Naam:
Petro Kotzé, joernalis
Waar ek was:
Mokala Nasionale Park naby Kimberley in die Noordkaap
Beskrywing in een sin:
Ek het die park besoek vir ‘n funksie, en het die geleentheid gebruik om dit van nader te verken
Wie almal daar was:
Dié keer was ek op my eie daar
Wanneer:
September 2012
Waar ek oorgeslaap het:
In die park se hoofkamp, Mosu
Wat het dit onvergeetlik gemaak:
Die natuurskoon is nou maar net mooi. Sonsondergang in die Noord-Kaap is altyd iets om na uit te sien
Wat het jy van die plek of die mense te wete gekom wat jou steeds fassineer:
Die naweek wat ek daar was het die park vir die eerste keer in omtrent 60 jaar renostervoëls gekry om weer in die omgewing los te laat. Die voëltjies het oorspronklik in die area voorgekom, maar is uitgeroei deur gifstowwe wat gebruik is om peste op vee uit te roei. Nou werk die parkbestuur en omliggende boere saam om die voëls weer hier te vestig
Waarheen sou jy wou teruggaan:
Vir nog ‘n nagrit om te sien hoe die son agter die kameeldoringbome sak
Waar bedreigde spesies wandel
Die Mokala Nasionale Park is die jongste van al ons nasionale parke, maar dit mik groot as dit by sake van bewaring kom. Die park word spesifiek ingespan om spesies van ‘n hoë waarde te bewaar, wat dan gebruik word om populasies in ander streke aan te sterk.
Gedurende ‘n rit kan jy enige van die talle skaars spesies in die park, soos die basterhartbees, die skaars bastergemsbok, die swart wildebees of die rare swartwitpens raaksien.
‘n Hele klomp skaars plantsoorte skiet ook hier wortel, soos die Duiwelsklou en hoodia (ook bekend as ghaap). Die park self is na die kameeldoring vernoem, nog ‘n beskermde spesie wat verlore kan raak. As jy weet waarvoor om te kyk, sal jy ook maklik die beskermde Witgat hier sien. En verder het Mokala ook een van die min Witrugaasvoël-broeikolonies in die Noord-Kaap.
Gedurende my besoek het ek net so lekker na van die diere gekyk vanaf die stoep van die park se restaurant – veral met ‘n glasie rooiwyn en ‘n tuisgemaakte wildspastei. Dis nou regte Noord-Kaapse gasvryheid op ‘n bord. Bedien met sagte pampoenpoffertjies in ‘n karamelsous, gekookte spinasie en tuisgemaakte aartappelwiggies is dit ‘n bord kos wat my sommer na die spreekwoordelike plaas laat verlang (al het ek nog nooit op een gebly nie).
Die restaurant kyk uit op ‘n dammetjiie waar van die permanente inwoners van die park gereeld ‘n sopie water kom drink. Ek het my ontbyt saam met ‘n trop buffels geniet, en later die middag drie massiewe skilpaaie op die grasperk gesien.
As jy sou verkies om jou eie ontbyt aanmekaar te slaan het die huisies ook hulle eie, privaat stoepies waar jy in die oggend jou koffie kan geniet. Later die dag, as die son jou rug begin steek, kan jy ook na die swembad toe verskuif om af te koel. Dis reg langs die restaurant – jy kan sommer jou koeldrankie daar lê en drink ook.
Ek het een laatmiddag sommer met my eie kar ‘n sirkelroete deur die park aangepak – en dit was heerlik. Ons is darem maar gelukkig om in ons land met ‘n sedan ‘n pad te kan pak en dan tussen blouwildebeeste, kameelperde en sebras te kan ry.
Die nagritte wat deur die park aangebied word, is egter ‘n belewenis. Mokala se gidse is vol kennis van die omliggende omgewing, plus – hulle vat jou op die paadjies waar jou sedan nooit kan droom om heen te gaan nie, en skink dan boonop vir jou ‘n sjerrie terwyl die son sak.
Kampfasiliteite by die park het so twee jaar gelede oopgemaak, sou jy liewers ‘n tent wou pak. Daar is verskeie ander verblyfopsies beskikbaar.
Vir meer inligting, besoek http://www.sanparks.org/parks/mokala/ ,bel 053 204 0158 of e-pos [email protected]
Foto’s Petro Kotzé