Ek het my busmaatjie ontmoet tydens my eerste busrit na my Woensdag-skool. Ons het land en sand aan die gesels geraak – sy in Koreaans en ek in Engels. Sedert daardie dag kommunikeer ons nou al met meer woorde. Ek het die Koreaans geleer vir ’n paar kernwoorde soos Suid-Afrika, onderwyseres, skool, seun, eggenoot (man), dankie, asseblief, goeiedag, sommige plekname ens. Elke Woensdag, Donderdag en Vrydag ry ek en sy soggens saam in die mankolieke busse wat meesal bestuur word deur mans wat, vermoed ek, steeds droom om die Dakar-tydren met ’n bus aan te durf.
Donderdae eet ons gewoonlik middagete saam by Bugil Elementary. Gesprekvoering daar is byna afwesig omdat sy te besig is om groot hoeveelhede kos in ’n rekordtyd te verorber. Dis nie vreemd vir die Koreane nie, maar ek bly steeds stomgeslaan oor die klein mensie se vermoë om kos in daardie lyfie van haar te kry. Nou moet ek ook bysê dat ek ’n sterk vermoede het dat sy dalk van die minder gegoede Koreaanse burgers kan wees. Ten spyte van die ongelooflike rekord-ontwikkeling waardeur die land gegaan het en steeds gaan, het sekere sosiale groepe agtergebly. Hoewel minder ooglopend as in Suid-Afrika, is armoede veral onder ouer mense en mense in landelike gebiede ’n wesentlike probleem waaroor Korea liewer swyg.
My busmaatjie en ek
Kort na ek hier aangekom het, kom sluit sy een oggend aan tydens ’n gebruiklike geselsie met die busmanne en met my arm om haar smal skouertjies, kondig ek met die nodige handgebare ewe trots aan: “Chingu” (vriend). Behalwe dat sy uitgebars het van die lag, het sy ook baie verontwaardig en luidrugtig ontken dat ons vriende is. Sjoe, ek moes hard werk om getrou te bly aan een van my mantras om dit nie persoonlik op te neem nie. Dis eers heelwat later dat ek uitgevind het dat “chingu” gereserveer word vir mense van dieselfde ouderdom. Dus weet ek dat ek en Busmaatjie nie ewe oud is nie. Sy werk elke dag as die enigste skoonmaker by die skool. Dit sluit die skrop van badkamers, poets van lang gange, hark in die groot skoolgronde en vat-vat hier en vat-vat daar in. Hoeveel kan een mens nou ook verrig in so ’n massiewe gebou waar jong kinders rondhol soos wilde bokke?
Ek kan nie meer onthou waar dit begin het nie, maar een van ons het vir die ander ietsie gegee. “Ietsie” kan ’n ryskoekie, ’n sakkie gemaalde rooipeper, ’n appel, ’n gaar soetpatatjie wees. En net daar het ’n spel begin waarvan ek die reëls nie geken of verstaan het nie. Wanneer ek ’n groot boks met appels of ’n sak rys of ’n boks pere of ’n sak sampioene persent gekry het, was dit vir my die natuurlikste ding om vir haar daarvan saam te neem, want een mens kan tog ook net soveel gebruik. Elke keer nadat ek so ’n meevallertjie met haar gedeel het, het ek die volgende dag ietsie by haar gekry.
Die vorige week na middagete het ek impulsief vir haar my vrugtesappie gegee, bloot omdat ek graag die 1 nm-bus wou haal. Vrydagoggend toe gee sy vir my ‘n ryskoekierige ietsie. Die skoolkind op die bus vertaal dit as “medicine ricecake”, maar ek het later gehoor daar is oa ginko, ginseng, kaneel en ander kruie in. Heerlik, heerlik, heerlik.
Woensdag gee een van die onderwysers wat aftree by Duryun Middle School vir ons elkeen ’n Swiss Roll van Paris Baquette. Wat maak ek met ’n hele Swiss Roll! Donderdag hardloop ek gou oor na Busmaatjie se skool en neem vir haar die Swiss Roll. Daardie middag neem ek die 4 nm-bus saam met haar en daar bied sy vir my haar buskaartjie aan. Ek het dit so vriendelik moontlik van die hand gewys en beduie dat ek ’n elektroniese kaart het om vir my buskaartjie te betaal, dankie.
Busmaatjie se “kantoor” buite
Dit was my aha-oomblik en skielik het ek die spel en sy reëls gesnap. Sy kan nie ontvang sonder om terug te gee nie. As sy niks het om te gee op daardie oomblik nie, sal sy haar buskaartjie aanbied, maar ontvang sonder om te gee? Aikona!
Ek wens so ek kan vir haar verduidelik dat ek vir haar gee omdat ek oorvloed het. Dat ek asseblief niks wil terughê nie. Dat sy met oop hande moet ontvang maar ook met oop hande gee wanneer sy kan, maar nie ten koste van haarself nie. Nie gee omdat sy verplig voel om te gee nie. Toe dink ek hoe sy in Suid-Korea en ek in Suid-Afrika grootgeword het, en ons albei op hierdie ouderdom steeds moet leer om te ontvang. Hoe dit makliker is om te gee as te ontvang. Hoe trots ons soms van groot en mooi geskenke in die lewe kan ontneem. En ek weet dat ek harder daaraan gaan werk om met meer grasie en dankbaarheid te ontvang. Nie net ryskoekies en soetpatatjies nie, maar ook emosionele hulp, ondersteuning, liefde, waardering, tyd, gunste en gawes.