Dis moeilik om te glo Adele is blind. Sy en haar pikswart labrador, Damon, wag my voor haar Pretoria-meenthuis in, en soos ’n siende gasvrou stap sy vooruit na die voordeur, sonder om te huiwer by die een of twee trappies. Sy sorg eers dat Damon gemaklik is en maak sy waterbak vol. Toe gaan maak sy tee en sit muffins voor wat sy self gebak het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Sy is ’n borrelende, positiewe mens wat maklik lag – ook vir haarself – al het die lewe haar ’n aaklige streep getrek toe sy op die ouderdom van 29 letterlik een oggend blind geword het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Ek was in die winkel en toe ek die jogurt van die rak afhaal en in my winkeltrollie sit, was ek skielik blind.” Vreemd genoeg was sy nie paniekerig nie, maar verlig. “Ek het dadelik gedink nou gaan die dokters uiteindelik kan vasstel wat fout is met my.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Sy het ’n ruk vroeër een oggend met ’n vreeslike griep opgestaan, en was in die daaropvolgende week vier keer dokter toe. Toe sy ’n week later beheer oor haar blaas verloor, is sy dadelik in ’n Kaapse hospitaal opgeneem. Haar toestand het versleg en sy is na die Grootte Schuur-opleidingshospitaal oorgeplaas, waar dokters behoorlik kopgekrap het oor haar toestand.
“Ek het gewig verloor, het geen eetlus gehad nie en was behoorlik moedeloos.” Die moedeloosheid was vir Adele die heel moeilikste deel van haar siekte. “Ek het net mooi niks van my depressiewe self gehou nie.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Ná verskeie toetse, onder meer 17 lumbale punksies waartydens vloeistof uit haar rugmurg getrek is, het sy gehoor hoe hulle vir mekaar sê dat hulle regtig nie meer weet wat om te doen nie.
“Toe het ek vir die Here gesê: ‘Dankie, maar nou is ek klaar, ek kom huis toe, na U toe!’ Ek het nog altyd ’n persoonlike verhouding met die Here gehad. Vandat my ma dood is toe ek nege was, was ek gedurig in gesprek met God.” Sy vertel dat sy so siek was, dat sy nie eens skuldig gevoel het oor haar selfdoodplanne nie. “Ek het ’n ongelooflike gevoel van vrede daaroor gehad.”
Haar planne was agtermekaar. “Ek sou bloot al my medisyne bêre, en nog ander medisyne in die hande kry, en alles gelyk drink.”
Sy is na die hospitaal se kapel om te gaan bid, en hier het ’n mediese suster ook vir haar gebid. Terug in haar kamer het ’n vreemde, muwwerige reuk in die lug gehang. “Ek het nog nooit in my lewe so iets geruik nie. Ek kan dit maar net as ’n reuk van die dood beskryf.”
Adele, wat toe nog kon sien, het haar Bybel oopgemaak en begin lees toe ’n wildvreemde vrou by haar kamer instap. “Sy het langs my kom staan, my arm gevryf en vir my gesê die Here het haar gestuur om te sê ek gaan nie doodgaan nie, maar vir Hom werk. Ek het skielik besef die vrede wat ek oor selfdood gevoel het, was net ’n illusie.”
Sy is ’n paar dae later ontslaan, steeds baie swak. Kort daarna het sy uit die bloute blind geword. “Ek kon tussen lig en donker onderskei en so ’nn bietjie beweging sien – ek kan vandag steeds – maar geen detail nie.”
Sy is dadelik weer in die hospitaal opgeneem en ’n MRI-skandering het getoon sy het veelvuldige sklerose. Sy onthou die oomblik toe die dokter vir haar vertel het dat daar medies gesproke geen kans was dat sy ooit weer sal kan sien nie.
“My eerste gedagte was dat ek net nie nou van ander afhanklik wil wees nie, maar ek het die diagnose binne tien minute aanvaar. Ek dink ek was so verlig om te weet wat is fout en dat dit behandelbaar was, dat die blindheid nie veel saak gemaak het nie.”
Die blindheid het haar lewe verander, maar ten goede. “Voor my siekte was ek ’n sekretaresse, maar ek het elke oomblik daarvan verpes en gevoel ek is nie geskape om dit te wees nie.” Sy vertel van haar woonstel in Bloubergstrand en hoe sy elke dag Tafelberg en die see kon sien, en vir die eerste keer skemer daar ’n bietjie melancholie deur in haar stem toe sy vertel hoe sy die Kaap mis. Maar sy moes Pretoria toe trek om hier by die Nasionale Raad vir Blindes se kollege te kom leer “hoe om blind te wees”, soos sy dit stel.
Allerhande aktiwiteite, wat gegroepeer is onder wat die kollege “active daily living” noem, was deel van die opleidingsprogram – dinge soos kos maak, stryk en om geldnote en munte uitmekaar te ken. Om met ’n kierie te leer loop, was moeiliker as wat dit lyk. “Maar ’n kierie beteken mobiliteit en onafhanklikheid! Daardie eerste keer toe ek in verkeer moes gaan loop, was hectic. Ek dink dit het my toe vir die eerste keer regtig getref dat ek nou blind is.”
Adele lag lekker as sy vertel van die flaters wat sy al oorgekom het omdat sy nie kan sien nie. “Ag man, ek groet gereeld winkelpoppe.”
In die kollege moes sy ook leer braille lees. “Maar gelukkig verloor ek toe die gevoel in my vingerpunte weens die veelvuldige sklerose en ek kon ophou. Ek het braille net so baie soos stryk gehaat!” vertel sy laggend.
Adele het daarna as berader gekwalifiseer en is sedert 2002 ’n berader by Lifeline. Sy is baie ernstig oor haar werk.
“Onthou, jy werk met iemand anders se lewe. Maar ek vra altyd vir die Here om met die slagoffer te werk. Omdat ek ook ’n pad van swaarkry gestap het, glo ek dat ek kan voel en verstaan wat ’n slagoffer voel. If you haven’t walked the walk, you cannot talk the talk … ”
In 2006 het sy met motiveringspraatjies begin. Sy praat by kleuterskole, skole en maatskappye oor dinge soos ’n positiewe ingesteldheid. “Dis ’n keuse, nie ’n gevoel nie, en begin by jouself. Eers dan kan jy mense help. By skole leer ek die kinders hoe om jou oë op te pas.” Damon is ’n baie belangrike deel van hierdie geselsies. “Hy doen allerhande toertjies, en so speel-speel leer die kinders sommer ook lewensvaardighede soos respek en waardering.”
Adele het jare lank net van die staat se ongeskiktheidstoelae probeer leef en haar praatjies gratis gelewer. “Maar toe sê die Here vir my: if you sell yourself short, you will be paid short.” Nou vra sy ’n donasie vir haar praatjies, en sy het ook ’n klein onderneming begin wat lugsuiweraars verkoop.
Sy het ook al verskeie groot geldinsamelings vir onder andere die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging gereël. “Dit was my manier om dankie te sê, want my gidshond het my lewe aan my teruggegee.” In 2010 het sy ’n hartaanval gehad, maar deesdae is haar gesondheid goed. “Ek gebruik geen medikasie vir die sklerose nie, behalwe kortisoonbehandeling so een keer elke agtien maande. Herbazone borg my kruie-aanvullings en sedert ek dit gebruik, kyk ek nie terug nie.”
Haar blindheid het haar dankbaarheid geleer. “Ek sê elke dag dankie vir wat ek het, en kyk nie vas in wat ek nié het nie. Ek waardeer my wonderlike familie vir hul opregte omgee en hulp. Ek aanvaar niks meer as vanselfsprekend nie, want môre word nie vir enigeen van ons belowe nie.” Sy glo sy is nog op aarde omdat dit haar passie is om ’n verskil te maak. “Of dit nou is deur te luister, ’n glimlag, of ’n drukkie.”
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.