinge te laat realiseer. Uit vrees dat sy kind nie reg sal optree nie, word ’n kind se optrede met gesag beheer en die kind word nie vertrou om dit op sy eie te kan doen nie. Die kind ontwikkel nie geloof en vertroue in homself en sy eie vermoëns nie, en ook nie verantwoordelikheid of selfbestuur nie. Goed bedoelde beskerming kan kinders meer weerloos teen die gevare van die lewe maak. ’n Kind kan teen sy ouers rebelleer wanneer hy die beskermende reëls as te beperkend beleef.
Sanet* vertel
“Ek kan jou nie vertel hoeveel nagte ek wakker lê en hoeveel trane ek al oor my kind gestort het nie. Schalk* is die middelkind. Hy maak ons oud voor ons tyd. Hy is heeltemal anders as sy sussies wat leer, verantwoordelik is en by die reëls hou. Van kleins af is dit die een teleurstelling na die ander. Ons stel ’n goeie voorbeeld in ons huis. My man is hardwerkend en behandel ons met respek, al is hy streng.
“Schalk is slim, maar op laerskool was hy al eiesinnig. Hy wou nie sy deel doen nie en net hê en hê. Dit was ’n gestoei en ’n ge- sukkel. Hoeveel nagte moes ons help om take klaar te kry terwyl hy boonop op my skree. Van graad nege af het sy lewe heeltemal uitmekaargeval. Hy het stokkies gedraai, snags skelm uitgeglip en gedrink. Dit maak nie saak hoe ons hom straf, of wat ons reëls was nie, hy steur hom net nie daaraan nie. Ons het al alles probeer: mooi praat, raas, skree … Ons kon net sowel met ’n klip gepraat het. Ons moes soebat om hom weer in die skool te kry ná hy geskors is.
“Ná skool wou hy studeer. Dit was ’n gemors – hy het twee jaar ná mekaar niks deurgekom nie. Toe is hy oorsee en ná ’n rukkie was dit ook nie meer lekker nie en is hy weer terug in die huis. In die proses het hy drie motors afgeskryf en in die selle beland waar ons hom moes gaan haal en keer dat hy nie in die tronk slaap nie. En Pa moes net betaal en betaal. Pa het vir hom ’n werk by ’n vriend gereël en dit het ook nie uitgewerk nie. Hy is ’n meester-manipuleerder. Jou ’nee’ beteken minder as niks. Ons moet hoor hoe ons net vir sy sussies omgee en wat hulle alles kry, maar vir hom gun ons niks. Hy is net gaaf en oulik wanneer hy iets wil hê. Soms voel dit ek ken nie die monster voor my nie – ander kere sien ek weer die oulike, talentvolle seuntjie wat hy was.”
Vermy optrede wat nie werk nie – inkonsekwentheid en dreigemente wat nie uitgevoer word nie, of uitsprake soos “Ek weet nie waarom ek jou ooit gekry het nie”. Die kind ervaar dit as verwerping, onbegrip en verkleinering. Herhaalde verwyte, oorreaksie en reaksie uit woede skaad verhoudings en los niks op nie. Tyd en rustigheid versag jou reaksie en bring die nodige perspektief. Pyn leer en gee ons dinge wat ons andersins nooit sou leer nie. Dit skep ruimte in ons harte vir empatie, deernis, omgee, verandering en laat jou menslike verskille aanvaar.
As kinders nie die moed het, of veilig genoeg voel om eerlik vir hul ouers te kan vertel wat hulle voel, dink of doen nie, waar moet hulle die moed en krag vandaan kry om vir hul maats nee te kan sê, of om hulself te laat geld wanneer hul waardes bedreig word? Hulle onderdruk en ontken hul emosies wat dik- wels later in ’n emosionele uitbarsting of onaanvaarbare gedrag na vore kan kom.
Einstein het gesê ervaring is die enigste bron van kennis. Kinders se gedrag moet vir hulself ’n groter probleem as vir ander word, anders raak kleintyd se gebreekte glas of speelgoed later afgeskryfde motors, huwelike, drome en kanse.
Die aard van die kommunikasie in die gesin bepaal dikwels ook die hantering van die probleem. Fokus jou energie op positiewe kommunikasie, probleemoplossing en om ’n verhouding te bou. Dit maak verandering en ’n gelukkige einde moontlik. Binne ’n veilige verhouding van aanvaarding is dit makliker om aanpassings te maak en vaardighede en waardes te leer.
Verander van koers
Die volgende tekens is ’n aanduiding dat ouers dalk die die pad wat hulle met hul kind stap, moet verander:
• Jou kind het nie die vrymoedigheid om onbevange en eerlik met jou hul probleme, mislukkings, teleurstellings en vrese te deel nie.
• Jy neem beheer en doen dinge vir jou kind wat hy op sy eie kan, of behoort te doen, soos om aansoek om werk te doen, of probleme met dosente op te los.
• Jy red jou kind en beskerm hom teen die gevolge van sy dade. Jy doen sy take, onderhandel met die gereg om hom uit die moeilikheid te hou, of betaal sy skuld en skade.
• Daar is nie genoeg ruimte vir foute nie. Die verwagting is dat ons dinge perfek en reg doen.
• Jou kind doen dinge sonder om aan die gevolge te dink. Sy is dalk impulsief en aandagafleibaar, of het ander emosionele probleme wat ongediagnoseer en onbehandel is.
• Jy bestuur jou kind se lewe, foon, program en tydsgebruik met reëls. Hy word nie vertrou om dit met eie verantwoordelikheid en waardes te bestuur nie.
• Jy ken nie werklik sy maats nie. Julle huis is nie ’n plek waarheen hy sy maats met vrymoedigheid bring nie. Jy weet nie waar jou kind is wanneer hy uitgaan nie, saam met wie, en wat hulle doen nie.
• Voortdurende kritiek en verwyte laat haar voel dat sy nie geliefd is en aanvaar word nie, of dat sy nie aan jou verwagtinge voldoen nie.
Ouers wil hul kinders teen swaarkry beskerm en dis moeilik om hulle die verantwoordelikheid vir, en gevolge van hul optrede te laat dra, soos erge straf of skorsing by die skool, of hulle vir skade te laat betaal. Min ouers kom so ver om ’n kind vir die skade aan sy motor te laat opdok, openbare vervoer te laat gebruik, of met die gereg te laat bots. Leer kinders nie die lewenslesse nie, kom daar ’n punt wanneer ouers net nie meer hul kinders teen die gevolge van hul dade kan beskerm nie.
’n Ander pad
• Loop ’n ander pad met jou kind en fokus die meeste energie op die herstel van jou verhouding met hom. Aanvaar die kind, nie die gedrag nie.
• Stel grense vir sy gedrag in jou lewe en huis, maar nie vir jou liefde nie.
• Bly kalm en kry eers die nodige inligting voor jy reageer of ontsteld raak. Behou perspektief. Min krisisse is op die lange duur ’n volslae ramp – die hantering daarvan kan wel verhoudings en moontlikhede opbou of afbreek.
• Probeer verstaan wat tot die gedrag aanleiding gegee het.
• Stap met respek saam met jou kind die pad déúr die emosie – van die skok, ontkenning, woede, teleurstelling, hartseer, depressie, deur die selfverwyt of skuldgevoelens, skaamte of vernedering tot by aanvaarding. Moenie in die warboel emosies en pyn bly vassit nie.
• Moenie die probleem ontken, vermy of probeer toesmeer nie. Hanteer en los die krisis op.
• Moet hulle nie red nie. Laat hulle die lewenslesse leer en die verantwoordelikheid en gevolge van hul dade dra.
• Stel duidelike grense en hou konsekwent daarby. Kinders moet weet wat is die verwagting, wat is onaanvaarbaar en wat die gevolge sal wees.
• Gee haar ’n kans en ondersteun haar met herstellende probleemoplossing: sy moet op haar eie planne maak, besluite neem en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar.
• Laat gaan die verlede wat jy nie kan verander nie en werk aan ’n nuwe begin. Dit verander nie die moeilike en pynlike omstandighede of verlede nie, maar maak jou vry van jou pogings om jou kind te moet verander, of die omstandighede te moet herstel.
• Kry ondersteuning van ander wat kan help. Praat met vriende, familie, professionele mense, of skakel by ’n ondersteuningsgroep in.
• Ouers moet mekaar ondersteun en nie uiteenlopende standpunte handhaaf nie.
• Wees jy die bron van jou eie geluk en leef jou lewe volgens jou waardes en grense.
• Wees goed vir jouself sodat jy die emosionele kapasiteit het om jou kind en die gesin emosioneel te kan ondersteun. Haar keuses is hare alleen en nie joune nie!