Quinne Brown is ma. ’n Rol wat sy so natuurlik speel asof sy haar lewe lank daarvoor geoefen het. Sedert Charlotte Quinta gebore is, kyk Quinne nog elke dag met die grootste verwondering na haar. Dié artikel vertel hul liefdesverhaal.
Dié keer is hul Suid-Afrikaanse kuier ekstra spesiaal. Dis Charlotte se eerste kennismaking met haar ma se geboorteland, en vir Quinne ’n sielsverkwikking ná al die nuwe aanpassings van die afgelope maande. Dis net dat die reis van San Diego tot in Johannesburg die “langste sestien uur” van haar lewe was, sê Quinne. Haar lieflingkind is nie een vir stilsit en slaap wanneer daar nuwe dinge is om te ontdek nie!
“Sy’s ’n regte charmer! Sy kan hoe knorrig met haar ma wees, maar sodra sy ander mense sien, helder haar gesiggie op en sy bekoor van jonk tot oud. Wanneer sy kinders sien, is dit asof daar ’n liggie aangaan en sy iets sien wat ander nie kan nie.”
Quinne noem dit “baby magic”. “Hulle straal ’n ongekondisioneerde besef van hul eie ek uit wat ons tien teen een herinner aan ons eie ongeskonde menswees. Ek wil graag glo dat ons almal hierdie energie kan behou, maak nie saak hoe oud ons is nie. Kyk maar net in die oë van ’n kind, en jy sien jouself!”
Dit was beslis nie maklik om sonder haar liefling-Amerikaner te vertrek nie. “’n Mens wil mos maar met elke ervaring jou maat by jou hê. Maar dankie tog vir Skype!” sê sy. Klokslag sesuur in die oggend (nege-uur saans by hom) gesels Quinne en Charlotte met Ryan.
Ek moet voorlopig my nuuskierigheid oor die klein mensie beteuel, want sy is pas vir haar oggendslapie neergelê. “’n Mens maak nie slapende kinders wakker nie,” sê dié mamma ferm.
Wanneer sy oor haar meisiekind praat, kreukel die lagplooitjies om Quinne se okkerneutbruin oë en daardie spontane glimlag word selfs nog breër.
“Ek staan nog elke dag verstom oor die wonderwerk van ma-word. Dis die ongelooflikste, lekkerste ding wat met my kón gebeur. Ek wil dit net weer doen!” sê sy laggend. Dalk drie kinders vir haar en Ryan … wie weet?
Quinne het destyds as Connie van der Lecq in 7de Laan Suid-Afrikaners se harte gesteel. Die Connie-skoene het sy lankal ontgroei, al was die rol vyf jaar lank deel van haar lewe. En dis goed so, want soos sy sê, ’n mens leer iets by elke karakter wat jy vertolk. Sy moes noodwendig aangaan en ander karakters kry by wie sy sou leer. Deesdae leer sy elke dag “deur die oë van ’n klein mensie”.
“Die ding wat my aangryp, is die permanensie van die keuse wat jy maak wanneer jy besluit om ’n ma te word. Dit is ’n keuse wat die wêreld en ons bestaan beïnvloed,” sê Quinne, en staar vir ’n oomblik ingedagte by die venster uit. “Dis asof ek slegs toegelaat is om die eerlikste en opregste deel van my-self saam te bring toe ek die rol van ma aanvaar het.”
Sy glo ’n naam dra besonder baie krag en die taak om jou kind se naam te kies, moet daarom nie ligtelik opgeneem word nie. Quinne wou graag hê haar dogtertjie moes die middelnaam “Quinta” (Latyns vir “vyf”) dra. Dis ‘n naam wat ook aan Quinne se ouma behoort het. Sy was die vyfde van ses dogters.
Maar om die eerste naam, die “noemnaam” te kies, was ingewikkeld. Op ’n dag het Quinne haar ma gevra om vir haar die name van al ses die sussies op te noem. “Toe sy by Charlotte kom, die sesde suster, was dit of daar klokkies lui. Ek het hoendervleis gekry. Boon-op was Ryan net so opgewonde oor die naam, maar ons wou nie dadelik die aap uit die mou laat en verwagtinge skep nie. Ek wou eers my kind in my arms hou en sien of sy werklik ’n Charlotte is!”
Die naam is ekstra-spesiaal omdat ouma Quinta en haar jonger sussie, Charlotte, soos vinkel en koljander was. Hulle het saam die wêreld vol gereis. Charlotte was ’n lang vrou, met groot hande, onthou Quinne. “En vandag het my eie kind sulke mooi, groot hande!” sê sy. “Dit kan net van tannie Charlotte af kom!”
Dié tannie van Quinne se ma, is drie dae ná Charlotte se geboorte oorlede, kort nadat sy bewoë die nuus van haar klein naamgenoot ontvang het.
Charlotte Quinta is op 4 April 2011 op die maat van Laurika Rauch-liedjies gebore – nadat Quinne dertig uur in kraam was! “Dit was lank, maar dit was amazing!” sê sy, en dis byna asof sy weer terug is in daardie oomblik toe alles begin gebeur het.
Sy het twee-uur die oggend in kraam gegaan en ’n paar uur lank net rustig op haar eie deur die proses gegaan. Maar soos die dag ouer geword het, moes sy en Ryan skielik die tent skoonmaak, tuinmaak, beskuit bak saam met haar ma, Salomé. “Dit was instinktief. Ek het maar net op al my giere gereageer. Ek wou nie verstrengel raak in die pyn of enigiets wat dalk gekompliseerd kan raak nie.” In ’n stadium het sy selfs haar verfkwasse uitgeruk en met elke kontraksie wilde hale geverf. “My ma het maar net stil eenkant gesit en my dopgehou!” Quinne giggel nou by die gedagte hieraan.
Sy het sonder twyfel geweet dat Quinta natuurlik gebore moet word, sonder ingryping van pynstillers, inspuitings of ’n keisersnee. Omdat Charlotte twee weke “laat” was, wou Quinne se vroedvrou en dokter kraam induseer. “Maar ek het net hierdie ongelooflike sekerheid en vertroue in my gehad dat ‘natuurlik’ die beste is. Ek was gesond, daar was genoeg vrugwater en my bloeddruk was reg. Die baba sou kom wanneer sy gereed vir die wêreld is.”
Om haar deur die proses te lei en haar te help om te fokus, het sy naas die vroedvrou ook die hulp van ’n doula gehad om haar op ‘n ander vlak as die fisieke deur die geboorte te begelei. “Ek wou spesifiek iemand by my hê by wie ek nie emosioneel betrokke is nie – behalwe Ryan wat natuurlik heeltyd by was – en oor wie se reaksie ek nie bekommerd hoef te wees nie. Die doula was vir my ’n ongelooflike kalm bron van krag.”
Quinne meen die eintlike rede waarom vroue in die laaste oomblikke van die kraamproses skree, is nie omdat dit noodwendig seer is nie – dis eerder ’n baie noodsaaklike uitlaatklep ná ure se intense opbou van emosie en verwagting. “Ek het lekker ontlaai en ek is glad nie skaam daaroor nie!” sê sy met ‘n glimlag toe sy vertel dat sy soms soos ’n “tierwyfie” geklink het nie.
“En toe hulle haar op my neersit, toe wéét ek net onmiddellik sy ís Charlotte Quinta!”
Vra dié donkerkop oor haar “loopbaan” en sy borrel oor van entoesiasme. En dis (dalk verrassend) nié oor toneelspeel nie.
“My prioriteit is nou om ma te wees, maar dis asof ek uiteindelik ook vir my die toestemming gegee het om te doen wat ek nog altyd wou doen: holistiese medisyne,” sê sy trots.
Hoewel sy graag steeds hier en daar ’n rol wil vertolk, beskou sy dit nie as ’n beroep waarmee sy ‘n inkomste wil verdien nie. “Toneelspeel is vir my ’n ontdekkingsreis, en ’n healing art. Deur die eienskappe en omstandighede van ’n karakter uit te beeld, leer jy jouself beter ken en daardeur kan jy groei en selfs die seer binne-in jou genees.”
Haar hartsverlange is die ves-tiging van ’n Metamorphosis-terapiesentrum waar sy veral swanger vroue wil behandel. Metamorphosis is ’n alternatiewe genesingsterapie waardeur die terapeut met ligte massering die kliënt help om ’n intense bewuswording van haarself te kweek, en daardeur gesonde verhoudings en emosionele welstand aan te moedig. “Dit bring alle vlakke van jou wese in balans. Wanneer ons uit balans is, skep dit siekte of kwale,” verduidelik sy. Dit is ook dié innerlike balansering wat Quinne tien jaar gelede gehelp het om weer mens te word ná bitter tye toe haar ouers geskei en haar pa kort daarna oorlede is.
Quinne se moedertaal is iets wat sy koester en trots blink vryf. Ná vyf jaar in Amerika rol die Afrikaanse klanke steeds soet en gemaklik oor haar tong. En dis ook die enigste taal waarin sy met Charlotte gesels, terwyl Ryan op sy beurt Engels met sy dogter praat.
Hoekom Afrikaans? wil ek weet.
Quinne kry ’n vonkel in haar oog.
“Want dis my moedertaal. Daar’s soveel emosie wat daarmee saamgaan. Dis die taal van my hart. En ons wil dinge vir Charlotte makliker maak. Afrikaans sal haar ’n sin gee van wie sy is. Sy het soveel Afrikaanse familie. Boonop dink ek as sy twee tale vlot kan praat, sal ander tale baie makliker kom.”
Een van Quinne se gunstelingplekke wink deur die venster. Haar ma se tuin. Songeel suurlemoene, rose, en ongelooflike groen kalmte.
“Dis een van ons geliefde kuierplekke dié,” sê sy en sug behaaglik. “Ek en my ma kan ure lank onder daardie bome sit en kuier.”
Dogter-en-ma-tyd word nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Vir Quinne en Salomé is en bly dit ’n voorreg, juis omdat hulle nie sommer enige tyd kan gesels wanneer Quinne eers terug in Amerika is nie.
“Ek het nog altyd met baie bewondering na my ma gekyk en ons verhouding was altyd intiem. Ek dink my waardering vir haar as ma het ná Charlotte se koms vir seker verdiep, so ook ons vriendskap en respek vir mekaar as vroue. Haar liefde en onvoorwaardelike aanvaarding van my was altyd ooglopend en iets wat sy altyd ook vir ons gesê het. Nou waardeer en verstaan ek dit met meer insig en ervaring,” sê Quinne.
En wanneer ma Salomé eers in die kombuis doenig raak, kan Quinne haar net aan haar ma verwonder. “My ma is ’n fantastiese kreatiewe kok. Haar garnale in tamatiesous is iets waarvoor ons altyd ons lippe aflek. Maar dis haar passie en spesifieke manier van dinge in die kombuis doen waarna ek altyd uitsien. Ons kuier op ons lekkerste terwyl sy sommer vinnig-vinnig die wonderlikste stir-fry’s en ander geregte optower. Sy maak uit heeltemal niks die heerlikste nageregte … dis elke keer ’n wonderwerk!”
Daar gaan byna nie ’n kuier in Suid-Afrika verby sonder dat Quinne ’n draai in die Oos-Kaap en Transkei maak nie. “Golwende heuwels in skakerings van groen en bruin; die kleurryke rondawels; die plaaslike mense … dit voel of ek tuiskom. Ons het in ons kinderjare soveel Desembers daar deurgebring. Op Keimond het ons saam met ons tweeling-niggies die aarde platgespeel en die gebied vir ons opgeëis. Niks kon ons keer nie!” onthou sy.
Só skryf Quinne op haar blog met ‘n kuier in Oos-Londen: “Om van ’n baie gereguleerde deel van die wêreld te kom waar als mooi in pas en min verstrooid is, voel die deel van my geliefde land soos ’n morsige soet lekker en die groen van die heuwels en stukkende paaie en die aangelapte huise gee my heimwee. CQ (Charlotte Quinta) ry haar eerste perd op 29 weke. Sy is in die sewende hemel toe sy uiteindelik kans kry om ook op die ponie se rug te klim. Sy is vreesloos, rustig en so natuurlik met diere. Hierdie kind van ons verstom my daagliks.”
Daar is beslis planne om terug te kom Suid-Afrika toe. Hulle moet net “’n paar goed agter mekaar kry”.
“Ons droom saam oor Suid-Afrika,” sê sy. “Ryan is net so lief vir hierdie land maar dit moet ook prakties sinvol wees om te kom. Ons plan is om sodra ons twee of drie kinders het, terug te kom. Moontlik binne die volgende vyf jaar.”
Maar Quinne het ook al oor en oor die les geleer dat “planne” altyd ’n manier het om hul eie pad te loop en nie altyd gebeur soos ’n mens dit “wil hê” en beplan nie. “Ek verwag altyd die onverwagte!